Die negende SA Stamboek/Standard Bank/Telwiedrè Voere Elite Prysuitdeling vir 2019 het op 29 April 2019 by Monte Bello Estate plaasgevind. Die geleentheid is vroeër die middag voorafgegaan deur die gesogte SA Stamboek/Vleissentraal Elite Bulgroeiklas by die Bloemskou.

SA Stamboek/Vleissentraal Elite Bulgroeiklas

‘n Rekord-aantal van 18 bulle is vir 2019 deur die onderskeie telersgenootskappe genomineer en die wenner is die middag van 29 April 2019 tydens Bloemskou in die hoof-beesring bekendgestel.

Die Elite Bulgroeitoetsklas-wenner van 2019 is ZEC Match, ‘n Rooi Angus-bul van dr Enslin Coetzee en sy skoonseun, Issie Liebenberg van ZEC Angus-stoet in Bothaville.

Plaas Media/SA Stamboek Elite 2019 Platinum Bul-toekennings

Slegs vyf bulle kwalifiseer jaarliks op grond van ‘n gekombineerde genetiese waarde vir vrugbaarheid vir hierdie toekenning.

Die Elite Platinum Bul-toekennings vir 2019 is:

  • Willem Pieterse, Sarwipi Beefmasters.
  • Johan Ehlers, Ehlerskroon Bonsmaras.
  • Frans van Zyl en Seuns, Franzel Bonsmaras.
  • André Höll, Anko Bonsmaras.
  • Chris Visser, Skatkos Bonsmaras.

Landbouweekblad/SA Stamboek Elite 2019 Platinum Koei-toekennings

Slegs een koei per ras (per telersgenootskap) kan kwalifiseer vir hierdie toekenning. Hierdie koeie is by uitnemendheid die beste van die beste teelkoeie wat op Stamboek se Logix-stelsel aangeteken is.

Die Elite Platinum Vleisbees Koei-toekennings vir 2019 is:

  • Die Fredericksburg Angus-stoet.
  • Dail van Rensburg, Rensbou Ankole.
  • Hardus Steenkamp, Hardus Steenkamp Beefmasters.
  • Dr Ferdi Hartzenberg, Denand Bonsmaras.
  • Dr Joggie Briedenhann, Hartebeestloop Bonsmaras.
  • Loutjie Campher, Loumotta Charolais.
  • Gawie en Frik Roux, Rouvus Drakensberger-stoet.
  • Heiko Koster, Vicedale Herefords.
  • HCJ van Rensburg, Koperkop Hugenoot-stoet.
  • Dawie Kotzé, Boesmanspoort Nguni-stoet.
  • Dail van Rensburg, Rensbou Romagnola-stoet
  • Basil Butler, Calcrete Senepols.
  • JF Miller, Winston South Devon-stoet.
  • Rhys Evans Group (Pty) Ltd, Huntersvlei Sussex.
  • Uysie Willemse, Trumps Tuli-stoet.

Merieux Nutrisciences/SA Stamboek Elite 2019 Platinum Melkkoei-toekennings

Hierdie toekenning is vir die eerste keer gemaak en gee erkenning aan die beste van die beste melkkoeie in Suid-Afrika. 

Die Elite Platinum Melkbees Koei-toekennings vir 2019 is:

  • Jan Wessels, Meesuid Ayrshires.
  • Dr Kobus Hendriks, Spitsvuur Holsteins.
  • AJ, JA en PJ Schoonwinkel, Kluitjieskraal Jerseys.

Unistel/SA Stamboek Elite Ontwikkelende Stoetteler 2019

2019 se Ontwikkelende Stoetteler is Regomoditswe Malao, ‘n Boran-teler van Ventersdorp. Sy stoet is in 2014 gevestig en hy maak seker dat hy slegs die beste genetiese materiaal aanwend in sy kudde. Sy seleksiedoelwitte is gegrond op die ekonomies-belangrike eienskappe, naamlik vrugbaarheid, groei, genoeg melk, aanpasbaarheid en funksionele bouvorm. 

Farmers’ Weekly/SA Stamboek Mentor-teler 2019

Cassim Hassim, ‘n Bonsmara-teler van Bethal in Mpumalanga, is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n stoetteler wat aktief meewerk om nuwe veeboere by te staan om suksesvol te boer. Sy prominente deelname aan die African Muslim Farmers Association (Amfa) se opleidingsprogramme maak hom ‘n waardige ontvanger van die toekenning.

Vleissentraal/SA Stamboek Elite Vleisbees-stoetkudde 2019

Die wenner van die Vleissentraal/SA Stamboek Elite Vleisbees-stoetkudde 2019 is die Rhenosterfontein Beefmasterkudde van Hendrik Meyer van Naboomspruit.

Rhenostervallei Beefmasters is in 2007 geregistreer. Die boerdery word op twee plase bedryf, Rhenostervallei naby Radium en Roodepoort naby Naboomspruit. Die doel is om hoë-gehalte bulle en verse aan die stoet- en kommersiële mark beskikbaar te stel. Hoë standaarde word behaal met behulp van genomiese toetsing, ouerskap, groeitoetse en streng seleksie vir bouvorm, vrugbaarheid en groei.

Vleissentraal/SA Stamboek Elite Kleinvee-stoetkudde 2019

Die wenner van Vleissentraal/SA Stamboek Elite Kleinvee-stoetkudde vir 2019 is die Meatmaster-kudde van Collett Farming naby Gariepdam.

Die plaas La Rochelle is suid van die Gariepdam. Die Collett-familie het groot sukses met hulle Meatmasterstoet. Die stoet bestaan uit 600 teelooie. Daar word geselekteer vir direkte groei, maternale groei en aantal lammers gespeen. Die fokus is verder op funksionele, doeltreffende maklik-bestuurbare skape.

Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Melkkudde 2019

Die Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Melkbeeskudde-wenner vir 2019 is Kluitjieskraal Jerseys van AJ, JA en PJ Schoonwinkel in die Suid-Kaap.

Die kudde is ook die wenner van die Merieux Nutrisciences SA Stamboek Elite 2019 Genetiese Suiwelkudde van die Jaar.

Kluitjieskraal Boerdery is ‘n gemengde boerdery met 750 koeie in melk, 3 000 Dohne Merino-teelooie, 400 varke en 1 700ha saailande. JA en PJ Schoonwinkel is die vyfde generasie op die plaas. Die Jerseykudde is aansienlik uitgebrei nadat ‘n nuwe melkstal in 2000 opgerig is. Die kudde is tien jaar gelede as ‘n stoet geregistreer.

Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Perde-stoetkudde 2019

Die Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Perdekuddewenner vir 2019 is die Sidi Arabierperdstoet van Jack Maritz in die Upington-distrik.

Jack Maritz, ‘n skaap- en beesboer van die plaas Kamkuit in die Upington-distrik, het in die sewentigerjare kennis gemaak met Arabierperde toe hy sy neef, Fanie, se nuwe suiwer Arabierperdhings met hul gewone merries gekruis het. Dié kruisings was uitstekende werkers op sy groot, semiwoestynagtige plaas. In die tagtigerjare het hy die Sidi Arabierperdstoet geregistreer. Hy glo ‘n perd is op die plaas om te werk en nie om mooi te lyk nie.

Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Stoetkudde (Ander) 2019

Die Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek Elite Stoetkudde van die Jaar vir ander spesies, se wenner vir 2019 is die Afrika Boerboelstoet van Karlien Greeff.

Karlien Greeff en haar familie het die Afrika Boerboelstoet in 1994 begin. Hul liefde vir die Boerboelras het die grondslag gelê vir wat nou ‘n volskaalse internasionale teelstoet van hoë-gehalte Boerboele is. Hulle suksesresep behels die bestudering van bloedlyne, bepaling van karaktereienskappe eg aan die Boerboel-temperament, -struktuur en -funksionaliteit, en die strewe na die konstante verbetering van die ras van een generasie na die volgende. Streng seleksie vind plaas en elke Boerboel word geteel uit ‘n familie wat deurgaans goed presteer het. Die stoet maak ook gebruik van gesondheidstoetsing vir die regte seleksie en deurgaans die goeie eienskappe in die ras te ontwikkel en te verbeter.

Spesiale toekennings

‘n Spesiale toekenning en geskenk vanwaardering is in 2019 gegee aan Nick Serfontein van die Sernick Groep gemaak vir sy bydrae tot die meting van karkas-eienskappe byvleisbeeste. Nick het ‘n ultrasoniese skandeerder aangekoop en dit tot die beskikking van SA Stamboek se tegniese adviseurs gemaak. Hierdie hulpmiddel lewer ‘n beduidende bydrae tot die uitbreiding van objektiewe metings van teeldiere en het tot gevolg dat die aantal karkasmetings met ultrasoniese metings op potensiële teelbulle in die huidige Stamboek finansiële jaar, met 33% verhoog het. Dit stel al hoe meer telers in staat om ingeligte seleksiebesluite te neem op grond van genetiese meriete .

SA Stamboek Presidentstoekenning

Die 2019 SA Stamboek Presidentstoekenning het vanjaar gegaan aan Klasie Loubser.

Loubser het ‘n besondere bydrae gemaak as mediator en vredemaker in situasies waarby Stamboek in die onlangse verlede betrokke was. Sy integriteit is bo alle twyfel en sy optrede altyd in belang van die bedryf en Suid-Afrika.

Klik op die skakel om ‘n gratis eksemplaar van 2019 se SA Studbreeder/SA Stoetteler te lees of af te laai. Die tydskrif loop hand-aan-hand met die Elite-toekenings en meer inligting or genomineerde telers en wenners kan in die tydskrif gevind word.