BKB doen vanjaar al 100 jaar lank besigheid en het dit in Mei vanjaar op gepaste wyse gevier. Talle landbouprodusente het by De Oude Kraal buite Bloemfontein saamgetrek vir die maatskappy se eeufeesviering.

Die gaste is verwelkom deur Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB. Edmayer is ook onlangs tot president van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) verkies. Hy het genoem dat Suid-Afrikaanse wol van die beste ter wêreld is en dat daar ’n goeie vraag na dié produk is. “Ek is baie trots om die Suid-Afrikaanse wolskeersel op die IWTO-platform te verteenwoordig,” sê hy.

Geoff Kingwill, Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB en huidige president van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO), en Peter Ackroyd, voormalige president van die IWTO, was onder die gaste wat BKB se eeufeesviering bygewoon het.

Peter Ackroyd, voormalige president van die IWTO, het ook die produsente toegespreek. Hy het klem gelê op die uitdaging wat sintetiese materiale in terme van prys vir die wolmark veroorsaak. “Ek is van mening dat wolprodukte altyd ’n plek in die mark sal hê, maar dat dit ’n nismarkproduk sal wees wat ’n hoër prys regverdig.

Wolf Edmayr het tydens sy toespraak klem daarop gelê dat Suid-Afrikaanse wol van die beste ter wêreld is.

“Wolprodusente moet klem lê op die etiese hantering van hulle diere en produkte. Aangesien die mark deursigtig is, kan slegte publisiteit nie bekostig word nie. Wol se talle goeie eienskappe, soos dat dit omgewingsvriendelik is, moet eerder beklemtoon word om ’n voorsprong bo sintetiese materiale te verseker,” sê hy.

Verskillende skaaprasse is tydens die geleentheid ten toon gestel. Verskeie disse wat van dié rasse se vleis voorberei is, is ook bedien om aan almal ’n kans te gee om te proe hoe elke ras se vleis smaak. – WA Lombard, Plaas Media