Die gehalte en hoeveelheid water is ’n groot faktor by die beheer van hittestres.

In Suid-Afrika word die somermaande gekenmerk deur geweldige hitte en mense in warm streke het al geleer om dié tyd van die jaar soggens vroeg op te staan en soveel moontlik van die dag se werk af te handel, voordat die ergste hitte sy opwagting maak. Dit laat ’n mens egter ook wonder hoe warm diere moet kry, aangesien hulle dikwels die hele dag in die bloedige son moet staan.

Dr Heinri Spangenberg, ’n professionele veekundige van Scipro Animal Science Konsult en Wesfed Veevoere, verduidelik dit kleurvol as hy sê ’n volwasse koei het 2,5 keer die energiebehoefte van ’n man wat ’n marathon van 42km hardloop. Sy hardloop dus elke dag 2,5 marathons en diegene wat al die lang pad aangedurf het, sal weet ’n mens drink baie meer water op so ’n dag. “Ek dink om ’n idee te kry wat hierdie koeie ervaar, moet ’n mens op ’n warm dag ’n lekker dik kombers om jou draai en ’n paar keer om die kamp hardloop,” sê hy.

Produsente moet die nodige maatreëls tref om hittestres tot die minimum te beperk by diere wat daagliks aan erge hitte blootgestel word.

Dr Heinri Spangenberg is ’n kenner op die gebied van hittestres onder beeste by melkerye en voerkrale.

Faktore wat hittestres verhoog

Dr Spangenberg verduidelik dat alle warmbloedige spesies negatief beïnvloed word deur uiterste weerstoestande en temperature, hetsy hitte of koue. “Wanneer erge hitte egter boonop met hoë humiditeit gepaardgaan en koue met wind, reën of stofstorms, is diere se stresvlakke soveel hoër. Die afstande wat hulle moet stap, is ook ’n groot faktor wat stres die hoogte laat inskiet.

“Die algemene siening is dat diere wat in kleiner oppervlaktes aangehou word, soos melkerye en voerkrale, aan erger hittestres blootgestel word. Diere in ekstensiewe toestande is egter aan net soveel hittestres blootgestel as diere in intensiewe toestande. Die enigste verskil is dat diere in ekstensiewe toestande nie aan dieselfde produksievereistes as diere in intensiewe voerkraal- en melkerytoestande onderworpe is nie.”

Hy vertel dat hy al gesien het dat melkerye wat meer as een dag hoë temperature of ’n hoë temperatuur-humiditeitsindeks (THI) beleef, astronomiese verliese aan melkproduksie ervaar. “Hoog-produserende kuddes kan afnames van tot ses liter per koei toon in kort maar hoë strestydperke en afnames van meer as ses liter in lang tydperke van hittestres.”

Tekens van hittestres

Dr Spangenberg sê tekens waaraan gesien kan word dat diere se hittestres hul produksie laat afneem, is onder meer:

  • ’n Afname in melkproduksie.
  • ’n Afname in diere se liggaamskondisie.
  • Akute gesondheidsprobleme.
  • ’n Duidelike afname in dragtigheid.
  • ’n Hoë voorkoms van aborsies.
  • ’n Hoë vrektesyfer.
  • Subkliniese en kliniese rumen-asidose of suurpens.

Oppas vir suurpens

Hy sê suurpens kan ’n groot probleem in ’n kudde wees as voeding nie korrek bestuur word in die warm somermaande nie.

“Elke roumateriaal of voerkomponent het ’n inherente hitte-indeks en ruvoer sal byvoorbeeld meer hitte genereer in die fermentasieproses as kragvoer. Die tradisionele boodskap is om diere se dieet meer dig te maak, met ander woorde om minder ruvoer en meer konsentraat of meer vette te voer. Wees egter versigtig, want dit kan tot suurpens lei.

“Daar moet gepoog word om die neutraal-bestande vesel (NDF)-vlak in die dieet konstant te hou en meer hoë-vesel vullers soos koringsemels te gebruik, met slegs ’n effense verlaging in laag verteerbare ruvoer. Dit sal voorkom dat die rumen-pH te laag daal en suurpens veroorsaak.”

Navorsing het getoon dat die afname in droëmateriaalinname (DMI) van koeie onder hittestres wel herstel, maar die afname in melkproduksie herstel nie so gou nie. Uier- en spierweefsel vereis meer energie tydens hittestres en daarom word die herstel in DMI grootliks vir hierdie behoefte gebruik, ten koste van melkproduksie. Diere het meer energie en spesifiek glukose nodig tydens hittestres om die melkproduksie normaal te hou.

Rumen-asidose

Die volgende kan gedoen word om rumen-asidose te voorkom:

  • Maak seker die voeding is gebalanseer vir aminosure en veral voldoende metionien.
  • Gebruik ’n ionofoor soos monesien, wat die propioonsuur verhoog en meebring dat laasgenoemde in die lewer omgeskakel word na glukose.
  • Gebruik voedingstowwe wat die are wyer maak en so afkoeling veroorsaak.
  • Middels soos koeksoda, wat die verlies aan bikarbonaat aanvul, kan die pH stabiel hou om suurpens te voorkom.
  • Genoeg kalium in die dieet om die verlies in sweet aan te vul.
  • Gebruik rumenbeskermde vette en rumenspesifieke gis.

Bekamping van hittestres

Dr Spangenberg sê die volgende faktore moet in ag geneem word om hittestres te bekamp:

  • Water: Water is een van die grootste faktore wat beskikbaar moet wees om hittestres te bekamp – maar nie net vir verkoeling nie. Dit is ook ’n belangrike deel van die dier se dieet. Water is die belangrikste voedingstof en as beeste skoon, vars en voldoende koel drinkwater kry, sal koeie se waterinname met tot 20% verhoog tydens hittestres. Die duimreël is dat ’n koei onder normale temperature vier keer haar melkproduksie aan water moet inneem en meer in die warm somermaande.
  • Stof: Stof het ook ’n groot invloed op die stres wat diere ondervind. Dit kan ’n dier se lugweg affekteer en tot moontlike infeksies lei. Met stofstorms daal diere se droëmateriaalinname ook baie. Boere word dus aangeraai om stof tot die minimum te beperk, veral by melkerye en voerkrale.
  • Modder: Modder, veral in gebiede waar die diere gaan sukkel om by die vreetarea uit te kom, sal ook die impak van hittestres verhoog. Dit veroorsaak gewoonlik ’n afname in die DMI en derhalwe ’n afname in die produksie. Die humiditeit is gewoonlik hoër onder sulke omstandighede, wat die THI en gevolglik die hittestres verhoog. Hou dus modder uit die krale en hou-areas.
  • Beligting: Navorsing het getoon dat die korrekte beligting die DMI verhoog. ’n Laer DMI is juis een van die probleme van hittestres.
Hittestres is nie net van toepassing op diere in voerkrale en by melkerye nie. In ekstensiewe boerderye behoort daar ook genoeg koelte by suipplekke te wees.

Die volgende algemene beginsels word aanbeveel:

  • Die belangrikste is om diere met waaiers, water en voldoende skadu af te koel. Afkoeling is veral belangrik in melkerye waar koeie in oop kampe aangehou word.
  • Maak die diere se loopafstande so kort as moontlik.
  • Staantyd in die hou-area voor melking moet so kort as moontlik wees.
  • Voer vroeg in die oggend en laatmiddag. Dit is noodsaaklik om ou voer wat warm geword het, te verwyder en dit is wenslik om 60% van die voer eers in die namiddag vir die diere te gee.
  • Sorg dat daar skadu is vir diere wat nie behuising het nie.
  • Moenie met die diere op die warmste tyd van die dag werk nie.

“Hitte is een van die kaarte wat die natuur aan almal uitgedeel het. ’n Produsent wat die maksimum produksie uit sy diere wil kry, sal besef dat sy diere aan hitte blootgestel is en sal sorg dat die hittestres van sy kudde tot die minimum beperk word,” sê dr Spangenberg. –Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Heinri Spangenberg by 082 776 7311.