’n Siekteondersoek wat uitgevoer is na mankheid by beeste gerapporteer is, het die voorkoms van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik van Limpopo bevestig. Monsters, waarvan die laboratorium-resultate positief was, is tydens die ondersoek geneem.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is dadelik in kennis gestel. Die saak is ook op 7 Januarie 2019 aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) gerapporteer en het die tydelike opskorting van Suid-Afrika se amptelike bek-en-klouseervrye status tot gevolg gehad. Dit beteken dat enige uitvoere waar bek-en-klouseervrye-verklarings vereis word, nie toegestaan sal word nie.

Die Vhembe-distrik is in die Noorde van Limpopo en deel sy noordelike grens met Zimbabwe. Volgens die Departement van Landbou lê die distrik net buite die bek-en-klouseer beheersone en in die bek-en-klouseervrye-sone. “Kundiges van die departement en die Limpopo veeartsenykundige dienste is in die gebied en stel verdere ondersoek in. Die doel is om nie net die uitbreking te bevestig nie, maar ook die omvang daarvan te bepaal. Die beheermaatreëls sal deur van die ondersoek-resultate bepaal word,” lui die departement se persverklaring.

Die gebied waar die siekte bevestig is, is nou onder kwarantyn en geen beweging van diere of diereprodukte in en uit die gebied word toegelaat nie. Boere rondom die gebied word deur die departement aangeraai om baie streng biosekuriteitsmaatreëls in plek te stel, nie enige nuwe diere in hul kuddes in te bring nie en die beweging van hul diere te beperk. – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here