Dieregesondheidstegnici van die landboudepartment in Noordwes, Lebo Mceya en Sephelele Mtimde, toets koeie vir besmetlike misgeboorte op ’n plaas buite Potchefstroom.

Beesbrusellose, oftewel besmetlike misgeboorte (BM), hou deurlopend ’n groot bedreiging vir beesboere oor die land heen in. Dit het ’n negatiewe impak op beesproduksie én reproduksie. Hierdie siekte, wat deur die bakterie Brucella abortus bovis veroorsaak word, is ’n soönose. Dit kom daarop neer dat die mens ook besmet kan word.

Dr Newton Sparks, ’n veearts van die Bergbos-dierekliniek in Rustenburg, sê in ’n inligtingstuk, wat hy aan sy kliënte versprei, dat behandeling daarvan in mense ’n uitdaging is en nie altyd suksesvol is nie. Hierdie inligtingstuk is onder meer gegrond op inligting vanaf die bekende veearts, dr Faffa Malan, en sy eie ondervinding, sê Sparks.

Besmetting

Volgens die inligtingstuk vind besmetting plaas wanneer ’n mens in kontak met besmette diere se vrugwater en nageboorte kom. Die inname van ongepasteuriseerde melk en melkprodukte van besmette diere kan ook tot besmetting lei. Beeste word ook besmet waar hulle aan besmette nageboortes en vrugwater lek. BM het die afgelope paar jaar toegeneem en kan daarom nie geïgnoreer word nie, aldus Sparks.

Dr Chris van Dijk, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum en uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), meen dié staatsbeheerde siekte bly ’n voortdurende probleem in beeskuddes, en met meer diere wat getoets word kan dit voorkom of daar meer positiewe gevalle is, wat nie altyd die geval is nie.

Hy sê die Brucella abortus-kiem word na ’n kudde oorgedra deur ’n dier wat die draer daarvan is. Indien ’n dier in ’n kudde positief toets, word die hele kudde as besmet beskou en onder kwarantyn geplaas, omdat BM ’n lang inkubasietydperk het. Volgens Sparks se inligtingstuk is miskrame die eerste simptoom wat in ’n besmette kudde voorkom (gewoonlik tydens vier tot sewe maande van dragtigheid). Kalwers word ook vroeg of dood gebore, terwyl agtergeblewe nageboortes voorkom. Geswolle, maar nie pynlike gewrigte kan soms in volwasse beeste gesien word.

Inenting

Van Dijk sê daar word wetlik vereis dat alle vroulike diere tussen drie en agt maande geënt word. Verse kan op drie tot agt maande met Stam (S) 19-entstof ingeënt word. ’n Eenmalige enting is nie genoeg nie en moet met ten minste nog twee RB51-entings opgevolg word. Volgens Sparks se inligtingstuk meng die S19-entstof in met die toetsing en moenie aan verse ouer as agt maande toegedien word nie.  Oorblywende wyfies kan met RB 51 ingeënt word, nadat diere wat positief vir brucellose getoets het, van kant gemaak is, sê Van Dijk.

Volgens Sparks se inligtingstuk word hierdie risiko’s verhoog wanneer diere nie teen BM ingeënt word nie. Daarmee saam kan besmetting voorkom as diere uit ’n kudde wat nie getoets is nie, aangekoop word. Daarom is dit belangrik om aan te dring op inentingsrekords en onlangse kuddetoetse van die plaas van oorsprong.

Die verkoper van diere moet ook kan bewys dat die verse ingeënt is en dat die kudde van oorsprong negatief getoets het. Die risiko word ook verhoog wanneer grensdrade nie in stand gehou word nie en vreemde diere by ’n kudde toegelaat word. As ’n kudde weiding met ander diere deel of spekulasie met beeste plaasvind, asook as daar ongereelde toetsing vir BM is, hou dit nog risiko’s in.

Intussen het die landboudepartement verlede Julie ’n beleid vir die beheer van beesbrusellose goedgekeur. Dié beleid is daarop gemik om die breë raamwerk van die siektebestrydingstrategie wat vir beesbrusellose gevolg word, uit een te sit.

Vir meer inligting, skakel dr Van Dijk by chris@mpo.co.za, of dr Sparks by 014 533 1059 of sparkscn@bergbosvet.co.za. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit