BKB Eiendomme verwelkom vanjaar ’n nuwe bate, Home & Hectare, in sy stal om bestaande verhoudings met kliënte te versterk en terselfdertyd ook nuwe verhoudings te bou.

Die bekendstelling van die opwindende nuwe eiendomshandelsmerk het op Dinsdagaand, 5 Maart, by BKB se hoofkantoor in Port Elizabeth plaasgevind.

BKB se hoofbestuurder van lewendehawe, eiendomme en afslaers, dr Cobus Oberholster, het die gaste verwelkom. Hy het gesê dat baie van die mense wat teenwoordig was, weet dat BKB Eiendomme in die verlede hoofsaaklik op die verkoop en verhuring van landbou-eiendomme gefokus het.

“Tot in die onlangse verlede het ons lewendehawe-bemarkers hoofsaaklik op BKB se bestaande lewendehawe-voetspoor gefokus,” het hy gesê.

Dr Oberholster het tydens sy toespraak daarna verwys dat BKB by nadere ondersoek bevind het dat daar verskeie geleenthede in die land se residensiële en kommersiële mark is, en dat die groep dit wou ontgin. “Daarom stel BKB nou met trots ’n splinternuwe handelsmerk, Home & Hectare, bekend. Die naam beeld presies uit waarop ons gaan fokus – die ontsluiting van geleenthede in die mark vir residensiële, kommersiële sowel as landbou-eiendomme.”

Hy het klem daarop gelê dat BKB die groep se besigheidsfeer in die kommersiële mark, vanuit ’n besigheidsoogpunt, aansienlik wil uitbrei. “Ons wil spesifiek op stedelike gebiede fokus en ’n deel van ons navorsingstrategie was om te bepaal hoe om BKB se invloed in sulke gebiede uit te brei.”

BKB het einde 2018 ’n besigheidsooreenkoms met Rubé Geyer, wat 13 jaar lank die eienaar van KG Property Solutions in Port Elizabeth was, gesluit. Hulle het haar voortspruitend uit dié ooreenkoms as Home & Hectare se bestuurder aangestel.

Volgens Rubé verteenwoordig BKB se nuwe handelsmerk die inboeseming van vertroue en is dit die sleutel vir ’n netwerk van kosbare voornemende kopers. “In die plek van KG Property Solutions en BKB Eiendomme gaan Home & Hectare Real Estate nou ook op die residensiële en kommersiële mark, asook beleggingseiendomme en ontwikkelings, fokus,” het sy later aan Plaas Media se joernalis gesê.

Die sleutelfokus van Home & Hectare sal in die beginstadium op die suidelike dele van Suid-Afrika wees, veral die Oos-Kaap, Tuinroete, Suid-Kaap, Wes-Kaap, Weskus en sentrale Karoo. Dr Oberholster het tydens die geleentheid ook gesê dat, behalwe vir die eiendomsagente wat dié streke gaan bedien, Home & Hectare ook aanlyndienste beskikbaar gaan hê. – Carin Venter, AgriOrbit

Vir enige navrae kontak Rubé Geyer by 084 515 4067 of info@homeandhectare.com.