Hoewel knopvelsiekte en vratte totaal van mekaar verskil, word die twee toestande tog soms verwar. Albei toestande word deur virusse veroorsaak, maar knopvelsiekte word deur ’n virus in die pokkevirus-familie (capripox-virus) veroorsaak, wat beteken dat dit ’n baie stabiele virus met min genetiese verskille is. Daarom kan goeie en langdurige immuniteit teen die siekte ontwikkel word.

Daarteenoor word vratte by beeste veroorsaak deur ’n papillomavirus waarvan daar baie stamme is. Aangesien dié virus hoofsaaklik die oppervlakkige epiteellaag van die vel aantas, is dit aanvanklik tot ’n mate verskans teen die ontwikkeling van beskermende immuniteit omdat die immuunstelsel dit nie “raaksien” nie.

Om dinge nog verder te kompliseer, is daar ’n derde toestand wat ook soms met knopvelsiekte verwar word – skynknopvelsiekte, wat deur die Allerton-virus (’n herpesvirus) veroorsaak word.

Knopvelsiekte (links) veroorsaak dik knoppe op ‘n dier se vel, terwyl vratte (regs) gekenmerk word deur oneweredige groeisels op die vel.

Knopvelsiekte

Knopvelsiekte word op verskeie manière oorgedra, maar bytende/stekende insekte bly die belangrikste draer. Die inkubasietydperk is sowat twee weke, waarna knoppe op die vel oornag verskyn.

Die knoppe is so dik soos die hele vel. As dit tussen ’n mens se duim en wysvinger vasgevat word, kan dit nie opgelig word soos ’n normale, gesonde vel nie omdat dit met die weefsel onder die vel verbind is. Die dier wys ook algemene siektetekens soos koors, moeilike beweging en ’n verlies aan eetlus.

Die enigste langtermynbeheer van knopvelsiekte word verkry deur die inenting van beeste, wat tot goeie beskermende immuniteit lei. Beeste wat nie ingeënt is nie, kan wel oor die kort termyn beskerm word deur weeklikse dip met ’n dipstof wat bytende/stekende insekte beheer. Jaarlikse inenting of ’n skraaginenting word benodig in gevalle waar die risiko hoog is of as ’n uitbreking voorkom.

Vratte

Vratte, wat deur die papillomavirus veroorsaak word, dring die vel deur klein wondjies binne. Vratagtige groeisels word dan veroorsaak, wat aanvanklik soos ’n klein, haarlose groeisel lyk en dan oor ’n lang tydperk (weke) vergroot en ’n oneweredige groeisel word wat ’n vrat genoem word.

Vratte kom die algemeenste by kalwers voor. Die virus word direk uit die omgewing of deur direkte kontak met diere wat reeds aangetas is, oorgedra. Hoewel vratte gewoonlik ná ’n paar maande self verdwyn, kan uiterste gevalle wel voorkom by diere waarvan die immuunstelsel verswak is.

Die diagnose van vratte word op die verskyning van die tipiese letsels gebaseer.

Dit kan egter soms in die vroeë stadium met Dermatophilus-infeksies, ’n korsagtige roof, verwar word. ’n Vrat wat besig is om te ontwikkel, kan met ’n tang geknyp word totdat dit bloei. Dit veroorsaak dat die virus vinniger blootgestel word aan die liggaam se immuunstelsel vir vinniger ontwikkeling van beskermende immuniteit, wat die vratte sal laat opdroog en afval.

Skynknopvelsiekte

Die Allerton-herpesvirus veroorsaak veral in die somer ’n velaandoening by beeste. Soos met knopvelsiekte, word die virus ook deur bytende insekte versprei. In hierdie geval het die letsels egter die ronde, plat vorm van ’n muntstuk en daar is geen gepaardgaande sistemiese simptome nie.

Die velletsels verdwyn vinnig vanself sonder enige behandeling sodra die immuunstelsel beskermende immuniteit ontwikkel. Die uitsondering is egter letsels op die spene van melkkoeie, wat probleme tydens melking kan veroorsaak.

’n Diagnose word op die tipiese voorkoms van letsels gebaseer, maar die virus kan ook deur middel van ’n vel-biopsie geïsoleer word om dit van knopvelsiekte te onderskei.

Vir meer inligting, kontak die outeur by vnet@absamail.co.za. –Dr Danie Odendaal, Veeplaas