Geskryf deur dr Hanré Ferreira, Afrivet

In sommige dele van die land is dit heeljaar somer. Produsente in dié gebiede weet dat hulle dwarsdeur die jaar met wurms moet rekening hou, veral haarwurm. Dit geld soveel meer wanneer daar hitte, reën of besproeiing is. In dele waar dit kouer word, is wurms nie ’n probleem in die winter nie.

Die haarwurmlarwe kan egter uiterste koue toestande weerstaan. Die larwes kan nie vreet nie en vrek wanneer hul opgeboude energie opgebruik is. Hulle gebruik in die winter baie minder energie as in die somer, wanneer hulle meer aktief is. Dit beteken dat die larwes dus in die winter langer bly leef.

Gewoonlik vrek die larwes ná ses maande op weiding, maar sommiges kan selfs langer as ’n jaar en in sneeu oorleef. Warm, droë toestande met temperature bo 35°C sal die meeste larwes binne twee maande laat vrek.

Pasop vir lente-besmettings

Die winter en vroeë lente is dus nie ’n tyd wanneer daar noodwendig ’n veilige vlak van besmetting met spesifiek larwes op weiding is nie. Skape word selfs in die winter en lente met larwes uit die vorige haarwurmseisoen besmet.

Skape kan dus in die winter en vroeë lente reeds besmet wees met larwes wat op die weiding oorleef het. Indien die temperature styg en reën val, sal die eiers wat oorleef het weer besmette larwes vrystel.

In eiertellings wat oor die hele Suid-Afrika gedoen is, kon juis dit gesien word. Sommige diere hou aan om selfs in die winter wurmeiers uit te skei en ander se tellings styg blitsig ná die winter.

Larwes se rusfase

Die rusfase waarin haarwurmlarwes in die skaap se weefsel ingaan, speel ook ’n rol in die vroeë lente. Daar word gespekuleer dat larwes wat in die winter ingeneem word en hipobiose ondergaan, weer geaktiveer word sodra die toestande en skape se voedingsvlakke verbeter.

Vir goeie beheer, moet produsente reeds voor die tipiese haarwurmseisoen hul planne en aksies gereed kry.

Toediening van die haarwurmentstof Wirevax G4200, wat weidingsbesmetting met 80 tot 90% verlaag deur immuniteit teen haarwurm in die skaap te vestig, moet reeds voor die seisoen begin.

Belangrike bestuursaspekte

Bestuursaspekte vir wurmbeheer in die lente en die haarwurmseisoen wat voorlê, sluit die volgende in:

  • ’n Wurmbeheerprogram wat gereeld aangepas word om met die seisoenale verskille tred te hou. ’n Kudde wat met Wirevax teen haarwurm ingeënt is, sal veel minder doserings benodig, terwyl skape wat nie ingeënt is nie meer dikwels gedoseer moet word. Hou jou kudde dop en pas jou program daarvolgens aan.
  • ’n Weidingsbestuurprogram wat sal verseker dat die kampe ’n laer risiko het vir besmettings. Laat rus die kampe lank genoeg, en onthou dat dit verband hou met die temperatuur en vogtigheid. Wissel die weidings af met beeste of perde. Skape wat met Wirevax ingeënt is, skei 80 tot 90% minder eiers uit.
  • Plaas nuut aangekoopte skape of bokke in kwarantyn. So sal jy die risiko om weerstandige wurms in te koop, verklein. Doseer die diere met ’n nuwe generasie ontwurmingsmiddel wat derkwantel of monepantel bevat. Doen eiertellings op die diere voordat hulle in die kudde toegelaat word. Indien jou kudde met Wirevax ingeënt is, sal dit raadsaam wees om ook hierdie diere in te ent om hul immuniteit op te bou en die kans vir die verspreiding van weerstandige wurms te verlaag.
  • Doseer vir die regte parasiet op die regte tyd. ’n Lewerslak-besmetting kan bv. met ’n haarwurm-besmetting verwar word indien slegs na kwakkele en oogslymvliese gekyk word. Doen wurmeiertellings en laat doen nadoodse ondersoeke indien vrektes voorkom.
  • Gebruik doeltreffende doseermiddels. Doen ’n miseierreduksietoets om te bepaal of die middel wat jy gebruik steeds doeltreffend is.
  • Doseer slegs diere wat werklik ’n dosering benodig. Gebruik die Famacha-stelsel. Skot diere uit wat gedurig of reeds vroeg in die seisoen doserings moet ontvang. Selekteer só vir geharde diere.
  • Stimuleer diere se immuunstelsel om haarwurmbesmettings te beperk deur die haarwurmentstof te gebruik. Die belangrikheid van spoorelemente en minerale moet ook in ag geneem word vir ’n gesonde immuunstelsel. Sink en selenium is veral belangrik vir enige immuunreaksie. Mondelinge aanvullings word maklik toegedien by skape, bv. Ovimin (V24722).

Die haarwurmentstof word sedert 2014 in Australië en sedert 2016 in Suid-Afrika gebruik. Dit is belangrik dat die entstof korrek toegedien word. Hou dus by die voorgeskrewe inentingskedule.

Vir meer inligting, kontak die naaste veearts of Afrivet-agent, of laai die Wirevax-toepassing af. Skakel Afrivet by 012 817 9060 of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here