Om vroeg in die oggend in jou skaapkraal te kom en ’n paar skape wat die vorige dag nog gesond gelyk het, dood aan te tref, is beslis nie ’n mooi gesig nie en laat baie produsente kopkrap. Skielike vrektes onder skape kan verskeie oorsake hê, waarvan bloednier een van die algemeenste is.

In Suid-Afrika is bloednier een van die belangrikste siektes onder skape en bokke. Hoewel skape van enige ouderdom dit kan opdoen, kom dit meestal voor onder lammers tussen die ouderdom van drie weke en drie maande, of tussen die ouderdom van ses en twaalf maande. Dit kom egter baie selde onder beeste voor. As bloednier by bokke voorkom, kan dit kroniese maagwerking veroorsaak wat die bok laat vrek of tot vermaering lei.

Die bekende veearts, dr Faffa Malan, sê die siekte word veroorsaak deur die epsilon-gifstof van die Clostridium perfringens tipe D-bakterie, wat normaalweg in die dermkanaal van skape en bokke voorkom. Onder sekere omstandighede vermeerder die bakterieë skielik.

Grootste oorsaak

Hy verduidelik dat skape wat skielik van swak grasvelde na uitsonderlike goeie weiding soos lusern, groen koring en groen hawer geskuif word, een van die grootste oorsake van dié siekte is. “Dis ook algemeen wanneer hulle oorgesit word op ’n dieet wat baie ryk is aan proteïene. Die diere oorvreet hulle en daarom word dit ook dikwels die ooreetsiekte genoem.

“Hierdie toksien verhoog die deurlaatbaarheid van die spysverteringskanaal se wand, sodat die gif maklik deur die liggaam geabsorbeer word. Die gifstof beskadig die selle van die bloedvate en verhoog die deurlaatbaarheid daarvan. Op dié manier word die niere geaffekteer en kan dit lei tot breindisfunksie, wat weer wanfunksionering in die senuweestelsel tot gevolg kan hê.”

Kliniese tekens

Omdat bloednier tot skielike vrektes lei, is daar nie baie tekens waarop produsente kan let nie. Lammers met akute bloednier kan binne twee ure vrek. Dok Faffa sê daar is enkele tekens waarop ’n produsent moet ag slaan as sy diere in ’n baie vroeë stadium van die siekte is. Dit is egter onopsigtelike simptome wat mense nie maklik raaksien nie.

“Die diere sal byvoorbeeld agter raak in die kudde en lusteloos voorkom. Hulle kan depressief en oorsensitief wees en weier om te vreet. Hul gewrigte is swak en ongekoördineerd, hulle kners op hul tande en maak skopbewegings wanneer hulle lê. Sommige dier het ligte diarree. Jong lammers kan koliek hê en opgeblaas raak voordat hulle doodgaan. Siek bokke kan as gevolg van die pyn ’n blaasgeluid maak.

“Dit is moeilik om die korrekte diagnose te maak omdat baie ander siektes ook tot skielike vrektes in ’n kudde kan lei, soos geilsiekte, bloedpens, bloedderm, pasteurellose en hartwater, om maar ’n paar te noem. Om die regte diagnose te maak, is dit wenslik om so gou moontlik nadat die vrekte ontdek is, die hulp van ’n veearts in te roep. Hy of sy sal ’n nadoodse ondersoek doen om te bepaal wat die produsent volgende moet doen.”

Voorkoming en beheer

Volgens dok Faffa is bloednier só algemeen, dat ’n moderne skaapplaas nie goed kan funksioneer sonder om seker te maak dat die kudde teen bloednier ingeënt is nie.

Hy gee die volgende wenke:

  • In die geval van ’n uitbreking van bloednier, ent dadelik alle diere in die kudde (weer) teen die siekte in.
  • Behandel alle diere met ’n langwerkende antibiotika om vrektes te voorkom voordat hulle genoeg immuniteit ná inenting ontwikkel. Kontak jou veearts.
  • Verander die bestuur van die voeding om alle faktore wat tot bloednier kan lei, uit te skakel.
  • Identifiseer, merk, kastreer en sit lammers se sterte af voor die ouderdom van twee maande om so ’n skielike verandering in melk- en voedselinname te voorkom.
  • Herkouers se dieet moet baie stadig verander word.
  • Indien die oorsaak van bloednier se voorkoms onbekend is, is dit beter om al die skape op die plaas vier weke voor ontwurming teen bloednier in te ent.
  • Onthou om ’n skraagdosis te gee – bestudeer die voubiljet van die spesifieke entstof.
  • Indien ooie voor lamtyd ingeënt word en die ooie se voedingstatus optimaal is, word die lammers deur biesmelkimmuniteit beskerm as hulle betyds genoeg biesmelk inneem. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting oor bloednier, skakel dr Faffa Malan by 082 908 8666.

Kliek hier of hier om na ‘n radio-onderhoud oor bloednier te luister.