Die wildbedryf in die algemeen en die jagbedryf in besonder, steier onder die maatreëls wat wêreldwyd ingestel is om die verspreiding van die COVID-19-virus te beperk. Die reisbeperkings verhoed lewende wildveilings en jagtogte, en die ekonomiese insinking ná die opheffing van die maatreëls gaan die bedryf waarskynlik nog verder beproef.

Springbokke is van die gewildste jagspesies onder biltongjagters. Omdat jagters per bok betaal, mik hulle altyd daarna om die grootste bok te skiet, wat nie noodwendig die beste vleis beteken nie.

Wildteling en trofeejag, tot nou toe die belangrikste pilare waarop die bedryf rus, is tot stilstand gebring weens plaaslike en internasionale maatreëls. Biltongjag is ook grootliks in die wiele gery deur die staat van inperking in Suid-Afrika. Die enigste ligpunt is dat die krisis die wildsvleisbedryf op nuwe maniere kan stimuleer en vestig.

Biltongjag ’n moontlike ligpunt

Weens talle faktore het die wildsvleisbedryf tot nou toe gesukkel om werklik op dreef te kom. In die tyd van uitdagende ekonomiese en finansiële toestande wat bekende ekonome vir verbruikers wêreldwyd voorspel ná die virus hokgeslaan is, kan gesonde en meer bekostigbare wildsvleis ’n uitkoms vir baie mense in nood bied.

In die wildbedryf gaan die siftingsproses van wildboere wat met die normalisering van wildpryse en die vernietigende droogte begin het voortduur, en veral spekulante in die bedryf kan van die wa afval. Toegewyde wildboere trek egter ook noustrop en hulle kan nie aanhou boer as daar geen inkomste is nie. Daarom sal biltongjagters so gou as wat die maatreëls dit toelaat, hul kant moet bring en wildboere ondersteun.

Wildjag van toeka tot nou

Die geskiedenis van jag begin in die Steentydperk 2,6 miljoen jaar gelede, toe bewoners van die aarde, volgens navorsing, spiese en pyle met klippunte begin maak het om diere mee te jag. Tóé het dit hoofsaaklik om oorlewing en die bymekaarmaak van kos gegaan.

Lank daarna het jag om wildprodukte soos ivoor en velle, wat ’n geldwaarde gekry het, begin draai. Dit het mettertyd in ’n sport ontwikkel waar vleis ’n minder belangrike rol gespeel het. Die pioniers, voortrekkers en van die eerste boere het jagtogte van drie en self ses maande in die wildryke bosveld onderneem, waar hulle ivoor, velle en vragte biltong versamel het om te verkoop en self te gebruik.

Uiteindelik het wild in Suid-Afrika ’n boer se eiendom geword. Dit het ’n waarde gekry en die huidige wild- en jagbedryf het sy beslag gevind. Wildboere het wild begin teel, wat trofees verbeter en aan trofeejag ’n nuwe betekenis gegee het.

In die geskiedenis is olifante op groot skaal deur grootwildjagters geskiet vir hul ivoor.

Die biltongjagter vorm egter steeds die basis van die jagbedryf en wildsvleisproduksie het as ’n alternatief ontwikkel.

Bedrywe afhanklik van wildjag

George Potgieter, 2018 SA Wildboer van die Jaar, sê die uitdagings vir die bedryf is enorm. Baie wildsplase kan verwag om 80% van hul inkomste te verloor en indien die inperkings onbepaald voortduur, kan dit selfs meer wees. Dit is ’n kettingreaksie waarin die internasionale jagmark die waarde van teeldiere bepaal en stoetwild se veilingspryse onder druk plaas.

Daarby verkoop wildboere nie net wild nie – hulle verkoop ook verblyf, ’n Afrika-ervaring aan die buitelandse jagter en ’n bos-ervaring aan die biltongjagter. Taksidermie is ook afhanklik van die jagbedryf en die meeste oorsese jagters toer dikwels ná hul jagekspedisie deur die land.

Om hierdie dienste te kan lewer benodig wildboere goed opgeleide personeel wat nie goedsmoeds in die pad gesteek kan word nie. Oorhoofse kostes soos krag, lone, voer (waar nodig), veeartsenykoste, en dies meer is ook nie net ’n kraantjie wat toegedraai kan word nie.

Baie van die werkers maak staat op fooitjies van besoekers om hul salarisse aan te vul en dít, saam met die vleis van trofeediere wat op die plaas agterbly en in die herberg en deur die werkers benut word, het skielik verdwyn.

Waarde van biltongjag

George sê die totale waarde van wild wat in Suid-Afrika gejag word, beloop ongeveer R15 miljard. Sowat 70% daarvan kom vanaf biltongjagters. Trofeejag is weliswaar die winsgewendste, maar biltongjag sorg vir die meeste wildboere se grootste omset. Die jagbedryf dra jaarliks sowat R20 miljard tot die land se ekonomie by.

Verskeie biltongjagters wat by George sou kom jag het, het hul besoeke tot later vanjaar uitgestel, wat bemoedigend is. Intussen staan die herberg leeg, die jagkamp is stil, die personeel is ledig en beroepsjagters sit sonder ’n inkomste. Verder kan bewaringsprojekte in Suid-Afrika en Afrika, wat uit jaginkomste gefinansier word, ook doodloop.

Nie alle jagters kan dit nie bekostig nie, maar meeste droom daarvan om ’n buffel te kan jag.

“Die meeste van ons het grootgeword met die persepsie dat jag ’n goedkoper geleentheid is om uit die stad weg te kom, en vir baie jare was die vleis wat so versamel is, ’n bysaak. My indruk is dat die vleis deesdae weer belangriker word.

“Almal voel die finansiële druk en die vraag is hoeveel mense dit in die nabye toekoms sal kan bekostig om te jag. Diegene wat dit tog gaan doen, gaan waarskynlik koste bespaar deur minder wild en van die goedkoper spesies te skiet, wat dié mark verder kan laat krimp,” meen George.

Stygende vraag na wildsvleis

Hy glo wildsvleis is deur die jare afgeskeep, maar die bedryf is hard aan die werk om nuwe geleenthede te skep om die groot hoeveelhede wildsvleis wat beskikbaar is, na die kommersiële markte te laat vloei.

Die publiek gaan na verwagting die waarde van gesonde wildsvleis wat smaaklik voorberei kan word besef, as die ekonomiese insinking ná die pandemie baie mense hard tref.

Prof Louw Hoffman, ’n vleiswetenskaplike by die Sentrum vir Voedings- en Voedselwetenskappe verbonde aan die Universiteit van Queensland in Australië, sê min inligting bestaan oor hoe die verskillende eienskappe van wildsvleis die verbruik daarvan beïnvloed.

Die produksie van wildsvleis is onontbeerlik vir groei in die wildbedryf. Dit kan ook beduidend tot voedselsekerheid bydra deurdat dit ’n gesonde bron van proteïen aan die bevolking bied en kan terselfdertyd wildboerdery meer volhoubaar maak.

Verbruikersvoorkeure

Anjolize Wassenaar, Elizabeth Kempen en Tertia van Eeden, al drie verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika, het ’n ondersoek gedoen om die verskille tussen die persepsies van wildsvleisliefhebbers en dié wat nie daarvan hou nie, te bepaal. Kennis uit dié studie kan aangewend word om produksiemetodes, waar nodig, aan te pas en bemarkingstrategieë te beplan om die verbruik van wildsvleis te bevorder.

Beskikbaarheid, sensoriese eienskappe (geur, tekstuur, voorkoms en smaak), etiese produksie en gesondheid, is volgens die ondersoek die belangrikste aspekte wat die verbruik van wildsvleis kan bevorder.

Bemarking van wildsvleis

Volgens die studie kan sensoriese eienskappe die besluit van die verbruiker om wildsvleis te koop, die meeste beïnvloed. Dit kan verbeter word met beter oes- en hanteringspraktyke in die bedryf en behoort voorrang in die bemarking van die produk te geniet.

Beskikbaarheid kan verhoog word deur groter hoeveelhede wildsvleis en -snitte aan verbruikers beskikbaar te stel. Daarby moet verseker word dat etiese produksie en hantering van die produk deur die hele waardeketting gevolg word.

Die grootste kommer by nie-verbruikers is dat hulle glo wildsvleis is nie veilig nie. Dit het ook duidelik geword dat ’n groot deel van verbruikers onkundig is ten opsigte van wildsvleis en dus hul voorkeure grond op inligting wat bekend is vir die vleis van vee. Wildsvleis is egter ’n unieke produk en verbruikers behoort beter daaroor ingelig te word.

Om meer te lees oor navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch wat bewys dat wildsvleis gesond, smaaklik en sag is en kommersieel bemark kan word, volg hierdie skakel.

Vir meer inligting, kontak George Potgieter by 082 903 5752 of georgep@gvf.co.za en prof Louw Hoffman by louwrens.hoffman@uq.edu.au. – Andries Gouws, Veeplaas