Die Bloemskou vind vanjaar van 26 April tot 4 Mei plaas en die tema is “Superhelde”. Vanjaar is daar weer ’n propvol landbouprogram wat iets vir almal beloof by dié skou, wat as die Mekka van die stoetveebedryf bekendstaan en met 24 landboukampioenskappe spog. Een wêreldskou, sewe nasionale en 16 streek- en provinsiale landboukampioenskappe van perde, beeste en kleinvee word aangebied.

Die Bloemskou het homself as die platform vir landbou-uitnemendheid binne die stoetbedryf gevestig en veerasse staan tou om jaarliks hul kampioenskappe hier aan te bied. Meer as 4 000 diere sal oor die nege dae by die Bloemskou vertoon word, wat dit die grootste enkele skougeleentheid vir lewendehawe in Suid-Afrika maak.

Kampioenskappe te kies en te keur
Op die kampioenskap-spyskaart kan landbouers die volgende te wagte wees:
  • Ses perdekampioenskappe waaronder die Saalperde, Miniatuurperde, SA Boerperde, ’n perdespringskou, ’n ope perdeskou en ’n ruiter-pensteek afdelingskampioenskap.
  • Agt kleinveekampioenskappe waartydens die Merino, Merino-landskaap, Vleismerino, Ile de France, Border Leicester en Suffolk hulle staal in verskillende afdelings gaan wys.
  • Die Wêreld Boerbok-, Savanna- en Kalahari Red-skou, asook hierdie rasse se nasionale veilings. Altesaam 1 195 bokke en 43 vertoners het vanjaar vir die Wêreldskou ingeskryf.
  • Die Nasionale Skaapskeerkampioenskap en ’n spoedskeerkompetisie.
  • Tien beeskampioenskappe waaronder die Ayrshire, Dexter, Angus, Simmentaler, Limousin, Braunvieh, Brahman, Hereford, Simbra en Santa Gertrudis. Uitstallings van die Beef Shorthorn, Sussex, Limousin en Santa Gertrudis sal ook te sien wees.
  • Absa vleis- en dubbeldoel-beesinterraskompetisie.
’n Suiwelskou soos min
Die Bloemskou bied ook weer vanjaar ’n groot suiwelprodukskou aan – dit is die enigste skou in die land wat nog ’n suiwelkompetisie tydens skoutyd aanbied. Altesaam 216 inskrywings van verskeie suiwelprodukte deur suiwelmaatskappye is ontvang.
Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie
Die Vrystaat-been van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie vind ook by die Bloemskou plaas en word deur Plaas Media se tydskrif, Veeplaas aangebied. Dit word op 29 April om 10:00 gehou. Die bekende aktrise, Lizz Meiring, sal die seremoniemeester by die geleentheid wees.

Vleissentraal SA Stamboek Elite Bulgroeitoetsklas
Nog ’n groot trekpleister is die jaarlikse Vleissentraal SA Stamboek Elite Bulgroeitoetsklas. Altesaam 21 bulle het vanjaar gekwalifiseer vir die bulgroeitoetsklas, wat op 29 April om 15:00 in die Hoofbeesring aangebied word.

Nog landbou-hoogtepunte
Ander hoogtepunte op die landbouprogram is ’n wolbaaldrakompetisie op 26 April om 13:00, daaglikse skaapskeerdemonstrasies in die Padstal, die grootste opelug-Saalperdskou ter wêreld met sowat 900 perde vanaf 22 tot 27 April, die nasionale Jack Russell-hondeskou op 27 April en die OVK “Back to Back”-skeer-, spin- en breimarathon op 27 April.

Uitstallings van hoenders, kouvoëls, sierduiwe, konynboerdery, die Mangaung-brandweer, die Pantserskool Museum, militaria, modeltreintjies en ’n mini-plaaswerf kan in Die Ark, wat voorheen as die Troeteldiersaal bekend was, gesien word.

Vermaak vir die hele gesin
Die Bloemskou is een van slegs twee skoue in Suid-Afrika wat landbou- en kommersiële aktiwiteite op so ’n groot skaal kombineer. Meer as 100 000 besoekers word oor die nege dae verwag. Buiten die landbouprogram, kan skougangers hulself regmaak vir meer as 350 uitstallers en 50 kosstalletjies.

Meer as 15 nasionale en plaaslike kunstenaars gaan vir vermaak uit die boonste rakke sorg. Ander vermaak sluit in ’n Superheld- en Prinses-ekspo, ’n ysskaatsbaan, motorfiets-waagvertonings, militêre uitstallings deur die Weermag, ’n polisie-uitstalling, die Bloem Classic-liggaamsboukompetisie, ’n talentsoekkompetisie, trampolienvertonings, ’n dans-extravaganza deur plaaslike dansskole, ’n militêre parade, die Ovaalbaan-wedren, stoeigevegte, ’n pretpark en kreatiewe handwerkdemonstrasies in weef, laslap- en kwiltwerk en kreatiewe breiwerk.

Nog ’n hoogtepunt is die kroning van Mej Windmill Bloemskou, Mej Tiener Bloemskou, Kleine Mej Bloemskou en Little Miss Daisy. Die jongspan kan hulself geniet met ’n kindertreintjie, mimiekkunstenaars en besoeke deur Lollos, Errol die driebeen-kulkunstenaar, die Bloemskou-monstergelukbringer Biggy en die Popcorn-gelukbringer Poppy.

Toegangsure en kaartjies
Die skouterrein se toegangshekke is op Maandae tot Saterdae daagliks van 08:00 tot 20:00 oop en op Sondag van 08:00 tot 17:00. Kaartjies is vooraf by Computicket of andersins by die hekke beskikbaar. Twee halfprysdae word op 29 April en 2 Mei aangebied. ’n Spesiale aanbieding is ook beskikbaar vir toegangs- en pretparkkaartjies wat vooraf gekoop word.

Vir meer inligting en die volledige landbouprogram, skakel 051 448 9894/5/6 of besoek die webtuiste www.bloemskou.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here