Beste jong afslaers vir 2019 gekroon

1954
JP Marais van OVK (tweede van links) is by die ALFA-galadinee as vanjaar se Toyota SA Nasionale Jong Afslaer gekroon. Saam met hom op die foto, van links na regs, is Johan van der Nest, afslaer en beoordelaar, Annalie Lerm van Toyota SA en Barco van Niekerk, 2018 se wenner.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie in samewerking met Plaas Media se tydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, is vanjaar vir die sesde agtereenvolgende jaar gehou. Die finale rondte van dié kompetisie het in September by ALFA in Parys plaasgevind.

Albertus Gouws van Hoër Landbouskool Marlow (tweede van links) het in die junior afdeling van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie met die louere weggestap. Saam met hom op die foto is, van links na regs, Johan van der Nest, afslaer en beoordelaar, Jacques le Roux, verkoopsbestuurder by Potchefstroom Toyota, Sihle Mthombeni van Hoërskool Erasmus, wat tweede gekom het, Barco van Niekerk, beoordelaar, en Albert Loubser van Plaas Media.

JP Marais van OVK is as vanjaar se Toyota SA Nasionale Jong Afslaer gekroon. Albertus Gouws van Hoër Landbouskool Marlow het in die junior afdeling vir skoliere met die louere weggestap.

Strawwe kompetisie

JP het strawwe kompetisie in die jong afdeling gehad en het teen agt ander deelnemers wat in verskillende streeksrondtes as wenners aangewys is, meegeding. Al die deelnemers het die geleentheid gekry om ’n Merinoram twee keer op te veil – as ’n kommersiële lot en weer as ’n stoetlot. Dit het die beoordelaars kans gegee om die deelnemers se talente deeglik te toets.

Die agt ander deelnemers was Henri Beyleveld van André Kock & Seun, Shaun Kruger van Manaka Boerdery & Voerkraal, Fiso Hadebe van ICESA Kollege, Flekkie du Toit van André Kock & Seun, Bennie Steyn van BKB, Freddie Breytenbach, wat ’n meubelwinkel in Modimolle bedryf, Johan Swart, ’n landbouwetenskap-student aan die Universiteit van die Vrystaat, en Vincent Pike van OVK. Hulle is deur Rassie Erasmus en Johan van Nest, twee groot name in die afslaersbedryf, en 2018 se wenner, Barco van Niekerk, beoordeel.

Opwindende pryse

Henri, Shaun en JP is as die drie finaliste aangewys, waarna JP as die nasionale wenner by die ALFA-dinee gekroon is. JP het by Agri-Expo Livestock in Oktober verlede jaar gekwalifiseer. Dit is die tweede jaar wat hy aan die nasionale kampioenskap deelneem. Hy het ’n kontantprys van Toyota SA ontvang en sal ook die geleentheid kry om Suid-Afrika tydens die Calgary Stampede in Kanada te verteenwoordig. – Michelle Verster, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Imele Loubser by 072 603 3953 of stuur ’n epos aan imele@plaasmedia.co.za.