Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf is baie bekommerd oor die moontlike ekonomiese gevolge wat die uitbreking van bek-en-klouseer in die noorde van die land kan inhou. Vleisbeesboere in Limpopo krap ook kop oor die skynbare traagheid van die owerheid om dié potensiële ramp met die nodige erns te benader.

Read it in English. 

Twee van Suid-Afrika se buurlande, Botswana en Namibië, het dadelik hul grense vir die beweging van gesplete hoefdiere en produkte van dié diere vanuit Suid-Afrika, gesluit. Vleishandel met die Europese Unie (EU) en ander internasionale handelsvennote het ook tot stilstand gekom.

Oor die afgelope paar dae, sedert die aankondiging van die positiewe toetsresultate, moes boere skarrel om uitvoer-diere op pad na Namibië en Botswana wat in kwarantyn gestaan het, uit die kwarantynkrale te verwyder en terug te bring na hul plase.

Die vrees bestaan dat dit ’n finansiële ramp vir die bedryf kan wees. Die vorige uitbreking van die siekte het die land sowat R6 miljard gekos. Daar bestaan ook kommer dat die handelsbeperkings na vrugte, groente en ander landbougewasse kan uitbrei.

Botswana verbied byvoorbeeld, naas diere en diereprodukte, ook die invoer van veldgras, dierebeddegoed, dieremis en alle gekontamineerde produkte uit Suid-Afrika. Selfs voertuie wat dieremis aan het, word toegang geweier.

Die uitbreking van bek-en-klouseer, wat alle diere met gesplete hoewe kan besmet, buite die beheergebied, is in die Vhembe-distrik bevestig. Die gebied is onder kwarantyn geplaas, wat die beweging van diere en diereprodukte vanuit die gebied verbied. Die welslae om dit af te dwing, is egter ’n tameletjie. Heinings is in baie gevalle stukkend en mannekrag is min.

Die grootste bekommernis

Die rooivleisbedryf en die Limpopo Dieregesondheidsforum (LDGF) waarsku lank reeds dat die swak heinings op die noordgrens én die heinings tussen die bek-en-klouseer beheer-, buffer- en skoongebied nie sulke rampe kan voorkom of die beheer daarvan kan hanteer nie.

Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo Dieregesondheidsforum, sê die probleme wat in die stelsels – wat die verspreiding van die siekte van die beheergebied deur die buffersone na die skoongebied moet voorkom – bestaan, is die grootste bekommernis. Hy sê volgens die amptelike verklaring is die siekte by twee diere bevestig, maar dit gaan ’n reuse-taak wees om te bepaal of dit die enigste twee siek diere is. Bloed moet van al die diere in die besmette gebied getrek word om te verseker die ander diere is skoon van bek-en-klouseer.

Daar is nie voldoende beheer om te verhoed dat van die diere uit die gebied nie op veilings beland nie. Diere in die beheergebied en buffersone is weliswaar met plaatjies gemerk, maar dit is die maklikste ding op aarde om die plaatjies te verwyder.

Gebrek aan kapasiteit en befondsing

Koos van der Ryst van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê die uitbreking is uiters slegte nuus vir die rooivleisbedryf, veral as in ag geneem word dat die beesvleisbedryf op die drumpel gestaan het van wesenlike vleisuitvoere na lande soos China.

Die RPO het aan die einde van 2018 sy kommer oor die bek-en-klouseer situasie uitgespreek omdat daar ’n gebrek aan kapasiteit is om maatreëls vir dié siekte in plek te hou. Ondanks die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se beste pogings, is die gebrek aan befondsing op nasionale en provinsiale vlak die grootste bron van kommer.

Die RPO, in samewerking met die nasionale dieregesondheidsforum, doen alles moontlik om te verseker dat daar genoeg geld vir die hele proses is. Dit is van kardinale belang om die tesourie, die nasionale- en provinsiale Departemente van Landbou sowel as instansies soos die EU as moontlike befondsingsdonateurs in dié verband te nader. Die bedryf sal ook betrokke moet wees.

Verder sal die RPO ook met die departement en alle ander organisasies saamwerk om die huidige uitbreking op so ’n manier te hanteer dat vertroue geskep word, wat beteken dat Suid-Afrika se bek-en-klouseer vrye sone status so gou as moontlik herwin kan word.

Verskeie probleme uitgewys

Willem sê kommer oor die beheer van die beweging van diere uit die beheer- na die skoongebied, en vermanings dat inentingsprogramme vir diere in die beheergebied noodsaaklik is om die nasionale kudde teen bek-en-klouseer te beskerm, is herhaaldelik deur die LDGF te berde gebring. Die provinsiale veeartsenydienste het egter telkens aangedui dat prosedures in plek is om die nasionale kudde teen die siekte te beskerm, en die land se uitvoerstatus in plek te hou.

Die LDGF het herhaaldelik daarop gewys dat:

  • Die toestand van die internasionale grense van Limpopo, asook grensbeheer op daardie grense, uiters ondoeltreffend is vanweë vervalle grensheinings, en dat dit dieregesondheid in die land en Suid-Afrika se uitvoerstatus in gevaar stel.
  • Beheer oor beweging van diere (wild en vee) uit hierdie gebiede nie na behore beheer word nie – veeartsenydienste, die SAPD en die verkeerspolisie is almal gesamentlik hiervoor verantwoordelik, maar onkunde en korrupsie maak die beheer ondoeltreffend.
  • Grensdrade tussen beheer- en skoongebiede word nie behoorlik onderhou nie – diere gaan wei buite die beheergebiede omdat weidingstoestande binne die beheergebiede meestal swak is, en meer so gedurende droogtes.
  • Beheerposte tussen beheer- en skoongebiede word nie beman nie – voertuie word dus nie na wense met chemiese middels bespuit voordat hulle die beheergebiede verlaat nie, en so kan die siekte na skoonareas versprei. – Andries Gouws, AgriOrbit