veeboere

Die Beste van die Bestes Bees- en Skaapboer van die Jaar Toekennings se naam is uiters gepas. “Wat vir my uitgestaan het van die kompetisie, is om die innovasie by gewone kuddeboere in Suid-Afrika te sien,” was Dawie Maree, hoof van landbou-inligting by FNB, se kommentaar. Hy is beide as borg en beoordelaar by die kompetisie betrokke.

Daar is geen twyfel dat Suid-Afrika van die beste veeboere ter wêreld het nie. Die kompetisie is juis ’n geleentheid om die beste boere uit die poel van uitstekende Suid-Afrikaanse veeboere te identifiseer en aan hulle erkenning te gee.

Die wenners is Dinsdagaand, 13 November 2018, in Bloemfontein aangekondig. Die 2018 Skaapboer van die Jaar is Andrew Jordaan en seuns van die plaas Spekboomberg in die Cradock-omgewing. Hulle boer met Merino- en Dormerskape. Die 2018 Beesboer van die Jaar is Patrick en John Eustace van die plaas Moyeni in die Underberg-omgewing. Hulle boer met Braford- en Herefordbeeste.

Die Jordaans van Cradock

“Vanaand is ons regtig bevoorreg om die toekenning te kry. Ons glo daarin om as ’n span saam te werk en dat ons beter en beter hoogtes sal bereik. Erkenning soos dié ondersteun die gedagte. Ek glo ons moet positief wees oor die toekoms van die land en dat ons moet aanhou hard werk om verder uit te styg,” het Andrew Jordaan junior gesê by ontvangs van die toekenning.

Andrew Jordaan en sy seuns Wilhelm, Ginkel en Andrew junior gee volgens die beoordelaars die pas aan wat innovasie in die skaapbedryf betref. Die span maak al vir meer as 30 jaar lank gebruik van laparoskopie om stoetooie te insemineer, wat saam met goeie voedingspraktyke en bestuursbeginsels lei tot ’n lampersentasie van tot 170%.

Die boerdery is nie net ’n skaapboerdery nie, en buiten die Merino- en Dormerskape word daar ook met Holstein-, Fries-, Boranbeeste en mielies geboer. Die bestuur van weiding is vir die Jordaans baie belangrik en hoëdrukbeweiding met ’n rotasiekampstelsel, asook natuurlike weiding in bergveld word gebruik. Die skaapbestuur word aansienlik vergemaklik deur die gebruik van radiofrekwensie-identifikasiestelsels (RFID), waarmee die Jordaans ’n voorloper was.

Die Eustaces van Underberg

“Ons wil vir die borge en beoordelaars dankie sê dat hulle die kompetisie moontlik maak. Dit is vir ons ’n baie groot geleentheid in die geselskap van soveel top boerderye, aangesien ons weer baie by dié boerdery leer. Die erkenning is uitstekende motivering om altyd aan te hou verbeter,” het John Eustace gesê by ontvangs van die toekenning.

Patrick en John Eustace is ’n geesdriftige en baie suksesvolle pa-en-seunspan. Alhoewel die gewasverbouing-vertakking van hul boerdery uitgebrei is na 40% van die boerderyinkomste, is die veevertakking steeds die kern van die boerdery.

Dit is ’n ekstensiewe veeboerdery wat staat maak op die natuurlike bergagtige weiveld. Die beeste word in klein troppe gewei en volgens ’n driekampstelsel elke twee weke afgewissel. Aangesien Pat en John ’n buurplaas bekom het, kan hulle elke tien jaar ’n kampstelsel ’n jaar lank laat rus. Die kampe is gemiddeld 100ha elk.

Die geskiedkundige Hereford-stoet is ’n baie belangrike deel van die boerdery. Al die uitskot-diere word in ’n voerkraal afgerond. Die ligter kalwers word tot sowat 220kg afgerond op raaigras wat tussen die mieliereste geplant is.

Ander finaliste

Soos die kompetisie se naam lui, word die bestes van die bestes vereer. Elke finalis is ’n top boerdery wat vir spesifieke redes uitgekies is om aan die kompetisie deel te neem. Die ander Skaapboer van die Jaar-finaliste was Henry du Plessis van Waaifontein by Kareedouw en Andries Greyling van Humania by Vrede. Die Beesboer van die Jaar-finaliste was PJ Hassard van Silvasands by Hluhluwe en Mark Anderson van Briarlea by Underberg.

Dit is wonderlik om te sien hoe die boere heeltyd vorentoe beweeg met hul boerderye en watter praktyke hulle toepas om dit te behaal,” was Kenny Crampton, nasionale verkoopsbestuurder van Voermol, borg en beoordelaar, se kommentaar.

Cobus Oberholzer, hoof van lewendehawe en eiendomme by BKB, stem hiermee saam. “Die toenemende toepassing van tegnologie in die boerderye is wat vir my uitgestaan het. Dit was beslis ook een van die bepalende faktore van die wenners. Ons kan met gemak sê dat veeboere vandag baie meer wetenskaplik boer as tien jaar gelede.” – Marike Brits, AgriOrbit