Die Ons Boere, Ons Inspirasie-projek is onlangs bekendgestel. Dit is GWK, Agri SA, Shell en SARIE-tydskrif se modeprojek 2018.

Die kern van die projek gaan oor die moderne boer, hoe hul boerderye in besighede verander het en so ook die styl van die mense wat dié besighede bedryf – van die tradisionele prentjie tot uiters moderne sakelui wie se klerekeuses beïnvloed word deur die nuutste handelsmerke en modeneigings.

In die November-uitgawe van SARIE-tydskrif word die regte storie van landbou en die mense daaragter vertel in ’n eksklusiewe tienblad-insetsel in die tydskrif. Die insetsel bestaan uit stylvolle foto’s van ons land se boere in die nuutste modes, hul unieke stories, die ontstaan van die projek en hoe dit gegroei het tot die produk wat van vandag af op die winkelrakke beskikbaar is.

 Hoe het die projek ontstaan?

Neil de Klerk, uitvoerende hoof van GWK Bemarking en Kommunikasie, vertel dat GWK se bemarking- en kommunikasiespan daagliks aan nuwe maniere dink om die Suid-Afrikaanse landboustorie aan die res van die land te vertel. By geleentheid het De Klerk en Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, gesels oor moontlike projekte wat die twee ondernemings saam kan aanpak, waar De Klerk die idee van mode-op-die-plaas met hom gedeel het.

Van Zyl was onmiddellik opgewonde oor die idee en het daarna met die span van SARIE gesels, wat ook dadelik van die idee gehou het. Nadat almal koppe bymekaargesit het, is die konsep van die modeprojek gebore. Dit is ook hier waar die vierde vennoot, Shell Downstream SA, by die projek aangesluit het.

“Die ervaring wat óns van boere het, is dat hulle moderne mense is,” sê De Klerk. “Hulle is mense wat ongelooflike goed vermag met die besighede wat hulle opgebou het. Dit is vir ons belangrik om die storie oor landbou rég te vertel en dit wat ons op plase sien, met mense te deel – hoe hulle lyk en wat hulle regkry.”

“Dit was natuurlik vir ons ’n groot voorreg dat SARIE hierby betrokke wou raak – ’n tydskrif wat volgens ons een van die bestes in die land is – en die gesprekke het vinnig gevorder tot bladsye wat in die tydskrif gepubliseer word,” sê De Klerk. “Ons was net so opgewonde toe Shell betrokke geraak het – ’n internasionale maatskappy met projekte wat die storie-agter-die-mens vertel. Dit skakel perfek in by ’n fokus op die mense wat agter die skerms werk om seker te maak dat ons almal iets het om te eet.”

Ander perspektief op boere

Van Zyl sê die projek plaas ’n ander perspektief op boere en die goeie goed wat hulle doen. “Agri SA is deel van die projek want daar is soveel negatiewe sentiment in die land en die ekonomie, en een van die goed wat ons wou doen, is om iets positief op die tafel sit. Shell en GWK is albei baie dinamiese organisasies wat ’n ander klem op landbou plaas. Saam het ons buite die boks gedink om die storie van boere op ’n ander manier te vertel.”

Anton Niemann, algemene bestuurder van Lubricant Sales by Shell Downstream SA, sê die projek is ’n bewys van Shell se toewyding aan die landbougemeenskap wat die lewensaar van ons ekonomie is. Hy noem ook dat Shell se mantra, “what matters is inside”, beteken dat hulle erken wat boere vir die land doen – dat hulle boere se trots, passie en professionaliteit raaksien en nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

“Die projek se boodskap is direk in lyn met ons visie om erkenning te gee aan hoe uiteenlopend, kleurryk en uniek Suid-Afrikaanse boere is,” sê Niemann. “Ons is geweldig opgewonde om in vennootskap met GWK, Agri SA en SARIE aan ’n projek te werk wat die geesdrif van Suid-Afrikaanse boere verkondig.”

Die boere wat aan hierdie projek deelgeneem het, is net ’n handjievol dinamiese mense wat die res van ons land se boere verteenwoordig. Vir GWK is dit ’n reusevoorreg om hierdie unieke projek aan die land bekend te stel, want ons boere is beslis ons inspirasie, sê De Klerk. – Persverklaring

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here