Die sesde veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 13 776 bale, waarvan 92,9% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 1,3% en 222 punte verbeter. Dit het op ‘n waarde van R169,82 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,7% versterk en die Australiese EMI het met 1% afgeneem.

Die rand was 1,2% sterker teen die Amerikaanse dollar en 6,4% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 2,6% verbeter in US dollar-terme.

Wolmark lig sy kop na daling

Die wolmark het sy kop gelig na verlede week se daling, maar was gekniehalter deur die sterk rand, veral die wesenlike versterking van 6,4% teenoor die euro. Die aanbod van 13 776 bale het goeie mededinging vir die beter tipes wol meegebring. Die grootste spronge was in die 20,5 tot 23 mikron reekse.

Die mark het die opwaartse beweging in die Australiese mark nagevolg met goeie mededinging tussen plaaslike kopers. Dit kan deels toegeskryf kan word aan die hervatting van besigheidsaktiwiteite na afloop van die Chinese vakansie.

Die beperkte aanbod van kortwol het gelei tot groot stygings in die skeerselkategorie. Gesertifiseerde wol het weereens premiepryse ontvang. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Modiano SA, Standard Wool SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 2,5% en sluit teen R182,97/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 0,3% en sluit teen R183,94/kg.
  • 19 mikron verhoog met 0,1% en sluit teen R181,64/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,6% en sluit teen R179,37/kg.
  • 20 mikron is 0,8% op en sluit op R174,78/kg.
  • 20,5 mikron is 0,8% sterker en sluit op R172,44/kg.
  • 21,0 mikron styg met 1,7% en sluit op R172,31/kg.
  • 21,5 mikron het 1,3% toegeneem en sluit op R171,94/kg.
  • 22 mikron styg 2,2% en sluit op R172,20/kg.
  • 22,5 mikron is 1,5% beter en sluit op R172,32/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 17 Oktober 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA