Basiese vereistes vir ’n doeltreffende voerkraal op die plaas

4686
RSG Landbou, voerkraal
’n Voorbeeld van ’n beesvoerkraal, van die kant gesien.

Dit is lankal nie meer ’n nuutjie om voerkrale vol beeste of skape op plase te sien nie. Omdat voerkraalgeriewe baie goed deurdink moet wees om doeltreffend te werk, het Veeplaas by die LNR-Landbou-ingenieurswese, sowel as RCL Foods se Molatek/Epol, aangeklop om meer uit te vind oor die basiese vereistes van ’n plaasvoerkraal.

Francois Swanepoel, senior tegnikus by die Landbounavorsingsraad (LNR), sê die bestuursvlak van enige voerkraal moet baie streng wees om kosteverliese weens lae omsetverhoudings, arbeidvermorsing, swak toerustingkeuse, swak beheer van meganiese prosesse, hoë mortaliteit, en ’n onvoldoende bemarkings- en voedingsbestuurstrategie te voorkom.

Sy-aansig van ’n basiese bees- of skaapvoerkraal.

Toerusting en geriewe is duur om te koop of te bou, maar omdat behoeftes verskil, sal die ideale voerkraal nie vir alle produsente dieselfde lyk nie. “Dit is wel belangrik dat ’n voerkraal alle aspekte van produksie in ag neem. Daarom moet voornemende voerkraaleienaars mooi besin oor watter tipe geriewe hulle benodig,” sê Francois.

’n Goedontwerpte voerkraal

Ekonomies maak dit sin dat die betrokke terrein se uitleg kompak moet wees, asook ordelik en arbeidsbesparend om produktiwiteit en bestuursgerief te bevorder. Die tipe materiaal waarmee die voerkraal gebou word, is ook baie belangrik, net soos die gebruik van nuwe tegnologie om beter vleisgehalte en voeromsetverhoudings teweeg te bring.

voerkraal
Die uitlaaipunt van ’n voerkraal met ’n 30-grade hoek, wat die vloei van lammers na die laaibank aanhelp.

JC Vollgraaff, tegniese adviseur by Molatek/Epol in die Overberg-, Stellenbosch- en Philippi-omgewing, is dit eens dat verskeie aspekte in ag geneem moet word vir die beste resultate.

“Die infrastruktuur van ’n voerkraal verg fyn beplanning, soos om die rigting van heersende winde, reën en sonskyn te bepaal. Krale word gewoonlik in die lengte van die heersende winde gebou om daarteen beskut te wees.”

JC voeg by dat indien die kraal eenkantig is, moet dit verkieslik na die sonkant wys om vinnig af te droog ná reënval. “As ’n voerkraal eenkantig is, word dit gewoonlik aan die sonkant gebou met slegs een voerkant vir die lammers. Sommige krale is wel tweekantig, met die een kant altyd droër as die ander kant, afhangend van die seisoen en omstandighede. En ja, voerkrale kan soms onaangenaam ruik en moet liefs nie naby die huis gebou word nie.”

Goeie dreinering is belangrik in die reënseisoen, en water moet so gou as moontlik uit die kraal kan loop. Modder is ’n broeiplek vir siektes en dit kan diere se groei nadelig beïnvloed. Die kraal moet toeganklik wees om maklik skoongemaak te word.

Voerkrippe en waterbakke

Vir skape moet die voerkrip tussen 25 en 40cm van die grond af wees om goeie innames te verseker, en vir beeste 150mm bo die staanvlak. ’n Betonblad word aanbeveel, sodat die spasie voor die bakke nie uitgetrap word nie en die krippe altyd op dieselfde hoogte bly. Dit maak dit ook makliker om die krippe skoon te hou.

Krippe moet verkieslik ’n kabel of pale hê om te verhoed dat lammers in die krippe klim, maar steeds hul koppe daardeur kan steek om te vreet.

By die waterbakke is ’n goeie, sterk deurvloei van water uiters belangrik. Die bakke moet klein wees, met ’n minimum volume, sodat die water vars en skoon sal bly. Die bakke moet met gemak elke tweede dag, of minstens twee keer ’n week, skoongemaak kan word, omdat vuil waterbakke diere se waterinname beperk, wat weer hul voerinname verlaag en hul groei belemmer.

Vir dreinering tydens skoonmaak, kan ’n kraan aan die onderpunt van die krip geplaas word. Die balklep moet goed beskerm word teen beskadiging. Waterbakke wat lek, of plekke waar dit permanent nat om die bakke is, hou ’n koksidiose-risiko in. Dit is raadsaam om ’n betonblad van 75 tot 100mm dik rondom die krip te lê. Dit moet 2m oor die lang kante en 0,5m oor die kort kante van die krip strek.

Francois en JC is dit eens dat ’n aantal faktore die hoeveelheid water wat vee per dag benodig, beïnvloed. Die tyd van die jaar en tipe weiding speel ’n rol, terwyl die waterbehoefte ook van streek tot streek wissel.

Oor die algemeen drink diere soos volg:

  • Lammers: ± 5ℓ/dag.
  • Ooie: ± 8ℓ/dag.
  • Grootvee: ± 50ℓ/dag.
  • Lakterende melkkoeie: ± 90ℓ/dag.

Geskikte hanteringsgeriewe

Volgens Francois is daar sekere gedragspatrone by diere wat in ag geneem moet word by die beplanning en ontwerp van hanteringsgeriewe. Dit is oor die jare bewys dat goed ontwerpte hanteringsgeriewe, wat die minimum hantering deur mense vereis, gesonder diere met goeie vleisgradering oplewer.

“Die teendeel is egter ook waar. Nalatige hantering kan ’n negatiewe koste-implikasie inhou, waar produksie en vleisgehalte afneem en arbeidskoste styg.”

JC stem hiermee saam. “Dit is ongetwyfeld so dat fisiese beserings tydens die laai- en vervoerproses, asook diere wat onder stres verkeer, die vleisgehalte benadeel. Dit kan fisiese beserings of kneusplekke insluit, wat deur die aanjaagproses veroorsaak kan word, en selfs gebreekte bene en ribbes.”

Hy sê die drie belangrikste aspekte tydens die ontvangs van diere is:

  • Rus (12 tot 24 uur).
  • Hidrasie.
  • Rumen-aanpassing: Om ’n negatiewe energiestatus so vinnig as moontlik af te skud, moet die diere gebalanseerde voeding inkry.

Voerkraalbestuurswenke

JC deel ’n paar wenke vir die doeltreffende hantering van diere in die voerkraal. Voor opname in die voerkraal, sê hy, moet diere binne die eerste dag ná aankoms aan ’n volledige prosesseringsprogram onderwerp word. Hiervoor kan die veearts geraadpleeg word.

Nadat die diere met ’n oorplaatjie geïdentifiseer is, moet hulle teen in- en uitwendige parasiete behandel word. Spuit of ent teen algemene virusse en bakteriese voerkraalsiektes (veral respiratories by beeste en bloednier by skape) in. Hierna is die toediening van ’n oorimplantaat, immunisering, dosering en gereelde weeg baie belangrik, asook enige antibiotiese behandeling soos deur die veearts voorgeskryf.

Ruvoer en/of lang hooi moet deurentyd met prosessering voorsien word. Handel die prosessering rustig, maar spoedig af en verwyder siek en morbiede diere sodat hulle spesiale aandag kan kry.

Voorkom stof en modder, en vermy prosessering of aktiwiteite tydens uiters hoë temperature. Skaduwee-afdakke in ’n oos-westelike rigting is baie doeltreffend om skadu ten beste te benut. Deur die voerkraal teen ’n helling te bou vir goeie dreinering, sal help om probleme soos vrotpootjie te voorkom.

Groepeer diere volgens geslag en gewig om onderlinge kompetisie en sosiale druk te vermy, en volg ’n behoorlike aanpassingstydperk van minstens tien dae, waartydens goeie gehalte hooi beskikbaar is.

’n Vloerspasie van 10 tot 15m2 per bees en 1,5 tot 2,5m2 per skaap is nodig, met ’n kripspasie van 20cm per bees (40cm gedurende aanpassing) en 10cm per skaap (25cm gedurende aanpassing). Twee derdes van dié kripspasie is nodig met ’n kafeteriastelsel. Die hoogte aan die vreetkant moet maksimum 40cm vir beeste en 20cm vir skape wees.

Voerkoste is hoog en goeie voerkripbestuur moet dus toegepas word. Verhoed dat voer natreën en hou krippe skoon om die ontwikkeling van mikotoksiene te keer. Gee minstens twee maal per dag vars voer. In die warm maande is dit veral wenslik om vroegoggend ±30% en vroegmiddag ±70% van die dieet te verskaf.

Ideale droëmateriaalinname deur beeste is 2,5 tot 2,8% en skape 3,5 tot 4% van hul liggaamsgewig ná aanpassing. ’n Skaap se voerkraaldieet moet groeibevorderaars bevat om asidose (suurpens) te bekamp en voeromset en groei te verbeter. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak
Francois Swanepoel by 012 842 4066 of swanepoelf@arc.agric.za,
of JC Vollgraaff by 079 264 7965 of jc.vollgraaff@outlook.com.

orf, skeerpraktyke, lemon