Boesmanlanders: Klein skape, hoë produksie

198
RSG Landbou
Jong Boesmanlander-ooie loop op twaalf maande reeds met hul eerste lammers. Die gemiddelde ooi se produksieleeftyd is agt jaar, waarin sy elke sewe maande een of meer lammers produseer.

Estimated reading time: 6 minutes

Die geykte spreekwoord lui: Gaan groot of gaan huis toe. Carel van der Merwe, ’n boer in die Vanwyksvlei-omgewing en eienaar van die oudste Boesmanlander-kudde in die land, beklemtoon egter die teenoorgestelde benadering wanneer dit kom by die liggaamsgrootte van teeldiere.

Carel van der Merwe boer met geharde en vrugbare Boesmanlanders in die droë Karoo. Met dié ras kan hy meer diere op sy grond aanhou en elke sewe maande ’n lampersentasie van tussen 125 en 140% haal.

Hy sê die droogte van die afgelope sewe jaar het weer bevestig dat dit beter is om met geharde en vrugbare kleinraamrasse te boer. “Alles gaan oor hoeveel kilogram vleis ek per hektaar met die minste koste en laagste risiko kan produseer.”

Sy pa, die bekende genetikus, dr Ronnie van der Merwe, het in die sewentigerjare al begin om die Boesmanlander-ras te ontwikkel en sedert 2005 het Carel en sy pa die ras nog meer verfyn.

Soms trek veeboere hul wenkbroue op as hulle Boesmanlanders sien, juis omdat dit so ’n klein skaap is. ’n Boesmanlander-ooi weeg maar 40 tot 42kg. Kyk jy egter na die lamsyfers en die getalle wat regdeur die jaar by die abattoir afgelaai word, met bykans geen afgradering nie, kyk jy met nuwe oë na hierdie besonderse ras.

’n Boer maak ’n plan

Skaapboere moet elke denkbare oplossing soek om die gereelde droogtes van die Noord-Kaap te trotseer. Tydens droogtes word kuddes gewoonlik verminder en daarná moet die lae getalle vinnig weer opgebou word, sodat die boerdery weer voluit kan funksioneer en voerrekeninge betaal kan word. Ná die afgelope sewe jaar se droogtes het sommige veeboere in die Van Wyksvlei-omgewing minder as 30% van hul kuddes oor.

In sy soeke na ’n geharde skaap wat selfonderhoudend onder strawwe omstandighede kan produseer, wou dr Ronnie van der Merwe ’n skaap teel wat in dié semi-woestyngebied teen ’n lae koste kan oorleef. Om maksimum vleis per hektaar in Karoo-omstandighede te produseer, is ’n geharde skaap met lae onderhoudskoste nodig. Dit is ’n skaap wat nie sensitief vir siektes is nie, nie ’n selektiewe vreter is nie en hoogs vrugbaar is.

’n Doeltreffende skaap moet alles gebruik wat die veld hom bied en hy moet min bestuur verg. Volgens Carel is die Boesmanlander tropgebonde en beter bestand teen virusse en bosluise, wat minder bestuur vereis.

Omdat die Boesmanlander ’n kleinraamras is wat min onderhoudkoste verg, kan jy meer skape op ’n plaas aanhou. En omdat hulle buitengewoon vrugbaar is, kan jy meer kilogramme vleis per hektaar produseer as met die meeste ander skaaprasse!

Gehardheid is die basis

Die eerste stap van rasontwikkeling was om die inheemse rasse wat bekend is vir hul gehardheid, te ondersoek. Die gehardheid en klein raam van die swartkop-Persie het hulle beïndruk. “Hoewel dit ’n geharde ras is, is hulle egter te vet vir ons mark se voorkeure en die vrugbaarheid om opbrengs na wense te maksimeer, het ontbreek.”

Die Van der Merwes het egter die Persie se oorbelaaide vetgeen nie net verdun met kruisteling nie, maar oor ’n tydperk van 45 jaar uitgeselekteer tot aanvaarbare vlakke.

Meer diere, minder weiding

Omdat die ras egter so klein is, moet ’n hoë opbrengs op ander maniere verkry word om die tonnemaat vleis te verseker.

“Dit beteken dat die ooi haar eie liggaamsgewig soveel keer as moontlik moet kan vervang met haar reproduksie in lamgewig. Dit is haalbaar wanneer ’n ras kort lamintervalle het deur nie seisoenaal te wees nie, geslagsrypheid vroeg bereik sodat ooitjies onder twaalf maande lam, meerlinge gee en ’n langer as normale produktiewe lewensverwagting het.

“Die wonderwerk is dat al hierdie produksie-eienskappe in een skaapras – die Boesmanlander – gevestig is. Vroeë geslagsrypheid is belangrik om in die kortste moontlike tyd jou kudde te bou ná ’n lang droogte,” vertel Carel.

Om hierdie vrugbaarheidseienskappe in te bring, het dr Van der Merwe na rasse soos die Finse Landras uit die Skandinawiese lande en selfs Rusland se besonder vrugbare Romanov-skaap gekyk. Dit was die Finse Landras wat uiteindelik die aandag getrek en sukses gebring het.

Bymekaarbring van genetika

Een van die probleme wat hulle ervaar het, is die feit dat Europese rasse seisoenaal gebonde is vanweë die koue winters. Hulle lam dus nie elke sewe maande nie, maar slegs een maal per jaar. Die Afrika-rasse en rasse uit die warmer dele van die wêreld is nie aan seisoene gebonde nie en lam heeljaar. Aan die positiewe kant kry Europese skape meer meerlinge as die Afrika-rasse.

Dit was egter nie so maklik om een eienskap uit te teel en ’n ander in te teel nie. Voordelige eienskappe is meermale aan nadelige eienskappe gekoppel. Dit was dus ’n geweldige uitdaging om die vrugbaarheid van die Skandinawiese rasse los te maak van die nadelige seisoenale eienskap. Dit was ook moeilik om die gehardheid van die inheemse rasse met die meerlingeienskap te koppel.

Wetenskaplike toeval

Met geduld oor die jare, wetenskaplike kennis van sy pa en “groot toeval”, soos Carel dit noem, het al die gunstige eienskappe in die Boesmanlander se gene saamgekom. Die kans dat so iets gebeur is baie skraal. “Die Boesmanlander is dus ’n wetenskaplike wonderwerk,” skerts Carel.

Nadat die goeie eienskappe van verskillende rasse in die Boesmanlander geneties verenig is, kon die ras met seleksie oor vier dekades verfyn word. “Vandag sit ons met ’n skaapras wat die swartkop-Persie se ewebeeld is, maar sonder onaanvaarbare vetbedekking. Hy het ook die Finse Landras se vrugbaarheid sonder seisoenaliteit geërf.

“Aan die begin was dit ’n redelike bont besigheid, maar oor veertig jaar het ons ’n eenvormige kleur gekry. Vandag het ons ’n trop gouekop- en swartkop-Boesmanlanders. Saam met hul genetiese ontwikkeling het seleksie op grond van markvoorkeure plaasgevind. Vandag gradeer die Boesmanlander beter as die meeste ander rasse in die abattoir,” vertel hy.

Die resultate

Hoewel die ras ’n ligter karkas van sowat 13 tot 15kg lewer, gee die Boesmanlander meer kilogramme vleis per hektaar as talle ander rasse.

“Onder normale omstandighede lam ons vervangingsooitjies op ouderdom twaalf maande. Elke sewe maande het ons ’n volle lamseisoen van tussen 125 en 140%,” sê hy. Boesmanlander-ooie se lewensproduksie strek met gemak tot agt jaar, teen 30% laer onderhoudskoste as tradisionele grootraamrasse.

Daar is egter ook ander faktore wat nie in ag geneem is nie, maar wat vir skaapboere belangrik is. Roofdiere bly een van hul grootste vyande. Verliese as gevolg van roofdiere is kleiner by Boesmanlanders as by grootraamrasse. ’n Vangs van 13kg uit 1 000 lammers kom neer op ’n baie kleiner verlies as een van 17kg uit 700 lammers op dieselfde grootte grond.

“Gevestigde persepsies in boerderypraktyke sowel as markvoorkeure verander stadig maar seker. Een van dié persepsies is dat die tonnemaat per hektaar wat deur klein skape gelewer word, meer as die tonnemaat uit grootraamdiere kan wees, maar ’n ton is ’n ton,” lag Carel.

Die wetenskaplike benadering agter die Boesmanlander-skaapboerdery kan dalk die hele appelkar omkeer en skaapboerdery in ’n meer ekonomiese rigting stuur – veral in Suid-Afrika se droë streke. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Lees ander artikels oor skaapboerdery.

Vir meer inligting, kontak Carel van der Merwe by 083 976 5307.

Boesmanlanders