Sommige filamentagtige swamme kan in voer groei en giftige sekondêre metaboliete produseer, wat as mikotoksiene bekendstaan. Volgens ’n navorsingsartikel wat in die Journal of Dairy Science gepubliseer is, kan sommige mikotoksiene kanker veroorsaak en kan dit diere asook mense se gesondheid negatief beïnvloed. Dit is ook bekend dat hierdie metaboliete die algemene produktiwiteit in ’n kudde verlaag, wat tot groot ekonomiese verliese lei.

Daar bestaan verskeie genusse van mikotoksiene, naamlik Aspergillus spp., Fusarium spp., Alternaria spp. en Penicillium spp. Die mees algemene en mees bestudeerde mikotoksiene wat in veevoer voorkom, is aflatoksiene, fumonisiene, okratoksiene, ergotalkaloïede, searalenoon en trigoteseen. Mikotoksiene kom in ’n groot verskeidenheid voer voor, waaronder graan, groenvoer, hooi en kuilvoer. Tot op hede is meer as 400 mikotoksiene wêreldwyd geïdentifiseer.

Mikotoksienproduksie

Mikotoksiene kan beide voor en na oes geproduseer word, wat daarop dui dat ingekuilde voer ’n mengsel van mikotoksiene kan bevat indien die voer met giftige skimmels besmet geraak het. Die voorkoms van skimmel dui egter nie noodwendig op die aanwesigheid van mikotoksiene nie, aangesien nie alle skimmels dit produseer nie, en ook nie onder alle omstandighede nie.

Mikotoksieninname lei oor die algemeen tot die wanfunksionering van die immuunstelsel, wat die dier se vatbaarheid vir ander siektes verhoog.

Skimmelgroei en mikotoksienproduksie word grootliks deur faktore soos temperatuur, voginhoud, suurstofvlakke en insekaktiwiteit gedurende alle stadiums van plantproduksie en -opberging beïnvloed. Droogte of oormatige reën is van die stresfaktore wat die vatbaarheid van gewasse vir skimmelkolonisering en die vorming van mikotoksiene kan verhoog.

Mikotoksienproduserende skimmel kan in die kuilvoer groei as daar genoeg suurstof in die bunker is. Laat of vertraagde oes, stadige vulling van bunkers, verkeerde verseëling van bunkers, stadige uitvoertempo en beskadigde bunkerbedekkings dra alles by tot ’n gunstige mikroklimaat vir die verspreiding van skimmels en die produksie van mikotoksiene. Fisiese skade aan plante en bedekkings deur droogte, hael, reën of knaagdiere kan ook die voer vatbaar vir skimmelgroei maak.

Mikotoksiene en dieregesondheid

Mikotoksieninname lei oor die algemeen tot die wanfunksionering van die immuunstelsel, wat die dier se vatbaarheid vir ander siektes verhoog. Hoë vlakke van mikotoksiene in die bloedstroom kan mikotoksikose tot gevolg hê.

Meer matige vlakke van besmetting kan tot die voorkoms van subkliniese tekens lei, met ’n gevolglike afname in produktiwiteit. Kliniese tekens sluit verlaagde voerinname, ‘n afname in melkproduksie, immuunonderdrukking, reproduksieprobleme en mortaliteite in.

Mikotoksienbeheer vóór oes

Die agteruitgang van voer begin dikwels met besmetting deur swamspore uit die omgewing. Produsente kan die kanse hierop verminder deur die omgewingstres op gewasse te bestuur. Dit kan gedoen word deur die implementering van sekere agronomiese praktyke, soos om bastergewasse wat teen swaminfeksies bestand is en vir spesifieke omgewingstoestande aangepas is, te plant.

Produsente kan ook swam- en insekbesmetting voorkom deur plaag- en swamdoders toe te dien, onkruid en oesreste te bestuur, droogtestres te voorkom, behoorlik te bemes, en deur tydige wisselbou toe te pas.

Laastens is insekbeheer een van die heel belangrikste praktyke om die risiko van mikotoksienbesmetting te verlaag. Aangesien insekte as vektore van swamspore optree en skade veroorsaak wat die gewasse vatbaar maak vir swaminfeksies, moet dit voldoende beheer word.

Goeie inkuilingspraktyke

Deur noukeurig te beplan wanneer gewasse geoes word, kan produsente mikotoksienbesmetting op ingekuilde voer doeltreffend beheer. Volgens navorsing kan besmetting verminder word deur gewasse vroeër te oes. Maak egter seker dat die opbrengs-, voedings- en droëmateriaalvlakke optimaal is.

Hoe langer die geoeste gewasse aan omgewingsfaktore wat die groei van giftige skimmel bevorder blootgestel word, hoe groter is die kans dat mikotoksiene sal voorkom. Dit is daarom noodsaaklik om die geoeste voer onmiddellik te berg.

Indien kontaminasie voorkom, sal daar skimmel in die swakker verdigtingsareas van die bale of bunkers wees, soos in die boonste laag of skouers – hierdie gedeeltes is dikwels meer geneig tot suurstofinfiltrasie. Om dit te vermy, moet produsente ’n lae pH en anaërobiese toestande regdeur die bunker verseker, want dit sal die groei van giftige skimmel keer, wat weer die produksie van mikotoksiene bekamp.

Maatreëls om aërobiese stabiliteit te verbeter moet egter ook tydens uitvoer in plek wees. Dit behels onder meer die handhawing van ’n reguit, vaste silogesig, dat kuilvoer teen ’n minimum van 10 tot 16cm/dag uitgevoer word, en dat dit onmiddellik nadat dit uitgehaal is, aan diere gevoer word. –Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Richardt Venter by richardt@agsci.co.za.