Die amptelike opening van Beaufort-Wes se opgegradeerde BKB-handelstak op Maandag, 19 Februarie, het met welkome reën in die droogtegeteisterde distrik gepaardgegaan.

Jacques van Niekerk, hoofbestuurder van BKB Handel, het ’n groot aantal belangstellendes hartlik verwelkom by die opening. Die winkel is slegs een van BKB se 60 handelstakke landwyd wat ’n wye reeks landbouprodukte aanbied.

“Dit is ’n baie mooi winkel met ’n moderne uitleg, en dit was nogal lekker om te sien hoe die plaaslike boere die geleentheid ondersteun het. Ek glo dit gaan ’n verskil maak en elkeen wat hier instap, baie goed bedien,” het Geoff Kingwell, ’n produsent van die omgewing, na die opening gesê.

Een van die verbeterings is ’n nuwe vulstasie reg langs die winkel, wat binnekort 100% operasioneel gaan wees. “Wanneer ’n mens by die winkel instap, sal jy sien dat dit ’n algehele gedaanteverwisseling ondergaan het. Dis nie meer net op die produsent se boerdery en benodigdhede gerig nie, maar verwelkom die hele familie,” sê Jacques.

Volgens hom beskou BKB die land se produsente en plattelanders as die ruggraat van hul besigheid, en daarom geniet die handelstakke op die platteland voorkeur. “BKB kan nie sonder die produsente en plattelandse gemeenskappe voortbestaan nie.” – Carin Venter, AgriOrbit