“Kyk hoe hy ’n wilde trop beeste deur die gebergtes bring, waar geen perd sy voete kan vind nie. Hy hap na die leiers van die trop, wat dan gehoorsaam teen die pad op beweeg. Kyk hoe bring hy honderd melkkoeie uit die heuwels na hul melkstalle. Hierdie is sonder twyfel God se honde.”

Só skets Robert Kaleski Australiese beeshonde in sy boek, Australian Barkers and Biters, en met goeie rede. Dié honde is volgens telers sinoniem met die ideale metgesel en vennoot – gehoorsaam, beskermend, versigtig, lojaal en dapper – ’n lewende voorbeeld van hoe instink in die natuur behoue bly, ten spyte van jare se intensiewe teling.

’n Kleurryke geskiedenis

Die werks- en herdershonde wat tydens die vroeë kolonisasietydperk in Australië aan inwoners bekend was, het oor tyd bewys dat hulle nie vir die uiterste klimaatstoestande gepas was nie. ’n Boer, Thomas Hall, het toe in 1840 ’n paar gladdehaar Highland-kolliehonde van Skotland ingevoer, wat hy toe met die dingo, ’n wildehond eie aan Australië, gekruis het. Hierdie kruising het honde geproduseer wat as Hall’s Heelers bekend gestaan het en in daardie stadium ’n reuse verbetering was op enige ander beskikbare werkshonde.

In die 1870’s het die Bagust-broers twee Hall’s Heelers gekoop en hulle met ’n ingevoerde Dalmatiese hond gekruis, met die bedoeling om lojaliteit en ’n liefde vir perde in die ras te vestig. Met hierdie kruising het heelwat van die honde se werksvermoë egter verlore gegaan. Die broers, wat die werksvermoë van die Kelpie-skaaphond bewonder het, het toe dié ras ook by hul mengsel gevoeg en op dié wyse die voorloper vir vandag se Australiese beeshond geteel.

Die ras se eerste kennismaking met Afrika was toe ’n beesboer in die 1930’s ’n paar van die honde na Botswana ingevoer het.

Intelligensie en instinkte

Volgens ’n beeshondteler van Pretoria, Helen Lachenicht, maak dié ras se intelligensie en kombinasie van instinkte van die dingo en herdershonde, sowel as hul sterk bouvorm, spoed en ratsheid, hulle die ideale honde om met beeste te werk. Die honde het ’n kort, relatief lae-onderhoud pels en is gedrewe om hul werk gedoen te kry.

In sy boek skryf Robert Kaleski met bewondering van dié honde se werksetiek. Hy noem dat die honde baie slim te werk gaan wanneer hulle beeste aankeer – hulle byt eers die hak wat op die grond is, sodat hulle tyd het om uit die pad te kom voordat die beeste kan skop. Die honde het ook mettertyd bewys dat hulle ’n harde skop teen die kop sonder enige skade kan oorleef.

Veelsydige honde

Helen sê hulle is veelsydige honde. “ ’n Vriend van my wat by ’n perdestoet gewerk het, het vertel van ’n beeshond wat moeilike perde met min moeite in die sleepwaens kon kry.”

Soos met enige suiwer honderas, is daar spesifieke gesondheidskwessies waarop beeshondtelers moet let en voor laat toets. Sekere ernstige oorerflike siektes van die 1980’s het oor die jare vererger. ’n Spesifieke voorbeeld is PRA-prcd, ’n siekte van die retina, wat tot blindheid van so vroeg as drie jaar kan lei. Heupdisplasie en elmboogdisplasie kom ook gereeld voor by die ras en vandag toets heelwat telers ook vir DISH, ’n spinale siekte wat al hoe meer kop uitsteek.

Die Dalmatiese hond was die oorsaak van doofheid by die ras en etiese telers sal alle hondjies ouer as agt weke vir doofheid laat toets. Volgens Helen het doofheid daartoe bygedra dat die ras gereeld hardkoppig en dom genoem word. “Maar jy kan tog nie van ’n dowe hond verwag om te luister nie,” sê sy.

Jou beste vriend

Die honde is buitengewoon veelsydig. Behalwe vir hul uitstekende werksvernuf, is hulle ook goeie metgeselle. “Hulle het ’n goeie sin vir humor, maar is ook uitsonderlike lyfwagte.” (Helen kies hierdie woord met opset bo “waghond”). Sy noem ook dat die honde ’n aanvoeling vir wapens het wat hul eienaars kan leed aandoen en dat hulle sterk op enige soort stok reageer.

Die honde is agterdogtig teenoor vreemdelinge, maar sodra hulle gereelde besoekers leer ken, sal hulle die mense nie gou vergeet nie. Hulle is ook fantasties met babas en klein kindertjies.

Helen noem dat toe die geweld in Suid-Afrika toegeneem het, sommige telers beeshonde vir aggressie geteel het, wat daartoe bygedra het dat die honde as problematies deur veeartse en dokters beskou word. Hulle is instinktief oorbeskermend teenoor hul eienaars.

Sienings dat hulle hardkoppig is en moeilik is om op te lei, is deur kliek-opleiding verander. Die honde reageer uitstekend op die konsep van leer in teenstelling met kwaai opleidingsmetodes. Die ras het uiteraard hoë energievlakke en as hulle nie aan werk blootgestel word nie, moet hulle gestimuleer en besig gehou word om ongewenste gedrag te voorkom.

Op ’n plaas in Wyoming

Die ras word steeds baie suksesvol in beesboerderye gebruik. Gwen Shepperson van Buffalo Creek Ranch beeshonde in Wyoming, Amerika, sê: “Ons is ’n afgeleë veeboerdery in Sentraal-Wyoming. Ons boer met ’n kommersiële Angus-kudde op meer as 100 000ha, wat ruig en ongelyk is. Ons honde is ons werkers – ons maak nie van enige hulp van buite gebruik nie. Die honde werk met kalwers sowel as bulle wat meer as ’n ton weeg, op alle soorte terrein, in enige weerstoestande. Ons help ook gereeld naburige boere.”

Gwen se fokus as teler is op die korrekte fisiese struktuur, temperament en natuurlike vermoë om te werk. “Ek dink kleurgenetika en temperament kan baie moeilik wees om reg te stel. Ek vermy honde met ’n baie gematigde temperament, want hulle is gewoonlik nie so selfversekerd wanneer hulle met die beeste werk nie.

“Ons honde is egter deel van ons familie, sowel as ons werksvennote. Dit is daarom vir my belangrik om honde te hê wat gefokus en vasberade is wanneer hulle werk, maar ook aangename metgeselle wanneer ons nie werk nie, veral met kinders.”

Australiese beeshonde word in variasies van blou of rooi aangetref en kom ook in ’n stompstert-variant voor. Hierdie honde word sonder sterte gebore omdat hulle afkomstig is van die Smithfield, ’n natuurlike kortstert-hond wat met die dingo gekruis is.

Wat sê ’n eienaar?

Karen van Tonder, ’n perde-afrigter van Klerksdorp, sê: “Ek het al met verskillende honderasse te doen gehad, maar geen ras het aan my behoeftes voldoen soos die beeshonde nie. Annie is baie agterdogtig wanneer daar ’n vreemde persoon by die stalle is, maar reageer goed wanneer ek haar gerusstel. Sy is ook fantasties met kinders.” – Elmarie Helberg, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Helen Lachenicht by 082 619 8599 of stuur ’n epos aan helenlachenicht@gmail.com.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here