Egon op die land tussen die speenkalwers. Hierdie land is met hawer gesaai.

“My ligte het nou behoorlik aangekom oor die beginsel van bewaringslandbou. Ek sien nou duideliker as ooit tevore waarheen ons op pad is en ek kan nie wag vir elke dag wat ons nader aan ons doel kom nie.”

Read it in English.

Aan die woord is Egon Zunckel, ’n saaiboer van Bergville in KwaZulu-Natal en een van die voorlopers in die land, aanvanklik met geenbewerkingspraktyke en vandag met bewaringslandbou.

Dit was egter so hittete of die Zunckels het hul woonplaas, Rustenburg, in die middel-1980’s verloor. Vandag lyk die prentjie gelukkig heeltemal anders en Egon boer saam met sy twee seuns, Tyson en Carl, op plase by Bergville sowel as naby Warden in die Vrystaat.

Egon Zunckel (regs) en sy twee seuns, Tyson (links) en Carl.

“My pa was 56 toe ek gebore is en ek is die oudste kind. Teen die tyd dat ek Weermag toe is, was hy nie meer sterk genoeg om die ses plase waarop hy geboer het deeglik te bestuur nie en hy moes hulle een na die ander verkoop. Ek was net betyds om Rustenburg te red toe ek in 1983 ná my diensplig plaas toe kon kom. Ek kon ’n Landbank-lening kry, en verder was dit letterlik genade van Bo wat gemaak het dat die boerdery mettertyd weer sy kop kon optel.”

Oorgang na geenbewerking

Egon vertel dat daar toe nog geen sprake was van enige ander boerderybenadering as die konvensionele ploeg en plant nie, maar hy het spesifieke uitdagings ervaar wat meegebring het dat hy na ander oplossings begin soek het.

“Ons het groot probleme gehad met waterafloop, erosie en verdigting op ons lande. In dié stadium was Mike Frost die kunsmisverkoper by Berg Agri Solutions. Ná ’n besoek aan Brasilië het hy begin praat oor geenbewerkingspraktyke en ook deklaagbewerking. Ek het oorgeslaan na deklaagbewerking, waar ’n mens die organiese bedekking op die grond probeer behou en met ’n beitelploeg bewerk.

“Ek het dit vir so vier jaar gedoen voordat ek met geenbewerking begin eksperimenteer het. Ons het mielies in koringstoppels geplant, en ’n verbetering in opbrengs van twee ton per hektaar ervaar.”

Hy het egter ná ’n onlangse besoek aan Amerika besef dat geenbewerking slegs die spreekwoordelike bloeding stop. Dit is slegs die eerste noodmaatreël, want bewaringslandbou gaan oor soveel meer.

Uitwerking van ’n dekgewas

“Om jou ’n idee te gee van die uitwerking van ’n dekgewas: Een van ons spilpuntlande het een jaar ’n besonder teleurstellende mielie-oes gelewer. Die mielies het omgeval en ons het maar sewe ton gestroop, waarskynlik as gevolg van aalwurm, Fusarium en swak swambeheer.

“Ons het sommer direk tussen die mielies hawer geplant, met geen bewerking nie. Ons het die jaar daarna ’n redelik gemiddelde soja-oes afgehaal, waarskynlik omdat ons die soja te gou nadat die hawer doodgespuit is geplant het.

“Die koring ná daardie soja-oes was egter die beste oes wat ons nog gestroop het, naamlik agt ton per hektaar. En die mielies wat direk in daardie koringstoppels gesaai is, het ’n gemiddeld van 15,6 ton op daardie 50ha spilpunt gelewer. Daar was ’n gemete strook waar die opbrengs 16,3 ton/ha was. Twee jaar later was die spilpunt langsaan, waar nie hawer gesaai is nie, nog twee ton swakker as hierdie betrokke spilpunt wat die hawer gekry het.”

’n Volhoubare siklus

Egon sê hierdie ondervinding het hom gemotiveer om dekgewasse werklik ernstig te begin opneem. “Dit is hoe dit gekom het dat ons dekgewasse as standaardpraktyk begin inbring het nadat ons die sojabone gestroop het. Die volgorde is dus twee jaar mielies, een jaar soja en dan ’n dekgewas. Ná die soja-oes is dit gewoonlik nog warm en daar is nog vog in die grond vir ’n dekgewas om te ontkiem. Die implikasie is dus ’n dekgewas op ’n spesifieke land elke drie jaar – die winter van die derde jaar.”

Egon is nou op die punt waar hy die hele bewaringslandboubeginsel vir homself kan motiveer. “Ons doel is geen grondversteuring, ’n deeglike organiese bedekking op die grond te alle tye en lewende wortels in die grond elke dag van die jaar. Hiermee saam kom diversiteit, met ander woorde meer as net een spesie op ’n slag in die grond.”

Hy sê hulle het hierdie laaste mikpunt egter nog nie heeltemal onder die knie gekry nie. Met die dekgewasmengsels is hulle darem al nader aan die mikpunt, met die insluiting van verskeie spesies soos radyse, rape, hawer, peulgewasse en verskillende grastipes.

Belangrikheid van ’n veefaktor

“Die laaste mikpunt is die veefaktor. As ons mikpunt is om die natuur so getrou moontlik na te boots, kan ons die teenwoordigheid van diere nie wegredeneer nie. Toe ons destyds met geenbewerking begin het, het ons geglo dit is baie sleg vir die grond as jy vee in die lande jaag. Vandag weet ons hoe belangrik die veefaktor is, spesifiek as jy die dekgewasse op hoëdrukbeweidingsbeginsels kan bestuur.”

Egon beklemtoon dat die veefaktor waarskynlik die grootste deurbraak met die terugplaas van koolstof in die grond meegebring het.

Speenkalwers wat dikgevreet is aan groen weiding in die middel van die winter.

“My aanvanklike som was slegs daarop gefokus om die koste van die dekgewasse deur die veefaktor te delg. Die vee ontwikkel egter in ’n volwaardige inkomstebron wat nie terugstaan vir enige opbrengs per hektaar van ’n graangewas nie.

“Ons koop in KwaZulu-Natal speenkalwers van sowat 220kg om vanaf April die dekgewasse te benut. Hulle word in die winter sowat 200kg swaarder met die hulp van ’n goeie lek en ons verkoop in ’n normale jaar sowat 80% van hulle direk van die hawer af. Ons sit die res in die voerkraal tot hulle ook reg is om bemark te word.”

Koolstof verminder kwesbaarheid

Die afgelope paar jaar is egter gekenmerk deur besonder droë seisoene en hulle was genoodsaak om die speenkalwers met mielies te help. Die interessante verskynsel wat Egon egter toenemend waarneem, is dat hoe meer koolstof in sy lande opbou en hoe beter die organiese inhoud in die grond raak, hoe minder kwesbaar raak sy lande vir droogtes.

“Ek is oortuig daarvan dat ons lande kapasiteit gebou het om droogtes beter te weerstaan. Dit gaan alles oor ’n groter koolstofpersentasie in die grond, met beter waterhouvermoë.”

Sy volgende uitdaging is om doeltreffende tegnieke te ontwikkel om elke dag van die jaar lewende wortels in die grond te hê. Daarvoor sal hy, as die mielieplante kniehoogte staan, ’n dekgewas tussen die rye moet vestig sodat dit kan ontkiem en dormant staan tot die mielieplante begin uitdroog en die son kan deurkom.

Lewe in grond

Oor die algemeen is Egon tans gemaklik met die koolstofinhoud op sy lande. In die eerste tien jaar sedert hy met geenbewerkingspraktyke begin het, kon hy die koolstofpersentasie in sy grond van sowat 1,2% tot 2,6% verhoog.

Die lewe wat in die grond teruggekom het, is egter vir hom net so ’n belangrike faktor. “Die lewe in die grond beïnvloed die lewe bo-op die grond, en omgekeerd. Dit is alles ’n kwessie van balans.”

Vir meer inligting, skakel Egon Zunckel by 083 627 5760. – Izak Hofmeyr, Veeplaas