Die twee vernaamste siektes onder kalwers is diarree en longontsteking. Kalfdiarree lei tot ekstra onkoste en onnodige verliese in die vorm van vrektes, die koste van medisyne, arbeid, swak groei en ’n afname in melk tydens ’n vers se eerste laktasie.

Read it in English.

“Enigiemand wat ondervinding het met die grootmaak van kalwers, sal hiermee saamstem,” sê dr Louis Hoek, ’n veearts by CapeCross Veeartsenydienste in Tsitsikamma.

Dr Hoek merk op dat kalfdiarree ook een van die mees frustrerende kondisies is om te behandel, veral omdat dit baie tyd in beslag kan neem en hope geduld en toewyding verg.

“Daar word algemeen geglo dat die oorsaak van kalfdiarree bepaal kan word deur na die mis se kleur te kyk. Volgens my mening kan ’n mens egter nie ’n diagnose maak deur net daarna te kyk nie. Die kleur en samestelling van die mis is ’n funksie van die tempo waarteen dit deur die dermkanaal beweeg en nie ’n direkte gevolg van die organisme nie. ’n Produsent kan die oorsaak daarvan soms reg raai, maar ek sou aanbeveel dat die probleem eerder behoorlik hanteer word nadat ’n spesifieke diagnose gemaak is,” sê hy.

Belangrikste oorsake

Volgens dr Hoek kan kalfdiarree aan verskeie belangrike oorsake toegeskryf word.

Kalwers jonger as drie weke:

  • Rotavirus: Dit is die algemeenste oorsaak van diarree. Daar is soms bloed in die mis. Kalwers wat reg behandel word hoef nie te vrek nie.
  • Cryptosporidium: Dit is tans ’n reuse-probleem in Suid-Afrika en is gewoonlik algemeen teenwoordig saam met ’n virus. Dit kan ontsettend vinnig versprei, maar kalwers wat reg behandel word kan dit oorleef.
  • Coronavirus: Dit is baie soortgelyk aan die Rotavirus, maar kom nie so algemeen voor nie.
  • E. coli: Dit kom gewoonlik by baie jong kalwers voor en veroorsaak dikwels akute vrektes nog voordat kalwers behandeling kan ontvang. Volgens dr Hoek word dit waarskynlik oorgediagnoseer, aangesien baie nie-patogeniese stamme algemeen in alle kalwers se mis voorkom en E. coli dan gekweek word. Daar is wel ’n kommersiële entstof vir die algemeenste stam, maar nie vir ander stamme nie.
  • Clostridium perfringens: Die diarree is gewoonlik bloederig en akute vrektes kom voor. Dit affekteer egter nie so baie diere soos bogenoemde siektes nie.
  • Voedingsverwante diarree: Dié tipe diarree kom baie algemeen voor en behoort nie tot vrektes te lei nie. Diere herstel gewoonlik ook redelik vinnig.

Kalwers ouer as drie weke:

  • Koksidiose: Dié siekte kom algemeen voor. Tekens daarvan is bloederigheid in mis. Daar is nie gewoonlik vrektes nie, maar wel die vermaering van kalwers. Herstel is goed na behandeling.
  • Salmonella: Akute vrektes kom voor. Gewoonlik is draerdiere in die kudde teenwoordig.
  • Wurms: Dit veroorsaak vermaering met diarree. Kalwers reageer gewoonlik goed op behandeling.
  • Clostridium perfringens: Gewoonlik is die diarree bloederig en akute vrektes kom voor.
  • Voedingsverwante diarree: Dit kom baie algemeen voor en daar behoort nie vrektes te wees nie. Kalwers herstel gewoonlik ook vinnig.

Voorkomende maatreëls

Volgens dr Hoek is daar min probleme in die lewe met ’n kitsoplossing, maar hy glo tog dat voldoende kolostrum ’n groot rol speel om diarree by kalwers te bekamp. “Dit moet natuurlik goeie gehalte kolostrum wees, wat met ’n kolostrummeter gemeet kan word.”

Verskeie riglyne kan gevolg word om kalfdiarree te beheer.

Hy sê indien droë koeie die korrekte entstowwe op die regte tye kry, help dit dat die kolostrum die regte teenliggaampies bevat. “Die kolostrum moet in die eerste ses ure na geboorte ingeneem word. Die rede hiervoor is dat die vermoë om die kolostrum op te neem na twaalf ure tot 50% en na 24 uur tot 10% verlaag. Maak dus seker ’n kalf kry 2,5 tot 3 liter kolostrum binne die eerste ses ure van sy lewe, afhangende van sy grootte.”

Dr Hoek meen dat ’n produsent wat bulkalwers koop en grootmaak, se grootste uitdaging is om kalwers aan te koop wat voldoende en goeie gehalte kolostrum gekry het. “Maak seker dat die kalwers van ’n betroubare bron af kom. Vermy kalwers wat ver moes ry, wat by veilings of deur smouse verkoop word, of waar kalwers van verskillende plase saamgevoeg word.”

Biosekuriteit en higiëne

Hy glo dat biosekuriteit ’n baie belangrike faktor is, wat in baie gevalle afgeskeep word. “Melkboere moet seker maak dat hulle bulkalwers apart gehou en gelaai word. Hou hulle weg van die verskalwers af. ’n Goeie inentingsprogram vorm die ruggraat van ’n biosekuriteitsplan.”

Higiëne behoort vanselfsprekend te wees, maar word ongelukkig dikwels agterweë gelaat. Dr Hoek glo produsente wat ’n punt daarvan maak om aandag aan goeie higiëne te skenk, sal die vrugte daarvan pluk.

“Kyk krities na jou voerproses en behuising om te sien waar daar swak plekke is wat moontlik siektes kan oordra. Maak seker jonger kalwers word altyd eerste gevoer, en siek kalwers laaste. Maak ook seker dat daar goeie dreinering by die kalfhokke is en dat daar geen afloopwater tussen die hokke is wat siektes kan oordra nie,” verduidelik hy.

Volgens hom is die beheer van vlieë ook belangrik waar kalwers grootgemaak word, aangesien dit maklik siektes kan oordra en ’n bron van irritasie is.

Daar is verskillende denkwyses rondom die aantal kalwers wat saam gehuisves kan word. Dr Hoek sê dat kalwers sosiale diere is en hul stres minder is indien meer as een saam gehuisves word. “Let egter daarop dat kalwers wat nie afsonderlik gehuisves word nie, maklik siektes na mekaar kan oordra. Die goue middeweg wat vir baie produsente werk, is om vier tot vyf kalwers saam te huisves.”

Riglyne vir siek kalwers

Dr Hoek verskaf die volgende riglyne vir produsente met siek kalwers:

  • Maak seker dat ’n veearts ’n diagnose maak en dat jy weet hoe om ’n herhaling van ’n soortgelyke voorval te voorkom.
  • Doen alles in jou vermoë om te keer dat die siekte versprei.
  • Maak seker dat siek kalwers nie dehidreer nie, want dit kan hulle doodmaak. Moenie die melk wegvat (soos wat in die verlede geglo is) nie. Gee elektroliete in die melk of gemeng met water, afhangende van die produk. Hou in gedagte dat ’n kalf se maag slegs ’n sekere hoeveelheid vloeistof kan hou. As jy te veel op een slag gee, beland dit in die rumen, waar die pH hoër is. Die melk kan dan sleg word en die kalf nog sieker maak. Die beste metode is om in die oggend en middag melk te gee, met elektroliete in die middel van die dag.
  • Jou veearts sal jou adviseer oor ander spesifieke behandelings volgens die diagnose.

Hy beklemtoon dat ’n produsent nie tevrede hoef te wees met ’n vrektesyfer van meer as 5% nie. “Maak eerder gebruik van ’n kundige, soos jou plaaslike veearts, wat oor die nodige kennis beskik om kalfdiarree korrek te diagnoseer en ’n wesenlike verskil in jou kudde te maak.”

Vir meer inligting, skakel dr Louis Hoek by 079 561 5597 of stuur ’n epos aan louishoek@gmail.com. – Carin Venter, Veeplaas