Leon de Beer, algemene bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging, het na aanleiding van ’n vergadering met die betrokke staatsveearts, inligting verskaf oor die invloed van die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo op woluitvoere.

De Beer sê ook dat die NWKV baie nou saamwerk met Cape Wools SA, ander bedryfsvennote soos Sybokhaar Suid-Afrika en die Nasionale Dieregesondheidsforum om oplossings te vind wat sal verseker dat woluitvoere kan voortgaan.

Wol na Egipte

Wol bestem vir uitvoer na Egipte kan na Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status opgehef is, nie volgens die huidige sertifikaat gesertifiseer word nie. Egipte aanvaar slegs wol uit OIE bek-en-klouseervrye lande.

Wol na Europa

Woluitvoere na Europa word tans nie deur die situasie beïnvloed nie. Dit kan wel verander indien die Europese owerhede ’n aankondiging maak wat beperkinge stel.

Wol na China en Indië

Wol na China en Indië mag steeds gesertifiseer word vir uitvoer volgens die huidige uitvoersertifikaat. Die uitvoerder moet wel ’n vrywaringsvorm teken weens die moontlikheid dat die land waarheen die wol uitgevoer word, die wol steeds mag weier as gevolg van die uitbreking. Die uitvoerder sal dus aanspreeklik wees vir die koste van uitvoere.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kan nie vir die wegwysing verantwoordelik gehou word nie, al is dit gesertifiseer. Die sertifiseringssertifikate van die betrokke lande laat toe dat wol gesertifiseer mag word as afkomstig uit ’n gebied waar die siekte nie voorkom nie – die uitbreking in KwaZulu-Natal in 2011 was so ’n geval. Die naspeurbaarheid van wol in Suid-Afrika is baie goed. Dit beteken dat die sertifisering steeds gedoen kan word aangesien baie min wol in Limpopo geproduseer word.

Die slotsom is dat die aanvaarding van wol uit Suid-Afrika die invoerland se prerogatief is. Volgens De Beer is dit iets wat deur die staat met Suid-Afrika se handelsvennote uitgeklaar moet word. “Die proses hiervoor is reeds aan die gang.”

’n Spesiale vergadering van die Nasionale Dieregesondheidsforum is vir 13 Januarie 2019 geskeduleer. Tydens die vergadering sal ’n strategie bepaal word vir ’n vergadering wat op 14 Januarie in Pretoria tussen die forum, DAFF en die direkteur van dieregesondheid gehou sal word. – Persverklaring