Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het op Maandag, 14 Januarie 2019, ’n vergadering met die Nasionale Dieregesondheidsforum gehou oor die huidige bek-en-klouseer-uitbreking. Tydens dié vergadering is drie taakspanne geskep om die huidige uitbreking te bestuur, asook aandag te skenk aan die toekomstige bestuur van die siekte in Suid-Afrika.

Die eerste is ’n tegniese taakspan wat aandag sal skenk aan siektebeheer-maatreëls. Die tweede is ’n taakspan wat verantwoordelik sal wees vir die kommunikasie van inligting aan die publiek en lewendehawe-eienaars. Die derde taakspan sal fokus op handel, om met Suid-Afrika se handelsvennote te kommunikeer en hulle gerus te stel dat produkte uit Suid-Afrika veilig is.

“Ons het nog altyd ’n goeie samewerkingsverhouding met die Nasionale Dieregesondheidsforum en ander bedryfsvennote gehad. Ons is baie dankbaar vir die bedryf se bystand en sien uit daarna om sy aan sy met die bedryf te werk in dié taakspanne,” het dr Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by DAFF, gesê.

Na afloop van die vergadering is die media toegespreek oor die huidige omvang van die uitbreking en die pad vorentoe.

Kernboodskappe uit die perskonferensie:
 Omvang van die uitbreking

Die siekte word tans beperk tot ’n klein gebied in die Vhembe-distrik. Dit kan gesien word as ’n oorvloei vanuit die bek-en-klouseer-beskermingsone, eerder as ’n uitbreking.

“Diere het positief getoets vir bek-en-klouseer in ’n gebied waar ons dit kon verwag. Ons het die bek-en-klouseer-besmette sone en rondom dit is die bek-en-klouseer-beskermingsone, waar diere ingeënt word en waar streng vir die siekte gemonitor word. Rondom dit is die bek-en-klouseervrye sone. In die vrye sone, op die grens van die beskermingsone, is egter ’n gebied waar ons steeds baie versigtig vir die siekte is. Die oorvloei was in dié gebied,” het dr Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, verduidelik.

Beide die regering en die bedryf het bevestig dat die nodige stappe geneem is om te verseker dat die siekte tot die betrokke gebied beperk word.

DAFF het bevestig dat inentings in ’n radius van 20km rondom die geaffekteerde gebied reeds afgeskop het. “Die slag van diere wat deur die siekte geaffekteer is of in kontak was met sulke diere, word op die oomblik nie aanbeveel nie. Dit is as gevolg van ’n verskeidenheid redes en die situasie word baie noukeurig dopgehou deur ’n span veeartse,” het DAFF in ’n verklaring gesê.

’n Siektebeheer-gebied is verklaar. Die gebied word omring deur die R81, die R36, die N1 en die R524. Die presiese amptelike grense van die gebied sal in die Staatskoerant gepubliseer word. Geen beweging van diere met gesplete hoewe sal binne, in of uit die gebied toegelaat word nie. Die beweging van produkte afkomstig van diere met gesplete hoewe sal slegs toegelaat word as dit van ’n permit vergesel word wat deur die plaaslike staatsveearts geteken is.

Die beweging van diere met gesplete hoewe, insluitend wild, en onverwerkte produkte uit die Mopanie-distrik, die Vhembe-distrik en die Molemole Munisipaliteit in die Capricorn-distrik word tot verdere kennisgewing verbied. Slegs produkte wat volgens prosesse verwerk is wat bevestig is om die bek-en-klouseervirus te verwyder, kan veilig uit die gebied geneem word. Alle bewegingspermitte wat met dié doel uitgereik is, word met onmiddellike effek teruggetrek.

“Berigte in die media dat miljoene diere in die bek-en-klouseervrye sone deur die siekte geaffekteer is, is nie waar nie,” sê dr Vervoort. “Sowat 50 diere het positief getoets vir die siekte of is as moontlik besmet geïdentifiseer. Ons het ’n beskermingsone rondom die gebied van die uitbreking geïdentifiseer. Dié gebied bevat miljoene diere. Dié diere is nie deur die siekte geaffekteer nie, maar word by die kwarantyn- en moniteringsgebied ingesluit om ’n buffersone tussen die geaffekteerde sone en die res van die land te skep.

“Ons het nie hier te doen met ’n siekte wat oor honderde kilometers strek en miljoene diere affekteer nie. Ons het te doen met ’n oorvloei van die bek-en-klouseer-beskermingsone, wat ’n spesifieke gebied raak. Die uitbreking is beperk tot die Vhembe-distrik by Sundani tussen Giyani en Louis Trichardt in Limpopo,” sê dr Vervoort.

Veilig vir verbruik

Alle sprekers by die perskonferensie het herhaaldelik bevestig dat bek-en-klouseer nie ’n soönotiese siekte is nie en dus geen uitwerking op mense het nie. Suid-Afrikaanse vleis is dus steeds veilig vir gebruik.

Dr Maja het bevestig dat bek-en-klouseer slegs diere met gesplete hoewe affekteer. “Dit sluit in beeste, skape, bokke, varke en wild met gesplete hoewe, soos buffels en bokke. Bek-en-klouseer is ’n handelsensitiewe siekte en dit is waarom verskeie handelsvennote ’n verbod op handel geplaas het. Dit is glad nie omdat dit ’n risiko vir verbruikers inhou nie. Die risiko is slegs dat die siekte na diere met gesplete hoewe in die betrokke land kan versprei,” sê dr Maja.

Handel

Dr Maja sê dat dit ’n normale praktyk vir die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) is om ’n land van sy bek-en-klouseervrye status te stroop sodra diere in die bek-en-klouseervrye sone positief getoets word. “Dit is ook standaard dat handelsvennote ’n verbod in plek sal stel sodra die land se bek-en-klouseervrye status gestroop word,” sê sy.

Dr Vervoort verduidelik dat ’n onderhandelingsproses in die meeste gevalle volg nadat handelsvennote ’n verbod in plek gestel het. “Ons handelsvennote het reeds kontak gemaak om die situasie te bespreek. Hulle wil weet presies wat gebeur het, waar dit gebeur het en wat die omvang van die situasie is.

“Hulle wil ook weet of daar bek-en-klouseervrye diere is waarmee ons steeds handel kan dryf. Dit is ons verantwoordelikheid om met dié vennote te kommunikeer en hulle gerus te stel dat ons produkte kan verskaf wat van bek-en-klouseervrye diere afkomstig is. Die taakspan wat op handel fokus, het belangrike werk om in dié verband te doen.”

Volgens dr Vervoort is dit ’n klein uitbreking, maar het dit steeds ’n reuse impak op die bedryf en die land. Beide DAFF en die privaatsektor het beter naspeurbaarheid in die bedryf as ’n noodsaaklike hulpmiddel geïdentifiseer om die impak van toekomstige siekte-uitbrekings te beperk. “As ons kan wys waar elke dier vandaan kom en kan wys dat ’n dier vanaf ’n siektevrye gebied kom, kan die diere steeds uitgevoer word,” sê dr Vervoort.

“Baie aandag word geskenk aan die verbetering van naspeurbaarheid in die lewendehawebedryf, maar dié uitbreking het die fokus weer daarop geplaas en moedig DAFF aan om meer aandag aan die saak te skenk en die taak af te handel,” het Senzeni Zokwana, minister van landbou, gesê.

Impak op die bedryf

Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), bevestig dat die huidige uitbreking baie slegte nuus vir die bedryf is. “Na vandag se vergadering is ek egter baie gerus dat daar ’n goed bestuurde spanpoging tussen DAFF en die bedryf sal wees om die land se bek-en-klouseervrye status so gou as moontlik terug te kry,” sê hy.

Volgens Schutte het Suid-Afrika ten tye van die uitbreking sowat 3% van sy beesvleisproduksie uitgevoer. “Dié 3% is nou terug in die plaaslike mark en sal beslis ’n wesenlike impak op die prys van rooivleis hê. Ons almal weet dat die verbruiker se koopkrag na die feesseisoen nie baie sterk is nie. Die 3% sal dus heel moontlik teweegbring dat die verbruikerspryse van rooivleis afneem.

“Dit is natuurlik goeie nuus vir die verbruiker, maar baie slegte nuus vir die produsent. Produsentepryse is reeds onder druk en gegewe die huidige droogtetoestande in dele van die land, plaas die situasie produsente verder onder druk.”

Herstel van die bek-en-klouseervrye status

In ’n persverklaring wat na die perskonferensie uitgereik is, erken DAFF dat die vraag op almal se lippe is wanneer Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status herstel sal word. Dit is ’n lang proses wat DAFF in die persverklaring verduidelik.

“Die uitbreking moet eers in bedwang gebring word deur kontrole van die beweging van diere en inentings. Terselfdertyd moet die uitbreking ondersoek word. Dit word tans gedoen. Ons moet dan bewys dat dit ’n beperkte voorval is, deur aktiewe toesighouding in en buite die inentingsgebied,” het dr Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid by DAFF, gesê.

“ Hierna begin die werklike harde werk. Ons moet die land se bek-en-klouseer-beheerstrategie hersien en seker maak dat dit steeds aan die OIE se riglyne voldoen. Daarna moet ons al die maatreëls implementeer en oudits doen om te verseker dat daaraan voldoen word. Almal sal moet saamwerk om dit reg te kry – veeboere, die bedryf, veeartse en regeringsdepartemente.

“Dit begin alles met die eerste linie van verdediging, die grensheinings. Daarna volg al die lae van verdediging wat tot ’n verminderde risiko van ’n uitbreking in die bek-en-klouseervrye sone bydra. Die lae van verdediging sluit in inenting, omvattende kliniese ondersoeke van diere in die bek-en-klouseer-beheersone en voldoening aan beperkings op die beweeg van diere.”

Minister Zokwana sê dit is belangrik dat almal verstaan dat daar geen kortpaaie is tot die herstel van ons status nie. “Ons moet almal toegewyd aan die saak wees en saamwerk om die siekte te beheer, die huidige uitbreking onder bedwang te bring en daarna ons status te herstel.”

Die boer se verantwoordelikheid

Lewendehawe-produsente word herinner aan die belangrike rol wat hulle in die beheer van die siekte speel. “Ons herinner boere daaraan om enige moontlike bek-en-klouseergevalle dadelik aan ’n staatsveearts te rapporteer. Moenie wag tot dit te laat is nie en moenie probeer om dit geheim te hou nie,” sê dr Maja.

“Boere het verder die verantwoordelikheid om nie diere in en uit die geaffekteerde gebied te beweeg nie, slegs diere van betroubare bronne aan te koop en om goeie biosekuriteitsmaatreëls in plek te hou.

“Ons vra dat boere op die uitkyk is vir enige moontlike gevalle van bek-en-klouseer en dit dadelik rapporteer, selfs al is dit net ’n vermoede. Kliniese tekens van die siekte sluit in blase en letsels rondom die mond en op die hoewe. Dit sal tot buitengewoon baie speekselafskeiding en mank diere lei. Die diere kan ook lusteloos voorkom en ’n verminderde eetlus hê.” – Marike Brits, AgriOrbit

Kyk na die volgende video’s om te sien wat verskeie kundiges by die perskonferensie te sê gehad het.