Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het tydens die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se jaarlikse kongres, wat van 9 tot 11 April in Venisië plaasgevind het, met die Chinese-afvaardiging vergader om die bek-en-klouseer situasie in Suid-Afrika te bespreek.

Luidens ’n persverklaring van Cape Wools SA was die doel van die vergadering om eerstehandse inligting te bekom oor die situasie tussen Suid-Afrika en China nadat wol-uitvoere na China, weens die bek-en-klouseer uitbraak vroeër die jaar, gestaak is. Biosekuriteit en ander moontlike hindernisse is ook tydens die vergadering bespreek, sê Du Toit.

Wat kan produsente verwag?

Produsente moet kennis neem dat die proses om die bek-en-klouseer situasie te normaliseer, tyd gaan neem weens onderhandelinge tussen die Suid-Afrikaanse en Chinese regerings.

Indien moontlik moet produsente poog om die wol so lank moontlik op die rug van die skaap te hou, as vetwol met ’n lengte korter as 65mm geskeer word. Du Toit meen die rede hiervoor gaan bloot oor die lengte van die wol.

“Indien daar produsente is wat beplan om wol korter as 65mm te skeer, moet hulle eerder poog om die wol langer op die skaap te hou om die nodige lengte te kry. Weens die bek-en-klouseer situasie tussen Suid-Afrika en China is die prys van kortwol (korter as 65mm) onder druk,” sê hy.

Die Chinese-afvaardiging het beklemtoon dat die Chinese regering moontlik ’n afkoelperiode in plek sal stel nadat Suid-Afrika weer hul bek-en-klouseervrye status herwin het.

Dit is duidelik na afloop van die vergadering dat daar nog ’n lang pad vorentoe is voor uitvoere na China weer hervat kan word. Die wolindustrie en Cape Wools SA, as die verteenwoordigende liggaam, sal egter aanhou om druk uit te oefen op al die relevante partye om so gou moontlik ’n oplossing te vind.

“Boere moet nou hulle opsies met hul makelaar bespreek en positief bly oor die bedryf,” sê Du Toit. – Michelle Verster, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here