Bestuur weidings en ander natuurlike hulpbronne optimaal

1440
Beeste is sogenaamde lae-selektiewe grasvreters en het ’n voorkeur vir ruvoer en smaaklike, maar groter, witbuffelgras.

Met toenemende druk op natuurlike hulpbronne om ’n groeiende bevolking gevoed te hou, word die optimale aanwending, en dus ook bestuur, van natuurlike hulpbronne al belangriker. Frits van Oudtshoorn, ’n weidingspesialis by Africa Land-Use Training, sê dié natuurlike hulpbronne is vir ’n veeboer die veld en lande op sy plaas, hetsy dit onder aangeplante weidings of eenjarige kontantgewasse beplant is.

Hy sê die ou sêding dat ’n veeboer in die eerste plek ’n grasboer is, is baie waar. “Dit gaan egter oor meer as net die produksie van gras. Dit gaan grootliks oor voldoende weiding. Hoe meer weiding ’n mens het, hoe meer diere kan jy aanhou en hoe meer diere jy kan aanhou, hoe groter is jou reproduksie en omset op die plaas.

“Die beste veeboere het die vermoë om gebalanseerd te dink – om die veekomponent en die weidingskomponent in balans te sien. Ek was al op plase waar die boer se passie en fokus net by die diere lê, en waar die veld se drakrag so agteruitgaan dat die boerdery nie meer wins maak nie. Die ander kant van die spektrum kan ook gebeur – dat al die aandag aan die weidings gaan en die gehalte van die vee van so ’n aard is dat hulle nie die weidings optimaal kan benut nie.”

Ryk diversiteit

Hy sê Suid-Afrika het ’n ryk diversiteit aan weidingsgewasse, maar as hy gedwing word om ’n paar toonaangewende weidingsgrasse uit te sonder, sou dit rooigras, vingergras (of Smutsvinger), witbuffelgras (Panicum maximum), bloubuffelgras, kweekgras, borseltjiegras, swartvoetjiegras, fynsaadgras, bruin hoenderspoor en Rhodesgras wees.

Skape en beeste het totaal verskillende behoeftes by die benutting van weidings. Beeste is sogenaamde lae selektiewe grasvreters en skape selektiewe gemengde vreters. Albei hierdie groepe diere, soos enige tipe vee of wild, is egter selektief en vreet eerste die smaaklikste grasse.

Die groot verskil is dat beeste groter monddele het en meer ruvoer vreet, terwyl skape met hulle kleiner monddele beperk is tot korter grasse, dikwels met sagter blare. ’n Goeie voorbeeld van ’n goeie gras vir skape is die baie smaaklike en kort kweekgras. Beeste het ’n voorkeur vir die baie smaaklike, maar heelwat groter, witbuffelgras.

Veldweidings en aangeplante weidings

Die grootste verskil tussen veldweidings en aangeplante weidings is dat aangeplante weidings waarskynlik geselekteer en veredel is. “Aangeplante weidings word al hoe belangriker omdat ons al hoe meer van al hoe minder grond moet produseer. Intensifisering is dus ’n voldonge feit en aangeplante weidings is een van die maniere om dit volhoubaar te doen.

“Aangeplante weidings is die vestiging van ’n verbeterde of veredelde smaaklike veldgras onder verbeterde toestande, waar van bemesting en selfs besproeiing gebruik gemaak word. Dit bring natuurlik mee dat die gehalte en hoeveelheid van aangeplante weidings drasties hoër is as dié van natuurlike weidings. Goed gevestigde aangeplante weidings onder droëland kan byvoorbeeld ’n weidingskapasiteit van 1ha per grootvee-eenheid (GVE) hê, terwyl veld op dieselfde plaas ’n kapasiteit van 10ha per GVE het.

“Ons kan natuurlik ons voervloei deur die jaar ook met aangeplante weidings verbeter deur hooi of kuilvoer te maak of winterweiding (in somerreënvalgebiede) te plant.”

Optimale bemesting

Frits sê dit moet as ’n belegging beskou word om weidings aan te plant, en ’n belegging moet natuurlik so goed as moontlik in stand gehou word om die beste waarde daaruit te kry. Dit beteken dat optimale bemesting van die weidings noodsaaklik is.

Die belangrikste bemesting is die grondslag-bemesting tydens vestiging. Met hierdie bemesting word die pH- en fosfaatvlakke reg gekry. Stikstof is veral nodig. Stikstof verhoog nie net die produksie nie, maar ook die proteïenwaarde en smaaklikheid. Die tipe en hoeveelheid bemesting moet verkieslik op ’n grondontleding gebaseer word. ’n Algemene duimreël is 0,20 tot 0,25kg stikstof/ha/mm reën.

Konsep van drakrag

’n Konsep wat deeglik verstaan moet word omdat dit noodsaaklik is vir die optimale benutting van weidings, is drakrag. Die drakrag van ’n plaas is die som van die drie bronne van voer op ’n plaas, naamlik die bydrae van veld of natuurlike weiding, wat natuurlik die goedkoopste voerbron op die plaas is, die aangeplante weidings en dan die oesreste.

Veld se drakrag hang tot ’n groot mate af van hoeveel polle goeie smaaklike weidingsgrasse per gegewe gebied is. Verder speel die grootte van die polle (of hul groeikragtigheid) ook ’n belangrike rol. Dit is hierdie grasse wat die meeste deur vee gevreet word en wat die meeste voedingstowwe bevat.

Goeie voervloeibeplanning

Frits meen die mikpunt van goeie voervloeibeplanning is om regdeur die jaar voldoende weiding vir die vee te hê. “Een gemene deler by alle goeie weidingstelsels is dat kampe om die beurt ’n volle groeiseisoen se rus kry. Hierdie rus is ten minste elke tweede of derde groeiseisoen nodig. Die rus is belangrik sodat smaaklike grasse tyd kry om saad te produseer en groeikragtigheid op te bou. Hierdie ruskampe word dan ook as ’n voerbank in die droë seisoen benut.

“Die term ‘belading’ is in hierdie verband net so belangrik, veral waar min of geen binnekampe vir wisselweiding beskikbaar is nie. Waar geen kampe beskikbaar is nie en waar die veld dus aanhoudend bewei word, moet die plaas verkieslik onder sy ekologiese kapasiteit belaai word om seker te maak dat selektiewe beweiding nie veroorsaak dat al die smaaklike grasse uitgevreet word nie en reserwes vir die volgende droogte dus nie opgebou kan word nie.”

Volgens Frits is ’n ander beginsel wat ook verstaan moet word onderbeweiding, wat eweneens negatiewe gevolge kan hê. “Onderbenutting van veld is veral in dele met hoë reënval (suurveld) ’n probleem, aangesien ou onsmaaklike grasmateriaal vinnig kan opbou.

“Vertrapping met hoëdrukbeweiding of ’n voorgeskrewe brand, kan dan nodig wees om die veld weer smaaklik te maak. In dele met laer reënval (soetveld) is onderbeweiding minder van ’n probleem, aangesien grasmateriaal minder opbou en die meeste grasse selfs in die droë seisoen goed benut word.”

Stryd teen onkruid

Frits sê boere wat gereeld weidings aanplant, voel asof hulle ’n ewige stryd voer teen onkruid. Die sleutel lê egter in goeie bestuur.

“Meerjarige grasse het die vermoë om eenjarige onkruide te onderdruk, mits dit in ’n goeie toestand is. Goeie weidingsbestuur en bemesting van aangeplante weidings behoort onkruide dus te beheer. Waar onkruide wel reeds oorgeneem het, moet hierdie goeie bestuur saamgaan met ’n beheerprogram wat chemiese en/of meganiese beheer insluit.”

Frits doen konsultasiewerk en bied opleidingsprogramme regoor die land aan. Vir meer inligting, skakel hom by 078 228 0008 of stuur ’n epos aan frits@alut.co.za. – Izak Hofmeyr, Veeplaas