Agri SA is baie bekommerd oor onlangse kommentaar van die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe. Mantashe het volgens berigte voorgestel dat ’n beperking op grondeienaarskap ingestel word, wat wit boere tot 12 000ha grond sal beperk.

Hy het verder voorgestel dat die oorblywende deel van die grond sonder vergoeding aan die regering oorhandig moet word. Suid-Afrikaanse eiendomsregte moet ten volle beskerm word vir die ekonomie om te groei en so ’n beperking sal net werkskepping kniehalter.

“Die stelling is irrasioneel en nie weldeurdag nie,” sê Dan Kriek, president van Agri SA. “’n ‘One-size-fits-all’-benadering druis in teen gevestigde landboubeginsels, aangesien bedrywe en boerderypraktyke in terme van grondgebruik verskil. Verskillende gewasse of diere vereis verskillende grootte plase om finansieel volhoubaar te wees. ’n Plaas van 12 000ha in die Karoo sal skaars haalbaar wees.

“Agri SA se landbouhervormingsplan is met die Nasionale Ontwikkelingsplan belyn en sal transformasie in dié sektor bespoedig.”

Breë voorstelle wat op onteiening sonder vergoeding gemik is, sal ’n negatiewe impak op voedselsekerheid hê en voedselinflasie laat toeneem. Boere het eiendomsregte nodig om produksielenings te verkry en onsekerheid oor eiendomsregte sal voedselproduksie smoor.

“’n Grondplafon sal eiendomswaardes negatief beïnvloed,” sê Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Wanneer eiendomspryse wesenlik val, word produksielenings onbekostigbaar. Banke sal etlike miljarde rande moet afskryf, want die landbousektor het ’n geraamde R160 miljard leningsboek.”

Grondplafonne is sedert 2011 onder bespreking, toe die Groenskrif op Grondhervorming gepubliseer is.

“Verskeie kenners het oor die negatiewe gevolge van grondplafonne verslag gelewer,” sê Annelize Crosby, hoof van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Grond. “Dit sal nie armoede verlig nie.”

Agri SA sal enige vorm van onregmatige inperking van eiendomsregte teenstaan ten behoewe van alle boere en Suid-Afrikaners. – Persverklaring