Frans Wiid, nasionale skaapboer van die jaar vir 2017, het as deel van sy prys ’n baie geslaagde boeredag op sy plaas naby Hopetown aangebied. Sowat 200 mense het die verrigtinge bygewoon en verskeie sprekers het opgetree.

Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, het op die volhoubaarheid van wol- en vleisproduksie in Suid-Afrika gefokus. “Die ekonomiese klimaat lyk gunstig vir boere. In die rooivleisbedryf het boere deur ’n moeilike tyd gegaan en baie van hulle is tans nog besig met kuddebou, maar die pryse lyk goed,” sê hy.

Waardevolle lewenslesse

Pierre Vlok, areabestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging, het die boere moed ingepraat met lewenslesse wat hy oor die jare geleer het, terwyl Ulrich Muller van Voermol die praktiese aspekte van boerdery en die afronding van lammers in ’n voerkraal bespreek het.

Hendrik van Pletzen het oor die benutting van hulpbronne gesels. “Die ideale hulpbron wat ’n boer vir homself kan skep, is om sy eie weiding aan te plant. Strategiese byvoeding moet ook gegee word om ooie se doeltreffendheid te verbeter.”

Frans Wiidd met meer vertel oor sy boerderymetodes en slaggate waarin hy al getrap het. Volgens hom is roofdiere die grootste probleem in die skaapbedryf, want die kanse is skraal dat iemand sonder goeie beheer roofdiere gaan oorleef. – Koos du Pisanie