Boere hou ‘n geslaagde boeredag in die Noord-Kaap

0

Estimated reading time: 3 minutes

Boere in die Askham- en Noenieput-omgewing, noord van Upington, het ’n geslaagde boeredag saam met die jaarlikse Askham-Kalahari Meatmasterveiling aangebied. Verskeie kundiges het as sprekers opgetree.

Johan van den Berg, ’n onafhanklike weerkundige, het baie goeie nuus aan die boere gebring. Volgens sy voorspellings gaan Suid-Afrika in ’n nat siklus in en die boere kan vanaf Januarie volgende jaar goeie reën verwag. Vir die boere was dit uitstekende nuus, veral in ag genome dat die Kalahari vir die afgelope sewe jaar onder erge droogte gebuk gegaan het.

Dr Gerhard Verdoorn, ’n kenner op die gebied van chemiese gifstowwe en die impak wat dit op die natuur het, het op  sy beurt die boere gewaarsku oor die peste en plae wat hulle te wagte kan wees in die somermaande wat gaan volg. Volgens hom is die kanse baie goed dat boere weer ’n sprinkaanplaag kan gaan hê. As dit goed reën, kan ernstige dieresiektes soos Slenkdalkoors weer hul kop uitsteek. Dr Verdoorn se raad was dat boere vroegtydig moet optree om siektes in hul kuddes te voorkom.

Die derde spreker van die dag was dr Dries Lategan, ’n veearts van Upington en ’n kenner op die gebied van laparoskopie. Omdat meer kommersiële boere belangstel in laparoskopie ten einde ’n groter lammer-oes te verseker, het sy praatjie ook baie aandag getrek. Dit is veral noodsaaklik vir boere in die droogtegeteisterde gebiede waar hulle oor die laaste aantal jare kuddes moes verminder en nou in die proses is om kuddes te bou. Elke lam tel nou vir die skaapboere.

Die Meatmaster-veiling, wat ook as deel van die boeredag aangebied is, het goeie belangstelling gelok. Kopers kon virtueel ook op die diere, wat goeie pryse gehaal het, bie.

Die organiseerders van die boeredag is baie tevrede met die belangstelling wat die geleentheid gelok het. Daarbenewens was dit weer vir die boere uit die Kalahari ’n gulde geleentheid om vriendskapsbande opnuut vas te knoop. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Van die gaste wat by die Askham Boeredag betrokke was, is Jacques Roux, dr Dries Lategan en Jan van Wyk.
Jannie Moolman, Frederick Moolman en Japie Engelbrecht gesels oor die kanse dat die Kalahari in die komende reënseisoen goeie neerslae sal hê. Tydens die Askham Boeredag het Johan van den Berg aan die boere die goeie nuus gebring dat alle aanduidings daarop dui dat Suid-Afrika ’n nat siklus binnegaan.
Persone wat die Askham Boeredag bygewoon het, is Koos du Pisanie van Plaas Media, Willie Rossouw, Johan van den Berg en Nico de Wet.