Beesbrusellose in Suid-Afrika was eens op die punt om uitgeroei te word, maar omdat talle vee-eienaars nie hul verpligtinge nagekom het nie, het dit weer gegroei tot een van die ernstigste veesiektes in die land.

Die siekte is in die vroeë 1900’s in Suid-Afrika geïdentifiseer en in 1969 het die staat se veeartsenydienste besluit om dié siekte hok te slaan deur verskalwers in te ent, kuddes te toets en geïnfekteerde beeste te slag. Oor die volgende twintig jaar is goeie vordering gemaak en beesbrusellose het merkbaar afgeneem.

In die laat 1980’s was die siekte so te sê uitgeroei en is die verantwoordelikheid van inenting en toetsing weer aan veeprodusente oorgelaat. Omdat hulle nie dié verantwoordelikhede getrou nagekom het nie, het beesbrusellose begin versprei. Vandag is die siekte weer buite beheer en moet daar amper van vooraf begin word om dit te bestry.

Nuwe bewusmaking

Dr Alicia Cloete, ’n staatsveearts by die Direktoraat van Dieregesondheid van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, sê die afgelope paar jaar is verskeie dokumente, artikels, pamflette, radio- en TV-onderhoude versprei, met die doel om beesprodusente bewus te maak van die siekte.

Die nasionale veterinêre strategie het aangedui dat die Beesbruselloseskema wat in 1988 gepubliseer is, hersien moet word. In ’n poging om die siekte weer onder beheer te kry, is die hersiene beleid verlede jaar gepubliseer.

Volg dié skakel om meer oor die Beesbrusellose-beheerbeleid te lees of dit af te laai:

Doelwitte van die beleid

Dr Cloete sê die beleidsdokument fokus op sewe doelwitte. Meer omvattende implementeringsplanne word vir elk ontwikkel. Dié doelwitte is:

  • Inenting: Minder as 15% van verskalwers word jaarliks ingeënt en ’n mikpunt van meer as 80% moet behaal word.
  • Opleiding en opvoeding: Bewusmaking oor die erns van die siekte sal verdere produksieverliese in beeskuddes en siekte-oordrag na mense bekamp.
  • Toetsing: Verpligte toetsing van alle beeskuddes is nodig om negatiewe kuddes asook positiewe kuddes wat in kwarantyn geplaas moet word, te identifiseer.
  • Bewegingsbeheer: Kuddes moet getoets word voordat diere geskuif word (bv. na veilings, skoue of abattoirs).
  • Slagting: ’n Handleiding oor die korrekte en veilige slag van brusellose-positiewe beeste is nodig om abattoirpersoneel te beskerm. Beeste wat korrek geslag is en waarvan die karkasse gehang is sodat die pH voldoende verlaag om brusellosebakterieë te vernietig, se vleis is veilig vir menslike gebruik.
  • Aanmelding: Meer voldoende en akkurate aanmelding van toets- en inentings na ’n sentrale databasis word benodig.
  • Doeltreffende implementering van beheermaatreëls: Verbeterde strategieë is nodig om veeboere regoor die land te bevoordeel.

Verpligte toetsing

Bestaande wetgewing verplig produsente om hul kuddes te laat toets as daar positiewe diere is of as daar vermoed word dat die kudde brusellose mag hê, byvoorbeeld wanneer beeste skielik begin aborteer, as beeste van ’n positiewe kudde aangekoop word, of as die plaas grens aan eiendom wat in kwarantyn is.

Dr Cloete sê dat verpligte toetsing van kuddes in die toekoms nodig is om die siekte onder beheer te kry. Daar sal met veeprodusente en ander rolspelers gekonsulteer word ten einde ’n volhoubare implementeringsplan te ontwikkel.

In gevalle waar ’n kudde positief toets, sal streng maatreëls ingestel word. Volgens wetgewing mag vatbare diere nie in, deur of vanaf ’n eiendom onder brusellosekwarantyn beweeg nie. Selfs wanneer sulke diere na die abattoir vervoer word, moet die eienaar in besit wees van ’n Rooikruispermit.

“Beeste wat negatief toets maar deel van ’n geïnfekteerde kudde is, mag nie geskuif word voordat die kwarantyn deur die staatsveearts gelig is nie,” verduidelik dr Cloete.

Die pad vorentoe

Sy sê dat daar nog baie water in die see moet loop voordat beesbrusellose weer onder beheer sal wees. “Die beheer van beesbrusellose vereis dat veeartsenydienste, die veebedryf en veeboere almal moet hande vat. Ons moedig alle rolspelers aan om die Beesbrusellose-beheerbeleid te lees en om aan openbare kommentaargeleenthede deel te neem wanneer implementeringsplanne opgestel word. Intussen moet die huidige wetgewing toegepas word.”

Sy voeg by dat veeprodusente hul verantwoordelikhede moet nakom indien hulle hierdie siekte wil uitroei. Alle verskalwers tussen vier en agt maande oud moet met ’n geregistreerde S19- of RB51-entstof ingeënt word.

“Koop slegs diere wat afkomstig is vanaf kuddes wat negatief vir brusellose getoets het en dring aan op ’n verklaring met toetsresultate,” is haar raad. “Moenie toelaat dat jou vee met positiewe of ongetoetste vee in kontak kom nie. As jy vee aankoop, is dit altyd beter om hulle te isoleer en self te toets vir siektes soos brusellose, voordat hulle met die res van die kudde meng.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Alicia Cloete by AliciaC@dalrrd.gov.za.