Sedert prestasiegegewens in talle skoubeoordelings in ag geneem word, het teeldiere mooier en skoudiere geneties beter geword. Die internasionaal erkende skoubeoordelaar, Martin Seyfferdt, meen skoue hoef nie ’n stokperdjie te word nie, maar kan aanhou om ’n belangrike rol in die veebedryf te speel.

Martin Seyfferdt met een van die toekennings wat hy as ’n legende van die skouring ontvang het.

Volgens Martin was die skouring vir baie lank die enigste plek waar produsente hul diere met dié van ander telers kon vergelyk, leiding kon kry oor watter diere die mark verkies en kon sien hoe rasstandaarde in die praktyk toegepas word.

“Skoue sal altyd ’n belangrike bemarkingswerktuig wees. Dit is die plek waar jong telers hulle in die bedryf kan vestig en waar gevestigde telers kan sien hoe hulle teelbeleid opweeg teenoor dié van ander telers. Boonop kan ’n skoubeoordelaar nooit op sy louere rus nie. Hy/sy moet ’n student bly en aanhou om by kundiges te leer.”

SA-beoordelaars se internasionale voetspoor

Martin sê die beoordeling van diere op skoue is nie ’n presiese wetenskap nie en was nooit bedoel om dit te wees nie. Dit is net ’n subjektiewe evaluasie van die diere soos hulle op daardie spesifieke dag vertoon en in watter mate hulle voldoen aan die rasstandaarde, soos voorgeskryf deur die telersgenootskappe.

Die meeste Suid-Afrikaanse skoubeoordelaars beskik oor die nodige kennis, ondervinding en integriteit. Dit word weerspieël deur die feit dat beoordelaars wat opgelei is om verskeie veerasse te beoordeel, na internasionale skoue genooi word om daar op te tree.

Só kan hulle help om ander lande se veekuddes te verbeter. Die feit dat vleisbeeste se raamgrootte in Suid-Amerika van reusagtig na mediumgrootte afgebring is, is die gevolg van veral Suid-Afrikaanse beoordelaars wat sulke groot diere op skoue gepenaliseer het.

“Met die koms van betroubare prestasiegegewens en genetiese teelwaardes, behoort die voorkoms en prestasie van diere tydens beoordeling op skoue saam gesien te word. Mooi was nie altyd sleg nie, maar groot skade is aan rasse aangerig wanneer daar oorboord gegaan is met die klem op ’n enkele eienskap.

“ ’n Goeie teler begin sy diere beoordeel as hulle nog kalwers en lammers is, en hou ook hul prestasie fyn dop. Hiervolgens besluit hy watter diere hy aan die keurders van sy ras gaan voorhou om in sy stoetery opgeneem te word. As hy daarin kan slaag om ’n mooi skoukampioen met goeie prestasiesyfers te teel wat uit ’n bewese stamboom kom, het hy sy teeldoelwit bereik,” meen Martin.

Van toeka tot nou

Hy het in 1967 beeste begin beoordeel nadat hy in 1965 by SA Stamboek begin werk het. Daar moes hy kursusse doen om diere van verskillende rasse te kon keur. Mettertyd het hy beoordelaarskursusse in Suid-Afrika, Brasilië, Namibië en Zimbabwe aangebied.

“In die beginjare het beoordelaars nie nodig gehad om redes te verskaf oor waarom hulle die beeste in ’n spesifieke volgorde geplaas het nie. Vet en soms onvrugbare diere was dikwels die wenners,” vertel hy.

Martin was uiteindelik toegerus om 20 verskillende beesrasse te beoordeel. Hy was saam met dr Nico Schutte en Willem Pretorius verantwoordelik vir die opleiding van interrasbeoordelaars. Dié kursus het by Bloemfontein se skou tot stand gekom, waar telersgenootskappe elk twee beeste kon inskryf. Die kursus is later vanaf Bloemfontein na die Vryburg-skou verskuif en word die afgelope 21 jaar by die Nampo-oesdag aangebied.

Nuwe rasse, nuwe gebreke

Volgens Martin het skoubeoordeling veral ’n belangrike rol gespeel toe verskeie nuwe vleisbeesrasse tydens die tweede helfte van die vorige eeu uit Europa, Brittanje en Amerika ingevoer is. “Die rand was toe sterk en veral sakeman-boere wat nie altyd oor die nodige kundigheid beskik het nie, het daar diere gaan uitsoek met gebreke wat nie in Suid-Afrika aanvaarbaar was nie. Van die eerste diere wat ingevoer is, was plat met growwe bene en ’n grootraam-bouvorm.

“Mettertyd het die invoerders plaaslike kenners saamgevat om beter beeste uit te soek. Die diere is met keuring op plase en beoordeling op skoue oor ’n paar dekades verander in aangepaste medium-raam beeste wat hier kan produseer.

“Deesdae maak navorsers groot vordering om genetiese merkers te identifiseer wat aan ekonomies belangrike eienskappe gekoppel is. Hulle kan teelwaardes beraam en self seleksie-indekse opstel, wat die verwagte verhoogde winsgewendheid van meerderwaardige teeldiere se nageslag kan voorspel.”

Mooi lei nie altyd tot wins nie

Martin sê dit sal kortsigtig wees om nie sulke gevorderde wetenskaplike inligting met die beoordeling van skoudiere in ag te neem nie. Voor die syfers beskikbaar geraak het, is diere wat baie min of geen nageslag verwek het nie, op groot skoue as opperste kampioene aangewys.

“Dit sal vandag nie meer maklik gebeur nie, aangesien gegewens soos die ouderdom en tussenkalftydperk van koeie beskikbaar is en die gids in die ring dit aan die beoordelaars verskaf. As al die syfers bevredigend is, word die dier vir funksionele doeltreffendheid beoordeel.

“In die praktyk kom dit daarop neer dat ’n mooi dier wat nie die genetiese eienskappe het om ’n wins vir die boer te bewerkstellig nie, min beteken.”

Die ekonomie dikteer

Sy indruk is dat skoudiere al meer neig na diere wat die afgelope dekade of twee in die Breedplan-klasse en SA Stamboek se Elite-bulklasse vertoon is, waar genetiese eienskappe en funksionele doeltreffendheid ’n vaste persentasie verteenwoordig om die wenner aan te wys.

“Die ekonomie skryf dit voor. Vrugbaarheid is noodsaaklik. Bulle en koeie wat nie vrugbaar is nie, kos die boer net geld en dra nie by tot die winsgewendheid van die boerdery nie.

In die Breedplan-klasse en SA Stamboek se Elite-bulklasse word genetiese eienskappe en funksionele doeltreffendheid teen ’n vaste persentasie verteenwoordig om die wenner aan te wys.

“Vrugbare bulle doen egter hul werk op hul agterbene. As ’n bul ongemaklik is, sal hy die koeie nie so gereeld dek as wat nodig is nie. Veral bulle met té regop hakke sukkel. ’n Mens kan sien of die dier op die veld maksimaal kan produseer deur na die sprong van rib (breedte) te kyk. Die agterkwart moet soos ’n omgekeerde perdehoefyster lyk met die dye as die breedste punt, want dit is waar die duur vleissnitte gedra word,” verduidelik hy.

Balans kraai koning

Martin sê ’n beoordelaar moet die balans in ’n dier kan waarneem. ’n Bees met ’n kort kop het baie selde ’n lang lyf. Daar is ’n verhouding tussen die breedte van die borsvloer en die breedte van die agterkwart. Die lengte van die kop is gewoonlik ook die lengte van die heup na die sitbeen. Hy glo daar sal altyd plek vir skoue wees. “Voerpryse, lone en vervoerkoste het so gestyg dat dit baie duur is om te skou. Skoue is egter nog lank nie net ’n stokperdjie nie, maar ’n deel van vleisbeesboerdery – mits dit reg gebruik word. Die land se skoubeoordelaars is uiters bekwaam, met genoeg integriteit en ondervinding om ’n wesenlike bydrae tot die veebedryf te bly lewer,” sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Martin Seyfferdt by 073 291 2516 of stuur ’n epos aan martin.seyfferdt@gmail.com.