Na ‘n baie suksesvolle Bloemskou 2019, sien die organiseerders daarna uit om besoekers weer met ‘n wye verskeidenheid uitstallers, kunstenaars en landbou-aktiwiteite te bederf. Die tema vir 2020 se Bloemskou is “Welcome to the Jungle”.

Bloemskou 2020 datums bevestig

Die datum van volgende jaar se Bloemskou is vanaf 24 April tot 2 Mei 2020. Met meer as 100 000 besoekers, is Bloemskou een van die twee grootste skoue in die land wat steeds suksesvol kommersiële aktiwiteite en landbou kombineer.

Bloemskou is die gasheer van die grootste opelug Saalperd-skou in die wêreld, met net minder as 1 000 perde en talle afgevaardiges uit die VSA. Die skou spog elke jaar met meer as 23 verskillende landboukampioenskappe van perde, beeste en kleinvee, wat beteken dat ‘n totaal van meer as 5 000 lewende hawe oor die tydperk by Bloemskou geakkommodeer word.

Bloemskou fokus op die stoetveekampioenskappe van lewende hawe en bars tans uit sy nate. Tans is Bloemskou dié skou met die sentraalste ligging, wat landswye deelname vir rasse verseker. Bykomend hiertoe is die goeie fasiliteite, maklike toegangsroetes, ‘n totaalskou met vermaak, uitstallers, pretpark en lekker kos vir gades en kinders, asook genoegsame geleentheid in Bloemfontein vir akkommodasie en inkopies. En dit is net ‘n paar van die redes waarom Bloemskou die eerste keuse is vir die aanbied van landboukampioenskappe.

‘n Propvol program vir Bloemskou 2020

Die skou spog met meer as 100 jaar van uitnemendheid, en is bekend vir die versnit van meer as 350 interessante uitstallers, ‘n verskeidenheid van vermaak, die grootste kreatiewe handwerkafdeling in die land, ‘n suiwelprodukskou en vir sy klem op die beste onder stoetrasse by die landboukampioenskappe.

Daar is reeds ‘n ongelooflike elf nasionale landboukampioenskappe bevestig vir 2020. Die beesafdeling sluit die Jersey-, Sussex-, Santa Gertrudis- en Hereford-rasse in. In die kleinvee-afdeling is die Dorper-, SAVM top 10 ramkampioenskap, Merino Landskaap en skeerkampioenskappe reeds bevestig.

Die perde-afdeling spog met die SA Saalperdkampioenskappe, die nasionale Arabierperd- en die nasionale Miniatuurperdkampioenskappe. Daarby word die nasionale Jack Russell-skou ook tydens Bloemskou aangebied.

Uitstalruimtes is nou beskikbaar. Indien jy verdere inligting benodig oor enige aspek van die skou, skakel asseblief die Bloemskou-kantore by 051 448 9894 of besoek ons webwerf by www.bloemskou.co.za.Persverklaring, Bloemskou