BHBW, die verspreider van die Massey Ferguson-, Challenger- en Fendt-produkreekse in Suider-Afrika, sal op 16 November 2018 ’n kleinhandeltak op Hoopstad open ná die oorname van die plaaslike BHBW-handelaar, Hoopstad Trekkers.

Dit sal BHBW se derde landbou-kleinhandeltak in sy landwye handelaarsnetwerk wees. Die ander takke is op Bothaville en Middelburg.

Die uitbreiding van BHBW se kleinhandelnetwerk sluit aan by die maatskappy se strategie om voedselprodusente in sleutelgebiede van die beste moontlike dienslewering en naverkopediens te verseker, sê die uitvoerende hoof van BHBW, Godfried Heydenrych.

“Die span van Hoopstad Trekkers het onder leiding van die eienaar en bestuurder, Hennie Roos, deur die jare diep spore getrap in landboumeganisasie. Hulle het onder meer daartoe bygedra dat die Wes-Vrystaat die grootste konsentrasie van Challenger MT 800-reeks rusperbandtrekkers ter wêreld buite Noord-Amerika het. Ons het groot waardering vir die werk wat hulle gedoen het en wil voortbou op die hoë vlakke van dienslewering wat gehandhaaf is,” sê Heydenrych.

BHBW Hoopstad sal voortgaan om die distrikte Hoopstad, Bloemhof, Christiana, Hertzogville, Bultfontein en Theunissen te bedien.

Alle handelaarspersoneel word behou en HP Roos word bevorder tot waarnemende takbestuurder.

“BHBW streef daarna om deurentyd sy aanbod aan die landbouwaardeketting te versterk met geïntegreerde oplossings wat boere se produktiwiteit, volhoubaarheid en winsgewendheid bevorder. Ons wil waarde toevoeg tot boerdery-ondernemings in die gebied met ons Massey Ferguson-, Challenger- en Fendt-produkreekse en ook ander aanbiedinge. Dit sluit Next Farming, ons omvattende oplossing vir digitale boerdery, in,” sê Heydenrych. – Persverklaring