’n Boeredag wat op geenbewerking en bewaringsboerdery sal fokus, vind op 10 September op die plaas van Hendrik Odendaal in die Standerton-omgewing plaas. Die tegniese aanbieders van hierdie boeredag is die Argentynse landbounavorsingsinstansie, INTA.

Read it in English.

“Hendrik is reeds vir baie jare besig met geenbewerkingspraktyke en maak ook gebruik van Argentynse implemente in sy saaiboerdery. Dit is daarom gepas dat die boeredag op sy plaas gehou word,” sê Hendrik Jordaan , ‘n agribesigheidskonultant gebaseer in Argentinië, wat met die reëlings van die boeredag gemoeid is.

“Produksiemetodes en -omstandighede in Argentinië en Suid-Afrika stem baie ooreen, maar die skaal waarop saaiery in Argentinië bedryf word is geweldig groot. Verder is Argentinië al vir meer as 40 jaar met geenbewerking besig, en het hulle ’n redelike skat van ondervinding opgedoen wat hulle baie graag met ander wil deel. Die masjinerie wat hulle vir geenbewerkingspraktyke ontwerp het, praat ook met die heel beste in die wêreld saam sonder om die “hands on”-filosofie te verloor. Dit is die rede vir ’n Argentynse boeredag op Suid-Afrikaanse bodem,” verduidelik hy.

Voordele van geenbewerkingsplanters

Hernán Ferrari is ’n meganisasiespesialis wat aan INTA verbonde is. Volgens hom is een van die belangrikste implemente wat op die boeredag te siene sal wees, die reeks geenbewerkingsplanters.

Hernán Ferrari (middel), by mede-landbounavorser Juan Pablo Vélez van INTA (links) en Hendrik Jordaan (regs).

Hy sê die belangrikste aspek van ’n geenbewerkingsplanter is dat dit die enigste instrument is wat die grond binnedring. “Hierdie penetrasie is egter baie gering, deurdat ’n klein voortjie van net 2 tot 2,5cm wyd  gemaak word.

“Wat hierdie implement verder onderskei, is dat dit die organiese oorblyfsels van die vorige oes oopsny om by die grond uit te kom. Voor aan die planter is ‘n ronde ploegmes (coulter) gemonteer, wat die pad oopsny vir die planter wat direk agter die lem volg om die saad noukeurig te plaas.

“Ons praat dus van mikrobewerking, maar die bewerking is van so ’n aard dat die saad nie alleen in die grond geplaas word nie, maar dat die reënwater ook die grond maklik kan bereik. Die kapulêre uitwerking van die grondvog word egter nie onderbreek om by die saadpit uit te kom nie.”

Dieptebeheer en rywydte

Dieptebeheer tydens die plantproses is ’n noodsaaklike aspek van geenbewerking. Hiervoor word ‘n dieptewiel onder en ’n stel skokbrekers bo-op die planttrein gebruik. Die resultaat is dus ’n stabiele planter, wat beteken dat elke saadjie presies op die regte diepte en met die regte spasiëring geplaas word. Die bedekking van die saad word ook so gedoen dat waterpenetrasie geoptimaliseer word.

Geenbewerkingsplanters vernou die saadrye, maar vergroot die afstand tussen individuele sade om die sade so naby as moontlik in ‘n vierkant te plant. Dit veroorsaak beter verspreiding van mielieplante en ook die optimale gebruik van lug en voedingstowwe deur elke individuele mielieplant, terwyl dit kompetisie verminder. Die algemene rywydte in Argentinië is 52,5cm vir mielies, tussen 52,5 en 35cm vir soja en sowat 17cm vir kleingraan.

By geenbewerking is die verspreiding van die oesreste op die plek waar dit gesny is, ook van die uiterste belang. Dit is dus noodsaaklik dat die stroper korrek gestel is en die oesreste so wyd as die stroperkop uitsprei om dit te bewerkstellig. Die korrekte banddruk van die stroper is net so belangrik, sodat grondverdigting tot ’n minimum beperk word.

Alles is by geenbewerking daarop gerig om nie die grondstruktuur te versteur nie. Dit lei tot beter vogpenetrasie en soveel as 45% beter voghouvermoë, terwyl die voedingstowwe in die grond ook beter beskikbaar gestel word aan die plante. Soos wat die deklaag op die grond verbeter, verhoog dit die waterhouvermoë van die grond en verminder dit die gevaar van kompaksie deur verkeer op die grond.

’n Geenbewerkingsboeredag word op 10 September op Hendrik Odendaal se plaas, Holmdene, tussen Val en Villiers naby Standerton, gehou om Argentynse landboutegnologie en -masjinerie aan Suid-Afrikaanse boere bekend te stel. Verskeie implement- en tegnologievervaardigers sal hulle produkte uitstal. Hou die pers en sosiale media dop vir meer inligting.

Vir meer inligting, kontak Hendrik Jordaan by +54911 6274 5888 (WhatsApp of sel) of stuur ’n epos aan info@laurik.com.ar.