Die uitdagings wat die wintermaande vir veeboere inhou, kan maklik oorkom word as ’n boer regdeur die jaar daarvoor beplan. Kennis van die voedingsbronne, sodat die regte aanvullings gegee kan word om tekorte aan te vul, is die resep om vee sodanig te laat oorwinter, dat hulle hul kondisie behou en die langtermyndoelwitte vir reproduksie kan bereik.

Optimale reproduksie in ’n stelsel waar daar soveel as moontlik kalwers en lammers aankom en goed grootgemaak word, is die sleutel tot goeie wins. Die belangrikste dryfvere van goeie reproduksie is die diere se genetiese vrugbaarheid en voeding, wat hulle in staat stel om dragtig te raak.

Voedingstekorte op weidings

Die goedkoopste hoofbron van voeding vir beeste en skape is natuurlike weidings, maar selfs in die volop tye kan daar voedingstekorte wees wat aangevul moet word. In die grootste gedeelte van die land neem die hoeveelheid en voedingswaarde van die natuurlike weiding af sodra dit ophou reën. Dit is veral die proteïeninhoud van die gras wat skerp daal wanneer die volwasse gras begin verdroog, en voedingstowwe teruggevoer word na die wortelstelsels van die plante.

Dr Francois van de Vyver, Nutri Feeds se nasionale bestuurder: herkouers, sê die tekorte in weidings kan aangevul word en die strategie van aanvulling behoort gefokus te wees op die beperkende voedingstowwe, ten einde die verteerbaarheid en dus die inname van die beskikbare materiaal te stimuleer, sonder om die bewaring van die veld uit die oog te verloor.

’n Kalfpersentasie van hoër as 80% en ’n tussenkalfperiode van minder as 400 dae behoort nagestreef te word.

Voer vir oorwintering

Voeding vir die oorwintering van vee hou spesiale uitdagings in, omdat die produksiestatus van die diere ook in ag geneem moet word. Vleisbeeste kalf tradisioneel sowat ’n maand voor die eerste reënval. Die laaste deel van die koei se dragtigheid, wanneer haar voedingsbehoefte groot is, val saam met die strafste deel van die winter, wanneer weiding werklik skaars is.

Sy het dan net twee tot drie maande tyd om van die kalwing te herstel en haar kondisie weer in ’n stygende fase te kry, sodat sy gedek en weer dragtig kan raak. Om dié oogmerk te bereik, kan ’n winterlek voorsien word wat heelwat nieproteïenstikstof (NPN) soos ureum bevat, om in die stikstofbehoeftes van die mikroörganismes in die rumen te voorsien en dit te aktiveer om vesel beter te verteer, wat weer die inname van swak weidings sal aanmoedig, verduidelik Francois.

Dit is duidelik dat so ’n oorwinteringstelsel egter nie swak voedingsbestuur deur die jaar sal verdoesel nie. Om makliker deur die winter te kom, is goeie weidingsbestuur regdeur die jaar nodig.

Tanende voedingswaarde

Weiding in die somerreënvalgebiede het die hoogste voedingswaarde in die vroeë somermaande, wanneer die primêre voedingsbeperking hoofsaaklik fosfor en omgewingspesifieke spoormineraaltekorte is.

Wanneer die reën egter ophou en die jaar aanbeweeg na die kouer wintermaande, verander die voedingswaarde asook die beskikbaarheid en verteerbaarheid van die weiding dramaties. Met meerjarige grasspesies, wat tipies in die suurvelddele van die land aangetref word, is hierdie daling in voedingswaarde dramaties en ’n uitdaging.

Nadat plante hul blomstadium bereik het, stuur dit die voedingstowwe na die wortelstelsel om groei in die daaropvolgende reënseisoen te stimuleer. Die materiaal wat bo die grond agterbly en beskikbaar is as voedingsbron vir weidende diere, bestaan hoofsaaklik uit strukturele koolhidrate in ’n gebonde vorm wat swak verteerbaar is.

Die proteïenwaarde van die weiding is dan ook te laag om enige wesenlike diereproduksie te onderhou en vandaar die praktyk om weiding as hooi te preserveer voordat die gevorderde blomstadium bereik word. 

Diere behoort die strawwe droë seisoen in ’n goeie kondisie in te gaan en daarom moet die lekprogram van so ‘n aard wees, dat dit ten alle tye voedingstekorte aanspreek, selfs in die stadium wanneer goeie gehalte weiding beskikbaar is. Dit is ’n beproefde praktyk om fosfor in die somer op groen, sappige weidings aan te vul ten einde voldoende groei en kondisie by die diere te bewerkstellig. 

Oorgangslekke

Sodra die weiding egter gedurende die herfsmaande in gehalte begin afneem en die inname van die fosfaatlek begin toeneem, word daar aanbeveel dat die boer stelselmatig oorskakel na ’n lek wat, benewens fosfaat, ook proteïen bevat. Normaalweg sal hierdie oorgangslekke reeds in die laatsomer of herfs aan die diere beskikbaar gestel word. Dit bevat minder ureum as ’n tipiese winterlek.

Voedingsbestuur maak ook deel van weidingsbestuur uit en die bewaring van die veld moet nooit uit die oog verloor word nie.

Die doel van oorgangslekke is om die diere aan die ureum gewoond te maak sodat kondisie en liggaamsmassa onderhou word. Hierdie oorgangslek sal steeds fosfaat teen sowat 6 tot 12g/bees/dag voorsien, maar ook proteïen. Hierdie lek is aanvullend tot die weiding en sal geensins weidinginname vervang nie.

Winter- en produksielekke

Wanneer die gehalte en volume van die weiding sodanig afneem dat die inname van die oorgangslek begin styg, is dit ‘n teken dat die lek aangepas moet word – eers na ’n volwaardige winterlek en dan later na ’n lek wat ook produksie kan ondersteun. So ’n lek bestaan hoofsaaklik uit proteïen, waarvan die oorgrote hoeveelheid vanaf ’n NPN-bron kom, asook uit minerale van belang vir die onderhoud van die dier.

So ’n lek maak die kostedoeltreffende oorwintering van vee wat nie hoë voedingsbehoeftes het nie, moontlik. Sou diere se kondisie of gewig egter afneem, is dit raadsaam om na ’n produksielek oor te slaan. Dit sal tipies die geval wees waar produksie nie alleenlik deur ’n winterlek onderhou kan word nie; die produksielek voorsien, benewens proteïen, ook energie, minerale en vitamiene.

Hoewel winter die mees uitdagende tydperk vir veeproduksie is, kan die lekprogram vir oorwintering nie in isolasie beskou word nie. Die benadering behoort ’n volledige lekprogram vir die hele jaar te wees en die gehalte en hoeveelheid weiding, asook die inname van ’n betrokke lek, behoort aanduidend te wees van die tipe lek wat gebruik moet word.

Teelkoeie in vleisbeeskuddes gaan deur vier fases in hul produksiesiklusse waartydens hul voedingsbehoeftes dramaties verskil, sê Francois. Dit moet daarom ook noukeurig in ag geneem word indien ’n kalfpersentasie van meer as 80% en ’n tussenkalfperiode van onder 400 dae nagestreef word.

Die vier fases van produksie

  • Fase 1 begin met die dag van kalwing en sluit laktasie in. Tydens vroeë laktasie is die koei se voedingsbehoefte die hoogste van die vier fases. Dan moet haar goeie kondisie en gehalte voeding ingespan word om haar in dié negatiewe energiebalansstadium te ondersteun. Om na ’n tussenkalfperiode van 365 dae te mik, moet die lengte van die fase waarbinne sy weer dragtig moet raak, hoogstens 82 dae wees.
  • Fase 2 strek vanaf herbesetting totdat die kalf op 210 dae gespeen word. In dié tyd moet die koei haarself en die vroeë ontwikkeling van die fetus onderhou, asook melk produseer vir die suipkalf om te groei en ontwikkel. Goeie voeding is nodig sodat die koei haar liggaamsreserwes kan begin herstel.
  • Fase 3 begin wanneer die kalf gespeen is en bied die laagste voedingsuitdagings. Hier val die fokus daarop om die koei vir laatdragtigheid gereed te kry. Dit is die tyd om die koei ekonomies in kondisie terug te kry.
  • Fase 4 beslaan die laaste trimester van dragtigheid, wanneer die koei weer baie hoë voedingsbehoeftes het vir die ontwikkeling van die fetus. Sowat 75% van die totale groei van die ongebore kalf vind in dié tyd plaas. Dit is ook die tyd waarin die uier ontwikkel en biesmelk vorm.

“Deur elk van die fases noukeurig te bestuur en hulpmiddels soos kondisietelling, kalfgewig en speenouderdom te gebruik, kan produksiedoelwitte doeltreffend bestuur word,” sluit Francois af.

Vir meer inligting, skakel dr Francois van de Vyver by 018 011 8888 of Fvandevyver@countrybird.co.za. – Andries Gouws, Veeplaas