Die vraag kan met reg gevra word of die voorkoms van beesbrusellose buite beheer is, soos onlangs in mediaberigte gerapporteer is. In ’n tyd waar siekte-uitbrekings die nuus oorheers, is dit nodig om beesbrusellose in perspektief te stel.

Beesbrusellose is nie ’n siekte wat net vinnig kom en gaan nie. Daar is baie spesifieke redes daarvoor wat verstaan moet word, en die voorkoms en verdere verspreiding van die siekte behoort prioriteit by staatsveterinêre dienste en die beesbedryf te geniet.

Dit is belangrik om te besef dat beesbrusellose na mense oordraagbaar is en daarmee saam die voortbestaan van ’n vleis- of melkbeeskudde kan vernietig. Die basiese beginsels omtrent die siekte word dikwels nie deur beesboere verstaan nie en gevolglik word dit nie as een van die grootste bedreigings vir die bedryf beskou nie.

Siekte-ontwikkeling

Die eerste beginsel is dat ’n besmette bees vir die res van sy lewe die siekte sal dra en dus vir ander beeste en mense besmetlik sal wees. Dit is daarom belangrik om te verstaan hoe die siekte in die bees ontwikkel.

Die intrasellulêre organisme wat beesbrusellose veroorsaak, het ’n baie unieke siekte-ontwikkelingsproses. Die organisme dring sekere witbloedselle binne, en verdeel en versprei dan verder deur die liggaam na die limfknope. Die organisme het ’n verdere aantrekking vir die selle in die uier en baarmoeder. Die selle produseer ’n stof wat die organisme se verdeling verder aanhelp, veral by dragtige of lakterende koeie. Dit is waarom die eerste tekens van ’n nuwe besmetting aborsies is.

Nadat ’n koei geaborteer het, sal sy ’n mate van immuniteit ontwikkel, maar sy sal vir die res van haar lewe besmet bly. So ontstaan die draertoestand wat daartoe aanleiding gee dat siekteveroorsakende organismes vir die res van die dier se lewe uitgeskei word.

Tans is daar geen behandeling vir besmette beeste nie, maar mense kan deur die toediening van ’n antibiotikakursus oor die lang termyn suksesvol behandel word, mits die siekte vroeg gediagnoseer is.

Siektevoorkoming

Die tweede beginsel is dat die siekte en die gevolge wat dit inhou, net 100% voorkom kan word deur te verhoed dat besmette diere met ‘skoon’ diere in aanraking kom. Dit verg die toepassing van ’n doeltreffende biosekuriteitsplan.

Beesboere wie se kuddes jaarliks getoets word en vry van die siekte is, beskou dit as ’n besonderse status onder die huidige omstandighede waar die siekte so wydverspreid voorkom. Die meeste stoetkuddes geniet hierdie siektevrye status. Die feit is dat stoet- en selfs kommersiële diere nie verkoop mag word indien hulle nie ’n siektevrye status het nie. Diere waarvan die status nie bekend is nie, moet ook nie ingekoop word nie.

Inenting van vervangingsverse

’n Derde beginsel het te make met inenting – hoe doeltreffend die entstof is en watter beperkings daar rondom die gebruik van die entstof is.

Die S19-inenting van verskalwers tussen die ouderdom van vier en agt maande, kan onder spesifieke omstandighede tot 95% doeltreffend wees in die voorkoming van die siekte. Die inenting van onbesmette diere (vervangingsverse) berei die immuunstelsel voor vir moontlike blootstelling aan die organisme.

Navorsing het bewys dat inenting teenliggaampies produseer wat oor ’n lang tydperk binne die bees sirkuleer. Die teenliggaampies beveg die organisme voordat dit die selle binnedring en begin verdeel. Sodra die organisme egter binne die selle (intrasellulêr) vestig, is die teenliggaampies se beskerming nie meer doeltreffend nie.

’n Beperking is dat die S19-entstof en die teenliggaampies wat dit produseer, met die uitslae van bloedtoetse kan inmeng en daarom word dit net tussen vier en agt maande toegedien.

Die entstof speel dus ’n groot rol in die beskerming van ’n siektevrye kudde, maar ook om onbesmette diere in ’n besmette kudde te beskerm, wanneer die siekte uitgeroei moet word. In dié geval word daar van die RB51-entstof gebruik gemaak, omdat dit nie die bloedtoetse wat besmette diere identifiseer, beïnvloed nie. 

Ter afsluiting

Hierdie artikel het bloot geraak aan die kompleksiteit rondom die beheer van beesbrusellose. Daar is nog baie ander faktore en beginsels om in ag te neem, waarvan die toets en uitslag van diere in besmette kuddes uiters kompleks is.

Beesbrusellose kan slegs voorkom en beheer word indien daar met ’n aangewese kuddeveearts, wat alle voorkomende en beheermaatreëls in ag neem, saamgewerk word. Die staatsveterinêre dienste moet ook doeltreffend funksioneer, deur te verseker dat daar op ’n wye basis vir die siekte getoets word en dat uitroeiing binne besmette kuddes wel gebeur.

Die sentrale boodskap is dat ons nie met die siekte kan saamleef nie en dat die beheer van hierdie komplekse siekte in die openbare belang is. – Dr Danie Odendaal, direkteur, Veeartsnetwerk

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Danie Odendaal
by vnet@absamail.co.za.