Op ‘n vraag oor of daar rede tot hoop is dat die vraagstukke rondom landbou en grondeienaarskap in die land opgelos kan word, het dr Ferdi Meyer, hoof van BFAP oftewel die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, gesê hy is positief dat daar wel oplossings gevind sal word. Meyer was die gasspreker tydens die RuVASA-kongres in Umhlanga Rocks.

Daar is baie goeie begrip vir die situasie op die grond, het hy gesê, maar die algemene publiek word nie goed genoeg ingelig oor die oplossings wat wel op die tafel is nie.

Dr Trish Oglesby, voorsitter van RuVASA, by dr Ferdi Meyer van BFAP. Hy was die gasspreker tydens die RuVASA-kongres in Umhlanga Rocks.

Grond versus geld

“Ons het nie ‘n grondprobleem nie. Ons het genoeg grond. Die knelpunt is geld en die gewilligheid om uitvoer te gee aan oplossings. As jy na die Motlanthe-verslag kyk, wat ‘n interne regeringsverslag is, word die knelpunt duidelik uitgespel. Dit gaan nou daaroor om hande te neem en vorentoe te beur. Ons kan nie wag nie en elkeen sal sy deeltjie moet bydra.

“Daar is oplossings en die binnekringe in die regering sien daardie oplossings raak. Dis nou om die politiek uit die pad te kry en daardie oplossings aktief te dryf.”

Daar gaan binne die volgende ses tot twaalf maande groot vordering gemaak word in die jaag na hierdie oplossings, het hy gesê. Tot met die verkiesing was dit nie moontlik nie, maar die tafel is nou gedek. – Izak Hofmeyr, Plaas Media