Die vergeling van makadamiabome is ‘n redelike algemene verskynsel in baie boorde in Suid-Afrika, net soos in ander dele van die wêreld. Dit kom algemeen op sanderige, hooggeloogde gronde voor, maar ook op gronde met ‘n hoë kleipersentasie en gronde met ‘n swak struktuur.

Arm gronde en swak bestuur het dus ‘n groot impak op die beskikbaarheid van yster (Fe) in makadamias. Die omvang en intensiteit van voorkoms van die probleem het my genoodsaak om dit in diepte te ondersoek. Die groot vraag is waarom juis die beskikbaarheid van spesifiek yster, en nie een van die ander mikro-elemente soos sink en koper wat ook positiefgelaaide mikro-elemente is nie, so ‘n groot probleem by makadamias veroorsaak.

Die faktore waarna gekyk was, is die vorme waarin yster in die grond voorkom, hoe opname deur die plant plaasvind, die rol wat dit in die plant speel en laastens die faktore wat opname beïnvloed. Hierdie artikel bespreek kortliks die vorme waarin yster in die grond voorkom en die opname daarvan. Daarna fokus dit in meer detail op die rol wat yster speel en die faktore wat opname daarvan belemmer en wat kan gedoen word om die probleem aan te spreek en te voorkom.

Vorme van yster en opname

Yster kom meestal voor as ’n ferri-oksied of hermatiet wat hoogs onoplosbaar is. Dit gee ’n rooi kleur aan grond. Wanneer die grond goed deurlug is, help oksiede, hidroksiede en sulfate, wat almal negatief gelaaide deeltjies in die grond is, om die yster oplosbaar te maak. Sulke gronde se pH is gewoonlik laer as 6,0.

Organiese materiaal in die grond kan die yster na ’n ferriese verbinding verander, wat dit meer planttoeganklik maak as gevolg van die organiese sure in die materiaal wat die yster komplekseer.

Yster se belangrikheid vir plante

Yster is ‘n mikro-element wat, van al die mikro-elemente, die meeste benodig word deur plante. Yster help met die respirasie (asemhaal) van die plant, speel ‘n belangrike rol in fotosintese (energie-bou), en help om opgeneemde stikstof en swael in die plant rond te beweeg. Sonder yster kan die vorming van chlorofil (bladgroen) nie plaasvind nie.

Wanneer ’n ystertekort voorkom, begin die areas tussen die blaardele vergeel (Foto 1).en later die hele blaar (Foto 2 en 3). Omdat geen energie produksie en oordraging kan plaasvind nie, begin die plant terugsterf indien die tekort nie betyds herstel word nie.

Faktore wat ysteropname belemmer

 Oortollige fosfaat(P): Makadamia is familie van die proteaceae wat ‘n proteoïede-vertakking van wortelhare in ‘n balletjie wortelsisteem het (Foto 4). Die wortels is in staat om minerale elemente, en veral fosfaat en yster, in baie lae konsentrasies uit die grond op te neem. Wanneer fosfaat in oormaat voorkom, word die wortelhare nie gevorm nie en dit het ‘n direkte invloed op die opname van yster. As gevolg van die hoë fosfaat word die fosfaat dan maklik geabsorbeer, ten koste van ander moeiliker beskikbare elemente soos yster.

Makadamia se wortelhare kom voor in ‘n balletjie wortelsisteem.

Grond pH: Yster is baie goed oplosbaar by ‘n grond pH van 5 tot 6,5. By gronde met ‘n pH van 7 en hoër, vorm yster onoplosbare verbindings met ander minerale in die grond soos kalsium (Ca) en magnesium (Mg), veral in die karbonaatvorm. Ander elemente in oormaat wat kompeteer vir opname is mangaan (Mn), natrium (Na) en sink (Zn).

Lae temperature: Yster word onoplosbaar by grondtemperature onder 5°C, maar makadamiawortelaktiwiteit neem reeds sterk af by grondtemperatuur onder 13°C.

Nat en koue grondtoestande: Nat koue toestande beperk die suurstof in die grond, wat veroorsaak dat ander minerale soos mangaan in oplossing kom en dan die opname van yster beperk. Onder versuiptoestande sterf die wortels, veral die sy- en bywortels, wat verantwoordelik is vir die opname van voedingstowwe soos yster, vining af. Yster word slegs deur aktiefgroeiende wortels opgeneem.

Mikrobetekorte: ’n Tekort aan die voorkoms van mikrobe, soos Thiobacillus ferrooxidans-bakterieë, wat help om yster en sink oplosbaar en beskikbaar vir die plant te maak, kom veral voor op ligte en geloogde sanderige gronde wat laag in organiese materiaal en mikro-aktiwiteit is. ’n Lae voorkoms van bakterieë is ook algemeen in gronde wat voorheen berook was met berokingsmiddels soos EDB, wat gebruik was vir die beheer van aalwurm en grondgedraagde siektes.

Wortelsiektes: Wortelsiektes soos Phytophthora verswak die plant se wortelstelsel en veral die fyn wortels wat verantwoordelik is vir die opname van voedingstowwe en water.

Voorsorgmaatreëls vir beter produktiwiteit

Eerstens moet die oorsaak van die probleem bepaal word. Begin by die begin en ondersoek die moontlikhede stap vir stap. Die belangrikste is die neem van ‘n blaar- en grondmonster om die omvang van die probleem te bepaal.

Die grondmonster gaan belangrike inligting soos die pH en die tekstuur van die grond weergee, soos wat die sand-, slik-, klei- en klippersentasie in die grond is. Dit gee ‘n aanduiding van die grond se vermoë om minerale-elemente vas te hou en dit weer aan die plant beskikbaar te stel. Dan gaan ook die chemiese waardes van elke element in die grond weergee en ‘n aanduiding gee van die verhoudings waarin dit voorkom.

Verder moet die grond ondersoek word vir grondkompaksie, soos oppervlakteverdigting. Dit kan deur middel van ‘n penetrometer bepaal word en kan ook verdigting in die dieperliggende grondlae uitwys. Om die dieper grondlae en wortelontwikkeling te ondersoek, sal dit nodig wees om ‘n grondprofielgat te grawe in die wortelsone van die boom.

Vermy die gebruik van organiese bemestingstowwe wat hoog in fosfate- en natriumsoute is. Die toediening van van goeie kompos (organiese materiaal) kan die vorming van wortelbondels bevorder, wat die opname van elemente soos yster bevoordeel. Die organiese sure in die materiaal help ook om die yster en ander minerale makliker beskikbaar te maak vir die plant.

Op gronde wat voorheen berook was of wat baie geloogd voorkom, moet mikrobes voor of met plant, en soms selfs gedurende die boord se bestaan, toegedien word om die uitruiling van minerale soos yster te optimaliseer.

Een van die belangrikste voorsorgmaatreëls is om sterk, gesonde boompies wat geen teken van ystertekorte toon nie, te plant. Kwekerye kan reeds vroeg selekteer vir boompies wat swak is en tekens toon van swak ysteropname.

Maak gebruik van sinteties cheleerde ysterprodukte vir grondtoediening en organies cheleerde ysterprodukte vir blaartoedienings om doeltreffende opname te verseker.

Ter samevatting kan ons sê dat voorsorg getref kan word om ystertekorte te beperk deur voorplant-grondondersoeke te doen, goeie plantmateriaal te gebruik, goeie grondvoorbereiding te doen en nasorg te doen deur gereelde ysteraanvullings toe te dien.

Vir meer inligting en navrae, kontak die outeur by epos nicoc@laeveld.co.za of skakel 082 928 9291. – Nico Claassens, Laeveld Agrochem

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here