Talle boere en voerkraaleienaars weet eerstehands watter skade longkwale vir ’n beesboerdery kan inhou. Alhoewel longontsteking ’n multifaktoriale siekte is en ’n groot verskeidenheid virusse daartoe kan lei, word besmetlike beesrinotrageïtis (IBR) gereeld in kuddes en voerkrale gediagnoseer. Hierdie virus is lid van die herpesvirusfamilie en word deur sekere beeste in ’n kudde gedra; dit word uiteindelik uitgeskei wanneer beeste aan stresvolle omstandighede blootgestel is.

Verskeie stresfaktore pootjie ’n bees se immuunstelsel en belemmer sy vermoë om teen die aanslag van die virus te baklei. Dit rig dan skade aan die slymvliese in die bees se asemhalingstelsel. Om longontsteking wat deur IBR of enige ander virus veroorsaak word doelgerig te bestuur, moet verskeie bestuurspraktyke onder die vergrootglas geplaas word, sodat al die faktore wat met hierdie dieresiekte verband hou, aangespreek kan word.

Só knou longkwale jou beeste

’n Bees se asemhalingstelsel kan maklik deur patogeniese organismes benadeel word as die dier se immuunstelsel nie optimaal funksioneer nie. Stresvolle omgewingsfaktore soos vervoer oor lang afstande, wanneer beeste met mekaar meng, en swak voerbestuur, kan beeste meer vatbaar maak vir long- en lugweginfeksies.

IBR in beeste is een van vele patogeniese mikroörganismes wat tot brongopneumonie kan lei. Brongopneumonie in beeste dui op die ontsteking van die lugpype wat na die longe lei. Patogeniese organismes soos IBR, beesvirusdiarree (BVD), parainfluenza 3-virus, verskeie bakterieë, mikoplasma en Chlamydophila kan alles lei tot primêre en sekondêre infeksie in die longe en boonste lugweë.

Waar ’n virus soos IBR gewoonlik sal dien as die primêre agent en oppervlakkige letsels op die longe sal veroorsaak, sal bakterieë soos Mannheimia haemolytica, Pasteurella multocida en Histophilus somnii dien as die sekondêre agente, wat dan bydra tot die ontwikkeling van volskaalse longontsteking. Mikoplasma-organismes word slegs in 50% van longontstekinggevalle geïsoleer.

Negatiewe omgewingsfaktore wat beeste onder stres plaas, speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van longontsteking. Die immuunstelsels van draers van IBR word deur spanningstoestande afgetakel, wat dan verskeie verdedigingsmeganismes van die boonste dele van die dier se asemhalingstelsel inhibeer en die virus só kans gee om verwoesting in die bees se longe te saai.

Van al die siektes in voerkrale, is long- ontsteking die hoofoorsaak van ekonomiese verliese. Gewigsverlies in diere en die koste van antibiotiese behandeling, is maar ’n paar van die ekonomiese implikasies wat boere se sakke kan knou.

IBR word wel meer gereeld gediagnoseer onder beeste in Suid-Afrika as longsiekte (besmetlike beespleuropneumonie), omdat longsiekte deur die dieregesondheidsowerhede uitgeroei is deur besmette diere onmiddellik te slag.

Die kliniese tekens

Volgens die bekende veearts en bestuurder van die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), dr Faffa Malan, is dit bewys dat ’n bees al minstens drie tot vier dae siek is teen die tyd wat ’n boer die vroeë kliniese tekens van longontsteking sal waarneem.

Na ’n stresvolle voorval, sal brongopneumonie gewoonlik vanaf tien tot 14 dae later ontwikkel. Verdere gevalle kan ook twee tot drie weke nadat die eerste gevalle waargeneem is, in die kudde gediagnoseer word. Soms kan tot 50% of meer beeste in ’n kudde deur longontsteking geaffekteer word.

By voerkraalbeeste is die opvallendste kliniese teken meestal ’n afname in eetlus. Alhoewel voerinname moeilik is om te meet, sal die geaffekteerde bees aansienlik vermaer soos wat die infeksie vererger.

Die bees se gedrag kan ook verander van ’n ondersoekende ingesteldheid tot meer asosiale neigings.

Soos wat volskaalse longontsteking mettertyd ontwikkel, sal ander tekens soos koors, lusteloosheid, neusafskeidings, oë wat traan en ’n hoë respirasietempo met moeilike asemhaling, ook opgemerk word. Beweging kan ook vergemoeilik en dit mag voorkom asof die bees stywer as normaal is.

Voorbehoeding en beheer

Diere moet vroegtydig ingeënt word en vee wat reeds longontsteking het, moet so gou as moontlik behandel word om die beste prognose te verseker. Volgens dok Faffa is inspuitbare entstowwe soms minder doeltreffend as inenting deur nasale toediening. Al die virusse wat longontsteking kan veroorsaak, is reeds ingesluit in die meeste kombinasie-entstowwe gemik op die bestryding van respiratoriese infeksies.

“Dit is baie belangrik dat ’n goeie immuniseringsprogram gevolg word. Koeie moet voor kalwing ingeënt word sodat die kalf deur teenliggame in die biesmelk beskerm kan word. Na kalwing moet die kalf genoeg biesmelk binne die eerste agt ure inkry. Goeie geboortebestuur is dus van groot belang om jou kudde se weerstand teen siektes soos longontsteking op te bou,” verduidelik dok Faffa.

Vroegtydige behandeling met antibiotiese middels is uiters belangrik om kroniese toestande in die kudde te vermy en om groei in kalfies te optimaliseer. Alhoewel antibiotika net help om bakteriese infeksies in die longe te bestry, sal die uitskakeling van stresfaktore help om beeste se immuniteit weer op te bou, wat die uitbreking van virale infeksies sal verminder. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@nashuaisp.co.za.