Hoewel daar tans groot onsekerheid heers oor die moeilike tyd wat voorlê, bied uitdagende tye soos hierdie ook aan besighede die geleentheid om hande te neem en bystand te verleen aan die dapper touleiers op die voorfront van hierdie pandemie en die wanvoeding wat te midde hiervan heers. Dit is in hierdie gees dat Tongaat Hulett, NCP Alcohols, Spring Lights Gas (SLG), Nampak Rigid Plastics en Southern Lodestar Foundation kragte saamgesnoer het en ‘n funksionele projek genaamd “Committed to Community: Health Partners during COVID-19” in KwaZulu-Natal van stapel gestuur het.

Die projek het ten doel om 250 000 liter handsaniteerder met die hulp van die Departement van Gesondheid, aan alle provinsiale hospitale en klinieke regoor die provinsie te verskaf. Terselfdertyd sal 60 000kg kitspap versprei word in gebiede met groot getalle kinders wat ondersteuning nodig het. Die Departement van Onderwys voed tans 2,4 miljoen leerders as deel van ‘n skolevoedingsprogram. ‘n Totaal van 1,3 miljoen van hierdie kinders word geag as kwesbaar. Die feit dat skole weens COVID-19 moes sluit, het hierdie kinders se kwesbaarheid verhoog aangesien hulle meestal in finansieel sukkelende, voedsel-onseker huishoudings grootword.

Hulp van die suikerbedryf

Tongaat Hulett het vier suikermeulens in KwaZulu-Natal en werk nou saam met boere in die provinsie. Heelwat van hierdie boere produseer op klein skaal en is kwekers wat uit grondhervorming voordeel getrek het. Tongaat Hulett sal op grond van hierdie samewerking die melasse vir die vervaardiging van die handsaniteerder verskaf en sy meulfasiliteite aanwend vir die verspreiding van die saniteerder aan klinieke en hospitale. Die melasse wat verskaf sal word vir die projek, sal ‘n aansienlike bydrae lewer tot die vervaardiging van die saniteerders.

Volgens Simon Harvey, besturende direkteur van Tongaat Hulett se suikerbesigheid, is die maatskappy se hoofprioriteit die gesondheid en veiligheid van alle belanghebbendes. “As maatskappy het ons maatreëls in al ses lande vanwaar ons werk daargestel om die uitwerking van COVID-19 op ons werknemers en belanghebbendes te beperk. Ons het ook gesonde besigheidsmaatreëls in plek wat ons toelaat om onverpoosd besigheid te doen gedurende die grendeltydperk.”

Vervaardiging van handsaniteerder

Die COVID-19-pandemie het die wêreldorde op ongekende skaal omvergegooi. In Suid-Afrika het die land ‘n 21-dae inperkingsperiode betree ten einde die infeksiekurwe af te plat en die verspreiding van die virus hok te slaan.

NCP Alcohols vervaardig gefermenteerde alkohol vir verskeie industrieë, waaronder die farmaseutiese bedryf. Dié maatskappy se bydrae tot die gesamentlike projek sal bestaan uit die vervaardiging van alkohol, die vermenging van die saniteerder en die verpakking daarvan in dromme.

SLG is ‘n nasionale gas-verskaffer met die meeste van sy kliënte in KwaZulu-Natal. Die maatskappy verskaf omgewingsvriendelike, skoon en kostedoeltreffende energie en lewer ‘n pasmaak tegniese diens as deel van die projek. Die energie wat gebruik sal word om die alkohol vir die saniteerder te vervaardig, sal deur SLG verskaf word.

Nampak Rigid Plastics is die streek se grootste gediversifiseerde vervaardiger van verpakkingsmateriaal en sal die dromme waarin die saniteerder verpak word, verskaf. Die maatskappy belê ‘n aansienlike hoeveelheid van sy tyd en hulpbronne in die ontwikkeling van volhoubare produkte en verleen as ‘n reël bystand aan die gemeenskappe om en naby hul fasiliteite.

Southern Lodestar Foundation doen voedingsverwante intervensies in die mees kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika en sy buurlande. Die stigting is in vennootskap met Millhouse International besig met die ontwikkeling van ‘n uiters voedsame kitspap wat hoog is in proteïene, vitamiene en minerale.

Uitrol van projek

Die uitrol van die “Committed to Community: Health Partners during COVID-19”-projek vind plaas in samewerking met die KwaZulu-Natalse Departement van Gesondheid. “COVID-19 het die kollig geplaas op die belangrike rol van openbare-private vennootskappe in die aanspreek van gemeenskapsuitdagings in die provinsie,” sê dr Sandile Tshabalala, departementshoof by die Departement van Gesondheid. “Die saniteerder sal die verspreiding van die virus vertraag en die kitspap sal aan kinders and kwesbare huishoudings toegewys word. Die departement verwelkom hierdie aansienlike bydraes en moedig al ons maatskaplike vennote aan om hande te neem in die stryd teen die pandemie.” – Persverklaring, Tongaat Hulett