Die Predasiebestuursforum vra gereeld vir boere om hulle meer te vertel van die roofdierbestuurspraktyke waarmee hulle sukses behaal in hul spesifieke boerdery-omgewings en -omstandighede.

Anton Marx, ’n bestuurslid van die NWKV Vrystaat, boer vanaf 1991 saam met sy pa op die plaas Karroo in die Brandfort-distrik met hoofsaaklik Dohne Merino’s en ’n klein aantal beeste.

Die jaar 2000 het ’n kruispadbesluit genoodsaak, aangesien die Marx’e nie meer volhoubaar kon boer vanweë hul verliese deur ongediertes nie. Anton het hul BKB-agent gevra om ’n koper te kry vir hulle ooie om sodoende te kan oorskakel na beesboerdery. Die agent het hom egter oortuig om nie ’n emosionele besluit te neem nie, maar eers al die opsies te oorweeg. Hy het begin navorsing doen oor die verskillende bekampingsmetodes en besluit op elektriese heinings.

Waarop het hy sy besluit gebaseer en hoe het hy begin?

Hy het ’n paar boere besoek, maar hulle kon nie werklik help nie, want elektriese heinings was in daardie stadium ’n redelik nuwe metode van ongediertebeheer.

Anton het begin met net die omheining van sy lamkampe om die verlies van lammers te beperk. Sy metode in foto 1 (offset bracket metode) was aanvanklik effektief, maar die jakkalse het vinnig geleer om bo-oor die drie drade te spring. Hy sit toe weer twee kragdrade in die bestaande heining, wat ook nie 100% effektief was nie. Alhoewel verliese wel afgeneem het, was hy nie heeltemal tevrede nie.

Hy besluit toe om al die drade af te breek, die grondoppervlak korrek voor te berei en die heining te span soos op foto 2. Dit was ongeveer twaalf jaar gelede en hierdie spanmetode word nog steeds met groot welslae gebruik.

Moniteringsplaas – hoekom daarby betrokke?

Gedurende sy omheiningsproses het Anton betrokke geraak by die NWKV en die moniteringsplase wat deur die bekende ‘jakkalsfundie’, Niel Viljoen, bestuur word. Volgens jaarlikse inligting en statistiek sal Niel beaam dat elektriese heinings beslis een van die doeltreffendste metodes van ongediertebeheer is, mits jy jou heinings op die regte manier oprig en nie kortpaaie kies nie.

Onderhoud en instandhouding is uiters belangrik en moet so gereeld as moontlik gedoen word:

  • Inspekteer heinings ten minste een keer per week (nie eers wanneer die jakkals gevang is nie, want dit is gewoonlik wat gebeur).
  • Spuit heinings een of twee keer per seisoen met gif, afhangend van die reën.
  • Blokke moet verkieslik nie groter as 400ha wees nie, want as die jakkals wel inkom, is dit net soveel makliker om hom te beheer.

Wenke

  • Slegs 2,24 volversinkte staaldraad.
  • Vergelyk pryse van verskillende verskaffers vir al jou benodigdhede.
  • Gebruik soveel as moontlik van jou ou heining se ysterpale en sparre.
  • Koop die regte energiser.
  • Sit jou energiser so na as moontlik aan jou heining.
  • Spuit voortydig die plantegroei onder jou heining.

Minder verliese, meer geld in die sak

Die rede waarom Anton elke seisoen ’n nuwe blok span, is omdat hy die sukses van die elektriese heining aan sy sak kan voel. Sy buurman beaam dat indien hy sy heining op skuld sou span, hy dit binne twee jaar sou kon afbetaal. Aanvanklik klink dit na ’n duur proses, maar as jy dit teen al jou verliese opweeg, is dit maar ’n fraksie daarvan. Indien dit enigsins sou moontlik wees, sou Anton van die dag wat hy die plaas betree het, elektriese heinings gespan het.

Hy deel ’n praktiese voorbeeld: Gedurende Aprilmaand se lamseisoen het hy geen lammers binne die heining verloor nie, maar aan die buitekant van die heining het ’n hele paar groot ooie gesneuwel. Elektriese heinings het ongetwyfeld sy passie vir skaapboerdery weer laat opvlam. – PMF sekretariaat