Die Suid-Afrikaanse landbousektor bied steeds talle beleggingsgeleenthede, ten spyte daarvan dat dié bedryf die wind van voor kry vanweë aspekte soos beleidsonsekerheid en droogte in dele van die land.

’n Skokkende afname van 2,2% in die bruto binnelandse produk gedurende die eerste kwartaal van 2018, was grootliks as gevolg van die skerp daling van bykans 25% in die landbou. Die sektor sal egter na verwagting vinnig herstel as finansiering, innovasie en uitbreiding gedurende die res van die jaar inskop.

Nico Groenewald, hoof van Standard Bank Landboubesigheid, sê die afname is geen rede tot paniek nie, aangesien dit grootliks daaraan te wyte is aan dié sektor se prestasie gedurende die vierde kwartaal van 2017, toe dit dit kollig gesteel het met 37,5%.

Belowende vooruitsigte

Die langer-termyn tendens skets ook ’n belowende prentjie. Ná ’n inkrimping in elke kwartaal van 2015 en 2016 vanweë die droogtetoestande in Suider-Afrika, het die landbou-, bosbou- en visserybedryf egter vir vier agtereenvolgende kwartale gegroei voor die eerste kwartaal se datavrystelling.

Daarmee saam styg verbruikers- en besigheidsvertroue ten spyte van die omstrede grondbeleid. Dit, tesame met bevolkingsgroei en stedelike uitbreiding, is die dryfveer wat nodig is vir ’n lewenskragtige landbousektor. Nico sê sektore hoër op in die waardeketting, waaronder landbouverwerking, vrugteverpakking en akwakultuur, trek op hul beurt die aandag van beleggers – beide op die vasteland en oorsee.

Landbou se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie het met amper 8% afgeneem sedert die sestigerjare. Nogtans raak dit ál hoe noodsaakliker vir die gesondheid van ons nasionale ekonomie, en is dit ’n belangrike bron van indiensneming vir ongeskoolde en seisoenale werkers in landelike gemeenskappe. Data van Agri SA toon dat die aantal mense wat in die landbou werk met 29% toegeneem het, van 624 000 in 2011 tot 881 000 in 2016.

Die Vierde Nywerheidsrewolusie

Die toekoms van wêreldwye voedselstelsels sal deur die Vierde Nywerheidsrewolusie, ‘n verskynsel wat ons tradisionele sakemodelle ontwrig, gedefinieer word. Volgens Nico is dit belangrik dat vaardigheidsontwikkeling in landboubesigheid die pas moet volhou, want dit sal verseker dat plase en verwante ondernemings by die nuwe digitale wêreld kan aanpas en floreer.

“Die vinnige tempo van digitale innovasie daag landbou-ondernemings uit om te verander. Ontwikkelende lande het die geleentheid om meer produktief te raak in alle ekonomiese waardekettings, aangesien hulle ouer tegnologie kan systap.”

Die Wêreld Ekonomiese Forum se “New Vision for Agriculture”-plan bepaal dat volhoubare landbou terselfdertyd voedselsekerheid, omgewingsvolhoubaarheid en ekonomiese geleenthede moet bied ten einde aan die wêreldbehoefte te voldoen.

“Dit is belangrik dat meer op kommersiële en regeringsvlak moet gebeur sodat hierdie doelwit bereik kan word. Dit is bv. nodig dat aandeelhouers, insluitend boere, die regering, die burgerlike samelewing en die privaatsektor ‘n gekoördineerde markgebaseerde benadering volg wat deur almal benut kan word,” sê Nico.

Transformasie is noodsaaklik

Die resep vir sukses is om transformasie deur middel van finansies, infrastruktuur, instellings en monitering te verbeter. Beleidstellings wat digitale en finansiële inklusiwiteit bevorder, sal byvoorbeeld die groei van landelike entrepreneurs en ekonomieë verbeter.

“Hoewel goeie plaasbestuur die landbouer sal help om in pas te bly met digitale uitdagings en geleenthede, bly beleidsondersteuning noodsaaklik vir die landbou om te floreer. Dit sluit in diegene wat infrastruktuurontwikkeling, energieverskaffing en beter onderwysgeriewe steun.

“Die feit dat baie lande in sub-Sahara-Afrika egter min belê in landbounavorsing, is rede tot kommer. Suid-Afrika gee byvoorbeeld minder as 1% van sy nasionale begroting aan landbou, wat weer ’n negatiewe impak op navorsing en ontwikkeling het.

“Daar is beslis uitdagings wat die Suid-Afrikaanse landbou in die gesig staar, maar daar is ook baie geleenthede danksy ons goedgevestigde handelsbande met Europa en nuwe markte wat in die Verre Ooste ontstaan. Aangesien ons een van die grootste voedselprodusente in Afrika is, is ons in ’n uitstekende posisie om op die groeiende bevolking en vinnig groeiende ekonomieë op die res van die vasteland te kapitaliseer,” sê Nico.

Vir meer inligting, skakel 011 721 9089, stuur ’n epos aan SBSA.agricultural@standardbank.co.za of besoek die webtuiste www.standardbank.co.za/business.