Woensdagaand, 12 Junie, was ‘n fees en ‘n half toe ‘n spesiale dinee en dans by BKB se hoofkantoor in Port Elizabeth gehou is na afloop van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se eerste dag van sy kongres.

Afgevaardigdes van die NWKV by vanjaar se 90ste jaarkongres, BKB-bestuurslede, gaste en hul metgeselle is hartlik by die swierige lokaal verwelkom.

Bedankings in oorvloed

Chris Louw, BKB-voorsitter, het enkele woorde kort voor aandete gespreek. Hy het ook ‘n lansie gebreek vir die uitsonderlike wyse waarop BKB se besturende direkteur, Wolf Edmayr, die afgelope 15 jaar met BKB se rolspelers in die bedryf omgegaan het.

André du Toit, algemene bestuurder van BKB-handel, het BKB se werknemers vir hul lojaliteit bedank. Daar is tans 191 werknemers wat al 15 jaar of langer in diens van BKB is. “Dit is vanaand ook vir my ‘n eer om Wolf Edmayr, wat op 31 Maart 2004 by BKB aangesluit het, se 15-jaar toekenning aan hom te oorhandig,” het hy bygevoeg.

Edmayer het sy innige dank aan Philip Stucken en Dolf Botha uitgespreek – hulle het hom destyds onder hul vlerk geneem. Hy het sy dank uitgespreek teenoor ieder en elk wat ‘n verbintenis met BKB het en ook verwys na die Nasionale Wolkwekersvereniging se mylpaal 90ste jaarkongres en VKB se 100-jarige vieringe.

Hy het daarna ook BKB se 3 617 werknemers vir hul diens bedank. “BKB het ongelooflike mense in sy span, en kan op julle staatmaak. Ons besigheid is op vertroue, integriteit en verhoudings geskoei, en BKB se werknemers is ongelooflik toegewyd met uitsonderlike vaardighede,” het hy gesê. – Carin Venter, Plaas Media