Bloubessies, soos talle ander bessies en neute, word as sogenaamde superkosse geklassifiseer. Dié bessies is ryk aan vitamiene C en K, mangaan en anti-oksidante. Veral laasgenoemde is baie voordelig vir bloeddrukregulering en daarmee saam verlaag dit ook ’n mens se kanse vir bloeddruk-verwante hartsiektes. Daar is ook verwantskappe met verhoogde breinfunksie en die vertraging van selverouderingsprosesse. Met so ’n hoë gesondheidswaarde, sou ’n mens verwag dat die mark dienooreenkomstig lyk.

Volgens die Internasionale Bloubessie-organisasie (IBO) is vanaf Januarie tot Oktober 2017 wêreldwyd ongeveer 655 000 ton bloubessies geproduseer, waarvan amper ’n driekwart in Amerika – spesifiek die Verenigde State van Amerika, Kanada en Chile – was.

Tradisioneel is die bloubessie ’n Noordelike Halfrond-gewas en is produksie hoofsaaklik daar gesetel. Chile is die grootste Suidelike Halfrond-produsent en verteenwoordig ongeveer 15% van die wêreldproduksie. Australië en Suid-Afrika verteenwoordig slegs 0,5% van die wêreldproduksie.

Om dit in perspektief te plaas, die plaaslike bloubessie-oes is gelykstaande aan slegs 1% van die plaaslike tafeldruifoes in terme van tonnemaat. Suid-Afrikaanse bloubessie-produksie is grotendeels gemik op die uitvoermark, juis om die tekorte van die noordelike seisoen aan te vul. Die plaaslike mark groei steeds teen ’n aansienlik tempo, veral namate  bloubessies meer bekostigbaar en al hoe gewilder by verbruikers word.

Bloubessies in Suid-Afrika

Rypwordende bloubessies.

Vroeë bloubessie-aanplantings in Suid-Afrika het hulle oorsprong hoofsaaklik vanaf die Amerikaanse variëteite. Hierdie bessies verskil van die Europese Vaccinium-spesies, hoofsaaklik wat betref hulle groeiwyse en bessievorm, vleis- of pulpkleur en smaakintensiteit.

Die Europese Vacciniums-spesie, waarna in Engels verwys word as “bilberries”, is kleiner plante, soortgelyk aan die lae-bos bloubessievariëteite. Die plant dra kleiner vrugte, maar die vrugte het ’n duidelike donkerpers tot byna swart kleur. ’n Duidelike verskil lê by die vleiskleur. Europese variëteite se vleiskleur is donkerpers, terwyl die Amerikaanse variëteite se vleiskleur baie lig is.

Onkundige verbruikers sien dikwels dié vleiskleur verkeerdelik as ’n negatiewe visuele gehaltefaktor, en kan dink sulke bessies is waterig of smaakloos. Dit is egter glad nie die geval nie.

Die groeiwyses van bloubessies

In Europa, veral in die Skandinawiese lande, kom bloubessies tipies in ryk, organiese en sanderige gronde in dennewoude voor. Bloubessies is meerjarige lae tot hoë struike en kan by ’n verskeidenheid van grondtoestande aanpas. Die plant verkies egter suurgronde, met ’n pH tussen 4,5 en 6.

’n Hoë organiese fraksie met goeie dreinering is baie belangrik, aangesien die plant se vlak wortelstelsel nie verdraagsaam is teenoor versuiptoestande nie. Besproeiing-skedulering moet dus baie fyn beplan word om die ideale vog-lug-verhouding te handhaaf. Waar dit in oop gronde geplant word, is dit wenslik om walle op te erd vir verbeterde dreinering, bestuur van die grondtemperatuur en vir gemak van bewerkingspraktyke soos snoei en oes.

Bloubessie-planttipes

Goeie vrugvorm.

Lae-boskruiper bloubessie-variëteite groei slegs so hoog as 10 tot 15cm en produseer klein, maar baie aromatiese, soet bessies. Hoë-bos bloubessie-variëteite, wat tipies kommersieel op groot skaal verbou word, lewer struike van een tot twee meter hoog. Selfs hoër plante kan ondersteun word, maar die geskiktheid vir bewerkingspraktyke en plantspasiëring moet in ag geneem word.

Hoë-bos variëteite produseer groter bessies en het dus ’n hoër produksiepotensiaal. Die produksievlakke is tussen 10 en 15 ton per hektaar, met produksievlakke van 20 ton per hektaar wat al aangeteken is in hoë-digtheid aanplantings. By die groter bessies kan smaak effens minder intens as dié van lae-bos variëteite wees. Dit onderstreep die belangrikheid van kundige ondersteuning en gepaste voedingspraktyke tydens produksie.

Voordele van hoë-bos variëteite sluit in die vermoë om by ’n Mediterreense klimaat aan te pas en die feit dat daar nie ’n groot behoefte aan winterkoue is nie. Dit maak dié variëteite uiters geskik vir verbouing in die meeste Suid-Afrikaanse toestande, veral ook waar tonnelproduksie toegepas word.

Plaaslike bloubessie-produksie word hoofsaaklik deur Amerikaans of Australiese variëteite gedomineer. Die Suid-Afrikaanse bedryf fokus primêr op lae-koue-behoefte kultivars soos vroeë Snowchaser & O’Neal, mid-seisoen Emerald en mid-tot-laat San Joaquin.

Die nuwe Australiese kultivars wat nou aangeplant word, sal hulself nog onder Suid-Afrikaanse toestande moet bewys. Inligting wat reeds beskikbaar is, lyk egter baie belowend. Hitte- en droogte-verdraagsame kultivars uit die Rabbiteye-groep is ook baie gewild, maar verg fyner bestuur wat bestuiwers betref.

Hoewel die meeste van die sogenaamde noordelike hoë-bos variëteite nie kruisbestuiwers benodig nie, verhoog goeie bestuiwingspraktyke beslis die produksiepotensiaal in terme van bessiegrootte, getalle per bos en dus tonnemaat per hektaar.

Aansienlike verskille bestaan met betrekking tot kultivars, produksiegebiede en die teenwoordigheid van ander natuurlike bestuiwers soos vlieë, brommers en hommelbye. In Suid-Afrika maak ons hoofsaaklik van heuningbye vir bestuiwing gebruik, wat weereens toegepaste bestuur onder tonnels verg. Bye kan veral onder bewolkte toestande temperamenteel in sulke strukture wees, wat tydelik tot swakker bestuiwing kan bydra.

Oop- of tonnelverbouing?

’n Mediterreense klimaat, tipies van die winterreënvalgebiede in die Suid-Kaap naby George en die Overberg, is baie geskik vir oop verbouing. Tog het baie produsente hier ook reeds gevind dat tonnelverbouing klimaatsvariasie verminder en dat verhoogde opbrengste onder meer gematigde bestuurspraktyke behaal word.

Veral die beperkende faktore van wind kan goed met tonnels uitgeskakel word. Die bestuur van humiditeit in tonnels is egter baie belangrik ten einde swamsiektes soos roes te voorkom.

Die belang van voeding

Ouer literatuur van die vroeë 2000’s maak melding van bloubessies se lae voedingsbehoeftes, maar tog is organiese voedingsryke gronde wenslik vir produksie. Dit is dus verstaanbaar dat aansienlike verwarring rondom hul voedingsbehoeftes bestaan. Bloubessies het sterk P- en K-behoeftes en waar grond se pH’s hoër is, ook hoër swaelbehoeftes.

Die belangrikheid van gereelde monsterneming (blare en grond) moet onderstreep word, ten einde die nodige aanvullings te maak. Waak teen veral oormatige N-bemesting, aangesien dit baie vegetatiewe plante tot gevolg het, wat nie noodwendig ’n swaar vrugdrag kan ondersteun nie.

Swak of slap plante breek maklik en verloor drahout, wat die langtermyn-produksiepotensiaal verlaag. Die vruggehalte kan ook ingeboet word waar te hoë N-vlakke gehandhaaf was. Hoewel tekorte van mikro-elemente min aangeteken word, is terugsterwing van groeipunte weens boortekorte algemener.

Dit is tog net natuurlik dat die voedingstowwe wat met ’n oes verwyder word dienooreenkomstig aangevul moet word, om te verseker dat plante nie die grond uitput nie en die gewenste produksiepotensiaal kan handhaaf.

Weens die tekorte aan organiese fraksies in baie Suid-Afrikaanse gronde word tonnel-bloubessies gereeld in sogenaamde potaanplantings gedoen. Sodanige mediums word pasgemaak en kan meer eenvormig en doelgerig bestuur word.

Peste en plae

Bolwurm larwe op bloubessieplant.

Die ou gesegde “Plant ’n gewas in ’n ry, en sy peste en plae kom” is ook waar vir bloubessies. Hoewel ongeveer 300 verskillende insekspesies op bloubessies aangeteken is, is slegs die volgende van primêre belang vir kommersiële produksie:

  • Knopmyte, wat veral blomknoppe affekteer en dus die vorming van bessies verhoed, snywurms, bolwurms en ander lepidoptera, veral van kort voor blom regdeur tot by vrugvorming, blaaspootjies in blom, bladspringers van blom tot blom, vrugtevlieë, plantluise, witvlieë, dopluise en verskeie snuitkewers of kalanders.
  • Blaarroes, spesifiek witroes, Alternaria sp en Septoria sp, kom algemeen onder vogtige toestande voor en moet voorkomend bestuur word om te verhoed dat produksie negatief beïnvloed word. Soos met enige plant, is ’n goeie, gesonde blaredak die kombuis wat die produksiepotensiaal bepaal en moet goeie bestuur toegepas word dit te verseker.
  • Bloubessies is vatbaar vir Phytophthora-wortelvrot en plant-parasitiese aalwurms. Hoewel aalwurmskade baie wisselvallig kan wees, kan gestresde plante meer vatbaar wees. Dolkaalwurm is ’n vektor van onder andere tamatie ringvlek-virus, wat ook op bloubessies voorkom en maklik met roes verwar kan word. Dus is goeie grondvoorbereiding of ’n analise van die medium waarin bessies geplant word belangrik. Veral waar herplant plaasvind, is dit wenslik om vooraf goeie grondontledings te doen.

Bloubessies verteenwoordig ’n baie goeie plaashek-inkomstepotensiaal, veral in die lig van ’n tekortkoming in produksie in die Suidelike Halfrond. Dit is egter ’n gewas wat aansienlike kapitaalinsette verg, veral met betrekking tot tonnelstrukture om die ideale mikroklimaat te skep en te bestuur.

Bloubessies is baie arbeidsintensief met betrekking tot oespraktyke en alhoewel meganiese oes ondersoek word, bly die bessiegehalte vir die vars mark die beste onder handoespraktyke.

Bloubessies moet bestuur en mee geboer word – doen dit dus reg van die begin af. Gepaste grondmediumontledings, grondvoorbereiding, kultivarkeuse, besproeiing, voeding en oesbeskerming met gereelde insette van kundiges, maar veral die boer se eie voete in die aanplanting, is kardinaal vir ’n suksesvolle boerdery. – Martin Wohlfarter, Laeveld Agrochem

Kontak gerus u naaste Laeveld Agrochem-agent vir ’n holistiese bloubessie-bestuursprogram, asook raad oor oesbeskerming en oesmaksimering. 

Besoek www.laeveld.co.za vir meer inligting.

Grootplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here