Beeste het klein, plat longe in verhouding tot hul liggaamsmassa en is baie vatbaar vir lugweginfeksies. Algemene longontsteking in beeste staan bekend as bees respiratoriese siektekompleks (BRS) en dui op brongopneumonie, wat ontsteking van die lugweg en kraniale gedeeltes van die longe behels.

Volgens dr Schabort Froneman van Zoetis, is BRS ’n multifaktoriale siekte wat deur verskeie omgewings- en gesondheidsfaktore veroorsaak word. “Die tipiese verloop van die ontwikkeling van BRS begin gewoonlik met ’n stresvoorval. As beeste vir lang tydperke geweldige spanning ondergaan, stel hul liggame ’n oormaat kortisol vry wat hul immuunstelsels onderdruk. ’n Onderdrukte immuunstelsel skep houvasplek vir verskeie virale en bakteriese patogene,” sê hy.

Stresfaktore veroorsaak siekte

Stresfaktore sluit in voedingsprobleme, uiterste weersomstandighede, uitermatige stof, vervoer en hantering van die diere, asook nuwe omgewings wat diere aan nuwe patogene blootstel.

Wanneer diere na ’n veilingskraal of voerkraal vervoer word, moet hulle van voor af ’n plek in die sosiale hiërargie inneem, wat verdere stres kan veroorsaak. Prosedures soos onthoorning, inenting en brandmerk veroorsaak wisselende vlakke van stres. Daarby kan enige beserings of onderliggende sieketetoestande die dier meer vatbaar maak vir infeksie.

“Gewoonlik tas ’n virale infeksie eerste die respiratoriese slymvliese aan, wat weer die deur vir ander bakteriese patogene oopmaak. Bakteriese infeksies in die longe lei gewoonlik na volskaalse longontsteking. As diere nie vroegtydig behandel word in die akute fase van BRS nie, kan dit lei na permanente of kroniese longletsels wat longfunksie permanent verlaag.

“Beeste wat nie behandel word nie kan óf vrek, óf kroniese longontsteking ontwikkel, waarteenoor beeste wat betyds behandeling ontvang ’n goeie prognose het,” sê dr Froneman.

Kliniese siektetekens

Vroeë kliniese tekens, wat nie-spesifiek is, kan wees dat die dier in isolasie van die trop staan, dat sy kop en ore hang en dat hy traag is om te beweeg. Vinnige asemhaling, koors, ’n verlaagde aptyt en dun flanke kom ook voor. Kliniese tekens wat in ’n latere stadium van besmetting opgemerk word, sluit ’n algemene swak toestand en verlaging in produktiwiteit in, asook waterige oë, neusafskeiding en swaar asemhaling.

Volgens dr Grant van Lelyveld van Hipra Suider-Afrika, word die longe die ergste beskadig, wat asemhaling en energie-omskakeling moeiliker maak. “Die duur van die siekte en die aantal voorvalle per dier sal bepaal of koeie uitgeskot sal word voor hul eerste laktasie, aangesien die siekte onvoldoende bies- en melkproduksie asook ’n swak karkasgradering tot gevolg kan hê.”

Verspreiding van BRS

Respiratoriese virusse en bakterieë versprei gewoonlik met direkte of nabye kontak tussen diere, terwyl meganiese vektore soos mense, vlieë en besmette voorwerpe ook ’n rol kan speel in die verspreiding van BRS. Hoewel die siekte meestal horisontaal oorgedra word, is daar ook gevalle van vertikale besmetting. 

Voorkoming en behandeling

Dr van Lelyveld hou vol dat voorkoming altyd behandeling klop. “Voorkoming behels stresbekamping, identifisering van die patogeen en inenting met ’n gepaste entstof. Daar is verskillende entstowwe op die mark wat beide aktiewe en onaktiewe organismes bevat.

“Optimale kolostrumbestuur, inenting van die hele kudde asook ’n inentingsprotokol wat by die plaas se patogeenverskeidenheid en by die intensiteit van die boerdery pas, is belangrik om BRS te voorkom. Die enting van beide die koeie en kalfies is noodsaaklik, siende dat passiewe oordrag van immuniteit van die koei na die kalf, deur die kolostrum plaasvind. Entstowwe wat veilig en veelsydig is geniet gewoonlik voorkeur by veeartse.”

Dr van Lelyveld verduidelik verder dat behandeling die toediening van antibiotika saam met ’n anti-inflammatoriese middel en ondersteunende sorg behels. Geregistreerde produkte is beskikbaar vir respiratoriese longontsteking, maar boere moet onthou dat virusse nie op antibiotika reageer nie.

Raad rakende entstowwe

Die volgende eienskappe moet oorweeg word wanneer nuwe entstowwe aangekoop word:

  • Is die entstof veilig vir jong, dragtige of lakterende diere?
  • Bied die entstof fetale beskerming?
  • Bied die entstof beskerming tydens alle produksiestadiums?
  • Is die entstof geskik vir massa-inenting wat vóór streskondisies toegepas kan word?

Volgens dr van Lelyveld is onlangs bewys dat geïnaktiveerde entstowwe ’n sterker uitwerking het as gemodifiseerde lewendige entstowwe.“Die metode van entstoftoediening speel ’n rol in die tipe immuniteit wat opgebou word en sal bepaal of die entstof plaaslike of sistemiese beskerming bied. Die tipe entstof wat toegedien word affekteer ook aangebore immuniteitskomponente, soos die bees se sellulêre (witbloedselle) en humorale (ensieme) meganismes.”

Volgens dr Froneman word lewende entstowwe meer algemeen aanbeveel, omdat dit hoër immuniteitsvlakke bied. Gemodifiseerde lewende entstowwe stimuleer humorale- en sellulêre immuniteit en bied beter algehele immuniteit teen BRS as geïnaktiveerde entstowwe. Baie boere gebruik ’n entstofkombinasie wat beide virusse en bakterieë teiken.

Veeprodusente word aangeraai om ’n veeartskonsultant of ’n farmaseutiese maatskappy te raadpleeg om seker te maak dat hulle die doeltreffendste produkte vir hul unieke omstandighede gebruik. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Grant van Lelyveld by grant.lelyveld@hipra.com of dr Schabort Froneman by schabort.froneman@zoetis.com.