Die Patriot Boerbokstoet op die plaas Grasrant in die Graaff-Reinet distrik, teen die Sneeuberge in die Karoo, is Johan Steyn se hartsliefde.

Johan boer al vir 27 jaar met Boerbokke en voer sy topgehalte teelgenetika die afgelope twaalf jaar uit na lande in Afrika, die Midde-Ooste en Verre Ooste. Hy sê dat die ras plaaslik en in die buiteland baie gesog is, en dat Suid-Afrikaanse Boerboktelers trots daarop kan wees.

“Die Boerbok het die wonderlike vermoë om lae-gehalte weiding onder moeilike omstandighede en met min insetkoste, in vleis te omskep. Boonop is dit ’n baie intelligente veeras en sien ’n mens elke dier se unieke karakter raak wanneer jy met hulle werk. Dit maak dit maklik om met hulle te boer,” sê hy.

Gesogte kernwaardes

Die Boerbokras word al vir meer as 65 jaar deur streng seleksiekriteria verbeter, spesifiek met die doel om baie vrugbaar en gehard onder ekstensiewe en moeilike boerdery-omstandighede te wees. Die vyf ekonomies belangrike faktore wat tot die Boerbok se gewildheid as vleisbok bydra, is vrugbaarheid, goeie moedereienskappe, vinnige groei, gehardheid en aanpasbaarheid.

Johan streef nog al die jare na hoë doeltreffendheid, eerder as getalle, en sy passie vir dié ras lei hom om deurlopend die Boerbok se kernwaardes te verbeter en te versterk.

’n Kernwaarde wat die Boerbokras winsgewend maak, is hul aanpasbaarheid en gehardheid. Dit sneeu jaarliks op Grasrant en die somertemperature kan tot 46°C styg.

“Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op stoettelers se skouers om funksioneel doeltreffende diere beskikbaar te stel,” sê hy. “Dit kan slegs deur streng seleksieprosesse gebeur. ’n Ram wat byvoorbeeld nie sy 30 ooie in die veld kan dek en sy kondisie kan behou sonder duur byvoeding en ander insette nie, is beslis nie funksioneel doeltreffend nie.”

Iets wat hom bekommer, is die voorkoms van diere wat in die kraal gevoer word en as geweldige groot, spoggerige en aantreklike diere op veilings aangebied word. Dit word dikwels gedoen omdat telers aan kopers voorstel dat hulle liefs die bokke uit die veld moet hou om hul kondisie te behou.

Johan voel dat daar op dié wyse van ’n Boerbok se kernwaardes wegbeweeg word en dat dit ’n bedreiging vir die bedryf kan inhou. “Sulke diere gaan nie vir ’n ekstensiewe kommersiële boer, wie se vee op die veld met minimale insette moet presteer, werk nie.”

Goeie weidingsbestuur

Die plaas bestaan hoofsaaklik uit Karoo-bergveld en is in ’n moeilike gebied vir boer, met klimaatuiterstes en moeilike begaanbaarheid. Die weiding is tans redelik swak danksy ’n vier jaar lange droogte, maar ten spyte daarvan vaar die bokke, wat ver oor die kliprante moet trek, steeds baie goed. “As jy in ag neem dat ’n veeprodusent se primêre doelwit is om die maksimum kilogram vleis per hektaar met die laagste insetkoste te produseer, dan bring ’n Boerbok werklik sy kant.”

Verder pas Johan wisselweiding toe en goeie weidingsbestuur is die fondament waarop sy veeboerdery staan. “Ons is slegs rentmeesters van die Skepping en het ’n groot verantwoordelikheid om dit na die beste van ons vermoë te bestuur. Volgens holistiese bodembestuurkundiges soos Allan Savory en Johann Zietsman is die Karooveld ’n baie brose omgewing, wat ’n mens maklik met swak weidingspatrone sodanig kan beskadig dat dit nie in ons leeftyd sal herstel nie.”

Hy pas baie van Allan en Johann se beginsels toe as noodsaaklike bestuursmetodes omdat dit voordelig vir die veld is, droogtes dan makliker bestuur kan word en die veld se drakrag aansienlik verhoog word.

Die bokke het die vermoë om baie swak gehalte weiding in vleis te omskep en ’n wye verskeidenheid plantegroei te benut. “In Amerika is daar kleinskaalse Boerbokprodusente wat hul bokke uitverhuur vir onkruidbekamping. In Suid-Afrika is hulle waardevol in die sin dat die diere ook indringerplante soos katbos, sering-, olie-, wattel- en bloekombome, asook lantana, onder beheerde stelsels kan benut.”

Veiligehid en gesondheid

Johan sê Boerbokke loop graag rond, maar hy raai produsente aan om vanuit die staanspoor hul heinings ‘bok-dig’ te hou. Op Grasrant word die grensheinings en kampdrade gereeld in stand gehou om roofdiere te beheer.

Hy maak ’n punt daarvan om die bokke gereeld deur te gaan en vroegtydig aandag aan probleme te gee om verliese te bekamp, soos toe enkele bokke as gevolg van die Karooverlammingsbosluis wankelrig op hul bene was. “As die bokke nie dikwels onder oë was nie, sou ons hulle verloor het. Dit geld ook vir bokke wat soms beseer word, waar ’n doring in ’n kloutjie steek, of waar vrotpootjie of ander probleme kop uitsteek. So ’n bok bly vinnig agter in ’n trop en word gewoonlik deur ’n jakkals of rooikat gevang.”

Johan Steyn voer sy topgehalte Boerbokke na verskeie lande uit. Dié vrag van 50 Boerbokke word na Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate gestuur.

Die bokke voldoen danksy Johan se streng dieregesondheidsregime aan die nodige vereistes vir die lande waarheen hulle uitgevoer word. Daar is ook min probleme met siektes of parasiete. Die insetkoste wat hulle vir inentings, doserings en ontwurming benodig, is dus minimaal.

Twee lamseisoene

Die bokooie het ’n lente- en herfslamseisoen. Die voordele wat aan twee lamseisoene per jaar verbonde is, sluit in beter kontantvloei, ’n laer mortaliteitsyfer en minder druk op die hulpbronne in terme van arbeid danksy die hoë vlak van bestuur.

“Ons sal seker nooit regtig van roofdiere ontslae kan raak nie, maar ek vind danksy ’n lamhokstelsel dat die verhoogde bestuursinsette vrugte afwerp teenoor die groter verliese as gevolg van koue en roofdiere in die veld. Dit stel ons ook in staat om seker te maak dat die ooie voldoende melk produseer, dat die lammers binne die eerste uur of twee drink en dat daar nie ander gesondheidsprobleme is nie.”

Die lammers kry vroeg reeds kruipvoer om druk op die ooie en veld te verminder. Verlede jaar se boklammers is weens die droogte al op die ouderdom van nege weke gespeen.

Volgens Johan is die lammers wat op kruipvoer is minder geneig tot speenskok. “Ons gemiddelde lampersentasie die afgelope twaalf jaar was 187%, en in my lentelamseisoen van 2017 was dit 206%.”

Voordele van tegnologie

Hommeltuie is lankal nie meer ’n nuutjie in die Karoo nie, en Johan het sowat twee jaar gelede een aangeskaf. Hy sê dit het in die verlede maar moeilik gegaan om die bokke op een slag in die kliprante, diep klowe en valleie bymekaar te maak. “Dit is baie makliker en vinniger om die bokke nou met behulp van die hommeltuig op te spoor en bymekaar te maak.”

Kommunikasie en monitering word verder vergemaklik met die oprigting van selfoon- en WiFi-antennas, die gebruik van kameras en tweerigtingradio’s. Johan het ook onlangs ’n sonkragstelsel opgerig, wat die plaas in geheel van krag voorsien en onafhanklik van die Eskom-netwerk maak. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Johan Steyn by 072 594 4626, stuur ’n epos aan info@patriotboerbokke.co.za of besoek www.patriotboerbokke.co.za.