Die bek-en-klouseer-uitbreking in die land is waarskynlik verby. Die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery (DAFF) het ‘n aansoek aan die Wêrelddieregesondheidsorganisie (OIE) gerig om die gebied waar die siekte uitgebreek het, die status van beheerde gebied te gee. Dit sal daartoe lei dat die res van die land as bek-en-klouseervry verklaar kan word.

As dit gebeur, meen dr Mpho Maja, direkteur van Dieregesondheid by DAFF, sal normale internasionale handel in landbouprodukte kan voortgaan.

Dr Maja het tydens RuVASA (Ruminant Veterinary Association of South Africa) se kongres in Umhlanga Rocks gepraat. Sedert Februarie vanjaar is geen nuwe gevalle aangemeld nie, en hulle is vol vertroue dat die virus nie meer in die gebied sirkuleer waar die siekte aangemeld is nie. Omdat dit nie ‘n normale aansoek is nie, het sy gesê, is daar geen aanduiding van hoe lank die proses nog kan neem voordat die OIE die aansoek goedkeur nie. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit