Verskeie faktore bepaal die sukses van ʼn besproeiingstelsel. Om te verseker dat ʼn besproeiingstelsel doeltreffend bly werk en ʼn lang leeftyd het, is daar veral twee faktore wat nie afgeskeep moet word nie – die gebruik van gehalte produkte en die onderhoud van die stelsel. Oor produkgehalte is die boodskap duidelik: Jy kan nie bekostig om die finansiële lewensvatbaarheid van jou projek in gedrang te bring deur nie in die bes moontlike besproeiingstoerusting te belê nie.

In ’n vorige artikel het ons gepraat oor belangrike stappe in die onderhoud van ʼn drupbesproeiingstelsel. In hierdie artikel is mikrospuitstelsels aan die beurt.

Die regte stelselontwerp

Ons belangrikste doelwit met die onderhoud van ‘n mikrospuitstelsel is om die leeftyd van elke spuitjie te verleng. Ons wil ook verseker dat die spuitjie vir die duur van sy leeftyd doeltreffend werk en water effektief toedien. Die doelwit van presisiebesproeiing is om die regte hoeveelheid water op die regte tyd eenvormig toe te dien.

Volgens André du Toit, Netafim se tegniese adviseur in die Wes- en Noord-Kaap, moet die versorging van ‘n mikrospuitstelsel proaktief geskied. “Ons wil nie hê dat die mikrospuitbesproeiingstelsel in ‘n piek-besproeiingstyd die gees gee nie. Ons moet ook voorkom dat probleme in die stelsel onnodige skade veroorsaak, wat beteken dat ons ons hande dieper in die sak sal moet steek.”

Deel hiervan is om die langslewendheid van die spuite ook tydens die ontwerp van die stelsel in ag te neem. “Dit is byvoorbeeld baie belangrik dat die stelsel met genoeg lugkleppe ontwerp word om te verseker dat spuite nie met die aansit van die stelsel teen baie hoë revolusies hardloop nie. Spuite is nie lugkleppe nie,” verduidelik André. Indien daar nie genoeg lugkleppe in die stelsel is nie, sal dit veroorsaak dat lug deur die spuitjie gedruk word. Die meganisme beweeg dan te vinnig sonder die verkoelende effek van die water.

Vir gelykvormige waterlewering is dit belangrik dat die mikrospuitstelsel nie net gelykvormig ontwerp word nie, maar ook tydens onderhoud gelykvormig gehou word. “Wanneer spuite of pypies tydens onderhoud vervang word soos nodig, is dit belangrik om steeds dieselfde tipe spuit met dieselfde lewering te gebruik en dit ewe hoog van die grond af te installeer. Maak ook seker dat alle mikropypies se lengte dieselfde is met ontwerp én vervanging,” verduidelik hy.

Volgens André is hierdie eenvormigheid belangrik om te voorkom dat lewering, druk en verspreiding binne dieselfde blok wissel. Dit sal natuurlik die eenvormigheid van die oes baie negatief beïnvloed. “Ons moet ook gereeld seker maak dat spuite die regte vloei lewer. Hiervoor is dit nodig dat ons die watermeter dophou om afwykings in die vloeitempo op te tel.”

Hou jou stelsel dop

Die feit dat die emittor maklik visueel nagegaan kan word, is een van die voordele van mikrospuitbesproeiingstelsels. André sê ‘n mens moet hierdie voordeel benut. Hy verduidelik dat visuele inspeksie ‘n noodsaaklike deel van ‘n mikrospuitstelsel se onderhoud is. “Ons moet gereeld deur elke blok loop om seker te maak dat alles regop staan en geen spuite deur obstruksies soos insekte of modder verstop word nie.

“Ons moet ook seker maak dat daar nie obstruksies soos onkruid in die spuit se verspreidingsbaan is nie, geen spuite gebreek is nie en dat alle spuite tydens aktiewe besproeiing water deurlaat.” Enige tekens van blokkasie of stukkende spuite moet dadelik reggestel word.

“Indien jy byvoorbeeld opmerk dat ‘n mikrospuit wankel, vervang dan dadelik die roteerder. Indien die spuit steeds daarna wankel, moet die hele spuit vervang word,” sê André. Dit is ook belangrik om uit te kyk vir soutneerslae en alge op die spuite. Indien jy dit opmerk, moet die spuit afgehaal en behandel word. Kyk ook uit vir nat kolle op die hooflyn of sublyn, wat op lekkasies kan dui, en vir ongewone groeipatrone wat op oneweredige lewering kan dui.

Die regte druk vir besproeiing

Stelseldruk speel ‘n belangrike rol in die langslewendheid van ‘n mikrospuitbesproeiingstelsel. Nie net sal te hoë of te lae druk die stelsel verniel nie, maar verkeerde druk kan ook na onder- of oorlewering lei. Volgens André sal ’n stelsel wat teen te hoë druk loop, daartoe lei dat slytasie op die spuite vinniger plaasvind en ook die tempo van verdamping verhoog.

Te lae druk kan veroorsaak dat spuite ophou draai of aan en af draai, wat tot oneweredige verspreiding en hoër slytasie sal lei. Hy stel voor dat ‘n drukreguleerder by krane geïnstalleer word en dat stelseldruk as deel van stelselonderhoud getoets word.

Hou dit skoon

Watergehalte kan ‘n baie groot impak op die langslewendheid van ‘n besproeiingstelsel hê. Daarom is filtrering een van die belangrikste dele van ‘n besproeiingstelsel. Die doeltreffende funksionering van filters dra grootliks tot die voorkoming van spuitverstopping by. Filtrasietegnologie het oor die afgelope paar jaar baie verbeter en dra in moderne drupbesproeiingstelsels daartoe by dat verstopte druppers ’n baie kleiner uitdaging as tevore is.

Klik hier om oor filterseleksie te lees.

Afhangend van watergehalte, sal laterale van tyd tot tyd gespoel moet word. “Dit is ‘n belangrike deel van stelselonderhoud. Spoel elke week ‘n ander lateraal uit om sodoende te monitor hoe lank dit neem voor dit weer nodig is om laterale uit te spoel,” verduidelik André.

By drupbesproeiingstelsels is chemiese behandeling ‘n belangrike deel van stelselonderhoud om sodoende pype en druppers skoon te hou. “Ons beveel egter nie chemiese behandelings vir mikrospuitstelsels aan nie, aangesien dit juis tot verstopping kan lei wanneer vuilgoed loskom. Onthou, in ‘n drupper verseker die vloei in die pyp dat vuilgoed uitspoel wanneer stelsels gespoel word. Die posisie van ‘n spuit in verhouding met die laterale, maak egter dat dit nie in mikrospuitstelsels moontlik is nie.”

Die belangrikste punt is steeds dat onderhoud voorkomend gedoen word om te verseker dat die stelsel lank en doeltreffend ingespan kan word. Indien die nodige aksies gereeld en suksesvol uitgevoer word, kan jy danksy doeltreffende besproeiing, meer met minder produseer.

Vir meer oor besproeiingsbeplanning en stelselkeuse, lees vorige artikels in Netafim se reeks:

Presisiebeplanning vir presisiebesproeiing
Drip Irrigation: What you need to know
Micro-sprinkler irrigation: What you need to know
Open-field sprinkler irrigation: What you need to knowNetafim Suid-Afrika


besproeiing

Besoek www.netafim.co.za vir meer inligting of
stuur ʼn epos aan infoza@netafim.com