Om ’n boer te wees, beteken jy is een van die min mense wat hoop het vir die toekoms. Jy glo dat môre beter gaan wees en dat die werk wat jy vandag doen aan die einde van die seisoen vrugte gaan afwerp. Dit is een van die eienskappe wat boere deursettingsvermoë gee wanneer moeilike tye aan hul deur kom klop.

’n Mens moet egter nie toelaat dat moeilike tye jou onvoorbereid betrap nie. Ek wil in hierdie artikel graag meer uitbrei oor stappe wat gedoen kan word sodat ’n mens nie so swaar getref sal word wanneer moeilike tye wel aanbreek nie.

Ken jou kontantvloeisiklusse

Dit beteken ’n mens moet maatreëls in plek stel om te verseker dat jy genoeg finansiële hulpbronne het om jou te dra. Daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy vertroud is met die in- en uitvloei van kontant in jou boerdery.

In watter maande van die jaar is daar min tot geen inkomste nie en wanneer gee jy die meeste geld uit in jou besigheid? Hoeveel van dié uitgawes is oorhoofse koste (wat steeds daar gaan wees in ’n droogte) en hoeveel is produksiekoste?

Die ideaal is om jou uitgawes soos volg te groepeer:

  • Noodsaaklik (hiersonder bestaan ’n boerdery nie, bv. arbeid).
  • Veranderlik (hierdie uitgawes kan gesny word deur minder van sekere hulpbronne gebruik te maak, bv. diesel).
  • Luukshede (die boerdery kan hiersonder funksioneer, bv. ’n hoë-spoed Internetlyn).

’n Mens kan dan planne vir moeilike tye instel, wanneer jy onmiddellik aan luukshede sny en veranderlike koste beperk. Hierdie planne moet geaktiveer word die oomblik wanneer dit lyk asof moeilike tye aan die kom is sodat jy so min as moontlik kontant uitgee. Hierdie ekstra kontant gaan jou die vermoë gee om langer uit te hou tot dinge weer beter gaan.

Identifiseer finansieringsbronne

’n Mens besef dikwels te laat dat jy in die knyp is en probeer dan om finansiering by die banke te kry. Die werklikheid is dat dit aansienlik moeiliker (en duurder) is om finansiering te bekom wanneer jy reeds in die knyp is, teenoor wanneer dit goed gaan met jou besigheid.

’n Mens moet in die goeie maande die nodige reëlings tref sodat jy die maksimum leningsgeriewe tot jou beskikking het wanneer jy dit benodig. Moet my egter nie verkeerd verstaan nie – ek bedoel nie dat jy dadelik daarop moet leen wanneer dinge begin moeiliker raak nie.

Onthou altyd dat skuld verhaal kan word deur jou bates van jou te ontneem en wanneer dit moeiliker gaan, is dit juis omdat jy minder kontantvloei het of gaan hê. Daarom is dit nie wys om daarvan te onttrek om jou deur die moeilike tyd te dra nie, want jy sal paaiemente moet betaal.

Die rede waarom jy jou leningsgeriewe in orde moet kry, is omdat jy dit gaan benodig om vinnig op dreef te kom wanneer dit weer beter begin gaan. Moeilike tye beteken gewoonlik van jou kompetisie maak hul deure toe, en dit beteken daar is ’n gaping in die mark wat jy kan volstaan.

Dit kan egter nie gebeur as jy nie kontant tot jou beskikking het om te groei nie. Om aansoek te doen vir finansiering net ná só ’n moeilike tyd, gaan beteken dat jy slegte leningsvoorwaardes ontvang (omdat jou winste vir die vorige jaar of jare sleg gelyk het).

Beleggings en spaar

Die kanse is egter goed dat die geld wat jy spaar deur jou luukshede te sny en jou veranderlike koste streng te beheer nie genoeg gaan wees om jou oorblywende uitgawes te dek nie, en ook nie genoeg gaan wees om jou deur te dra indien jy vir uitgerekte tye swaar trek nie. Die kapitaal wat jy gaan benodig om jou deur moeilike tye te dra, moet bymekaar gemaak word terwyl jy goeie winste in jou besigheid realiseer.

Dit beteken dat jy elke jaar geld by ’n finansiële instelling moet belê wat ’n opbrengs lewer wat jou kapitaal verder sal laat groei. Dit is raadsaam om dit so moeilik as moontlik te maak om by dié geld uit te kom (vra dat ’n wagtydperk op die uitbetaling van die geld geplaas moet word). Indien jy laer risiko beleggings verkies (soos ’n spaarrekening by ’n bank), sal die langer wagperiode help om ’n hoër rentekoers te verseker.

Bepaal self wat jou grootste risiko is en hoe lank dit onder normale omstandighede gaan neem tot jou inkomende kontantvloei weer herstel. Met ander woorde: Indien jy met gewasse boer en jy het ’n misoes, hoe lank sal jy moet wag tot jy die volgende oes kan verkoop? As ’n minimum moet jy daarna streef om genoeg weg te bêre om hierdie tydperk se oorhoofse koste te dek.

Moet net nie voel dat die syfer onmoontlik is om te behaal nie, want enige bedrag wat jy weggebêre het gaan help. Tensy jou boerdery in een jaar ’n rekordopbrengs lewer, gaan jy nooit daardie geld in een jaar kan spaar nie, maar dit is nooit te laat om te begin nie.

Betaal skuld af

Wanneer daar goeie kontantvloei in die boerdery is, is dit belangrik dat dit jou eerste prioriteit is om skuld af te betaal. Ek verstaan dat jy dalk jou oog op ’n nuwe trekker of bakkie het, of dalk wil jy daardie ekstra kontant eerder as ’n salaris trek, maar doen eers die somme voor jy vir jouself daardie nuwe bakkie of salarisverhoging gee.

Om ’n besigheid teen krediteure te beskerm, is die eerste prioriteit en dit is ’n langtermynstrategie. Om skuldvry te wees, beteken jy spaar ongelooflik baie geld in rente en jy het ekstra kontant tot jou beskikking wat jy vir ander projekte kan aanwend.

Diversifiseer jou inkomste

Laastens sal ek voorstel dat jy maniere vind om jou inkomstestroom te diversifiseer. Die doel met diversifikasie is dat daar altyd geld iewers in die besigheid inkom. Weereens wil ek vra dat dié werklikheid jou nie afskrik nie.

Hoe diversifiseer jy? Wel, ’n goeie (en goedkoper) manier is om te begin deur jou kennis aan ander te bied teen ’n prys. Jy word dus ’n konsultant in jou spesifieke vakgebied en nuwe boere kan aan jou deur kom klop vir raad. Met vandag se tegnologies gevorderde wêreld is dit moontlik om jou konsultasiedienste aan boere hoër op in Afrika te bied, en jy hoef nooit eens ’n voet uit die land te sit nie.

Nog ’n manier (wat ek al voorheen in ’n artikel behandel het) is om akkommodasie op jou plaas aan te bied, of selfs jou boerdery se produkte verder te verwerk in ’n ander produk wat teen ’n hoër persentasie wins verkoop kan word.

Om te diversifiseer, gaan aan die begin nie noodwendig maklik wees nie, maar met behoorlike stelsels in elke afdeling van jou besigheid kan jy verseker dat die werk reg gedoen word. Die nuwe afdelings gaan waarskynlik aan die begin hulp van die boerdery benodig, maar met behoorlike beplanning, raad van kenners en bemarking, sal ’n nuwe afdeling baie vinnig sy gewig in goud bydra tot die netto wins van die besigheid. –Frans van Eden, Veeplaas

Frans van Eden is die besturende direkteur van Prioritise (Pty) Ltd en ’n rekenmeester wat daarin spesialiseer om besighede se omset, wins en kontantvloei te laat groei. Vir meer inligting, epos hom by frans@prioritise.co.za. Besoek alternatiewelik die webtuiste www.prioritise.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here